Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-08-29 Views:  678
Author:  karelnel
Published in:  Interesting/Interessant
Nederlandse Pietdilemma

Nederlandse Pietdilemma

 

Hallo op ons voorlaaste middag uit Nederland..

Hierdie 5 weke vakansie was wonderlik en het eintlik gou omgegaan. Vandag weer vir 'n kort stappie (Nederlands: wandeling) met Guido in die pragtige strate van Haarlem gegaan. 'n Mondjievol oue kaas gekoop wat ek wil probeer saamsmokkel huistoe.
(Ek noem dit Nederlandse biltong)

Uit my tong-in-die-kies-gesprek oor die stinkrykes oftewel "rijke stinkers" het dit geblyk dat ek onwetend in 'n strik getrap het, oftewel my voet in my mond gesit het. Blykbaar gediskrimineer - maar darem nie teenoor die rykes nie.

Maar wel teen die Piete.

Ons Afrikaners ken mos Koos van der Merwe wat intussen in ons kinders se spreektaal Jan van der Merwe geword het. Toe ons in die army was het ons Kiepie ook leer ken. So-ook Piet, soos byvoorbeeld: "Julle Piete moet julle agterente roer" overgeset synde julle moet flippin vinnig beweeg.

Lyk my hier in Nederland is dit nou 'n piet, ek bedoel 'n perd, van 'n heel ander kleur. Want sien, vir eeue lank al kom Sinterklaas van Spanje af na Nederland so kort voor krismis. En omdat hier al die eeue so baie kinders was, moes die arme man natuurlik baie persente saambring. Dis hoekom hy 'n helper nodig gehad het - die vrolike en hulpvaardige kinderliefhebber swartpiet (De zwarte piet). Ek verneem die Nederlandse kinders was al die eeue gaande oor hom met die sak van persente. Ek verneem vroeer het hy selfs die taak gehad om kinders wat stout was te straf met 'n takkie van 'n boom, of deur te dreig om hulle na Spanje saam te neem! Volgens die beelde wat ek van die entiteit gesien het was dit meestal 'n mooi meisie of jongman, nouwel swart gegrimeer en met lekker oorbelle aan vir die effek en wat pret maak sovêr hulle gaan. Lekker en prettig!

Ek verneem nou dat daar 'n nuwe geslag Nederlanders - van binne die land of van buite die land, dit weet ek nie - opgestaan het wat nie meer vir Piet wil hê nie. Piet mag nie swart wees nie. Arme Piet. Hy moet, volgens my as buitestaander, nou teoreties juis 'n minderwaardigheidskompleks ontwikkel. Die geveg oor Piet se identiteit is glo tot in die Verenigde Nasies gevoer. Soos my ma sou sê: Bid jou dit aan! (Ek weet steeds nie mooi wat dit beteken het nie). Ek weet nie hoe gaan die slimme Hollanders by hierdie een verbykom nie. Gaan hulle 'n parlementêre besluit maak en Piet wetmatig ORANJE verklaar? Hoe verander mens 'n volk se eeue-oue kindersprokies?

Waar kom hierdie piet-beheptheid vandaan? As dit in Suid Afrika was, was dit maklik - dan was dit apartheid se skuld, want alles is mos apartheid se skuld. (Gelukkig tog dat ons so 'n sondebok het wat ons vir alles kan blameer). Maar hier in Nederland?? Is dit die geskiedenis oor slawerny of oor kolonialisme wat dit veroorsaak? Ek verstaan nog te min oor die psige van die mense hier om te weet. Al wat ek weet is dat as afrika NIE gekolonialiseer is nie sou dit veel slegter daaraan toe gewees het as vandag. Be real. Of miskien sou Afrika in een opsig beter daaraan toe gewees het - die bevolking sou heelwat kleiner gewees het.

Nietemin - pardon: toe ek in 'vorige facebook praatjie na "Piete" verwys het was daar geen sweem van diskriminasie in my gemoed nie. "Julle piete" in my konteks beteken bloot "julle ouens" en ek hoop nie een of ander feminis kruip nou uit sy of haar grot en sê nou weer ek diskrimineer teen vroue nie. Ek het nog nooit gehoor van "Pietinne" nie!

Gegroet uit Nederland.
K


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer