Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-09-03 Views:  579
Author:  karelnel
Published in:  Suggestion/Aanbeveling
Texelbos

Texelbos

 

Texelbos

Daar is duisend paadjies deur die bos. Dit hang van jou af hoeveel jy kan loop.

Hulle het tyd. Hulle is daar - miskien selfs dekades lank en wag om opnuut ontdek te word. Die lig syfer van wie-weet-waar af deur om die atmosfeer in 'n sagte, vriendelike liggroen te kleur, te midde van die regop gevlekte wit-en-swart stamme en donker skurwebas van die bosbome. Hier-en-daar breek die son skitterend deur die lower in die felste blink wat flikkerend verander soos die wind die blare roer en ligpatrone op die bosvloer laat dofglimmer.

Daar is duisend deuntjies is die bos - of is dit duisend tale?

Dit hang af van hoe jy luister. As jy op die vredesbankie gaan sit, maar jy moet baie baie stil gaan sit, en eers verby die Tenitis (hoe spel mens dit?) van jou alledaagse lewe kom, dan sal jy dalk dit hoor. Maar dis net 'n fluister. Dis kom van die duisende ritselliedjies wat deur die simfoniemeester op elke blaar van die bos deur die wind uitgespeel word.

Maar selfs op die prettige wandelpaadjies kom daar soms 'n vurk in die pad. Ek bedoel nie 'n afdraaipad nie. 'n Afdraaipad is genadig. By 'n afdraaipad kan jy besluit of jy van die roete wil afdraai op ' n ander koers. 'n Vurk is anders. Jy word geforseer tot 'n keuse. Jy moet of links of regs - of terug. As daar geen aaanwysig is nie - hoe kies jy? Is al die bestemmings van die bos maar dieselfde? Kom al die bospaadjies uiteindelik by dieselfde plek? Maak dit saak waar jy heengaan?

Ek hoor die duisend woorde maar verstaan die taal nie. Die ruising is oorbekend, maar die woorde maak ek nie uit nie. Die ruiseling klink net soos swanger vrae met antwoorde wat ek nie weet nie. Sal die klanke môre dieselde wees, of verander hulle elke dag? Praat die bos met elkeen dieselfde taal of verstaan hy die hart van elke reisiger op sy eie manier? Wie sê die bos swyg nie dalk as daar niemand is om te luister nie?

In die woud het ek selfs 'n boskabouter gesien. Met sy rooi punthoed lag hy vir jou as jy verbykom. In die klam skemer en selfs onder die druppende blare bly sy mond oopgesper in die lag - asof hy iets weet wat hy nie kan klaarkry om te sê nie. Hy bly net daar waar iemand hom kunstig uit die dennestomp gebeitel het om elke reisiger opnuut te begroet. Dit laat mens wonder hoeveel kabouters is daar in die bos? Kruip hulle nie dalk van lankal vir jou in die bos weg nie? Hoeveel van hulle loer nie dalk vir jou sonder dat jy hulle sien nie? Wie sê jy is alleen in die bos?

Daar is duisend vrae in die bos.

Elke tree is 'n vraag na waarvandaan en waarlangs jy kom. Elke draai in die pad is 'n vraag oor waarheen jy gaan. Elke blaargeritsel wil weet hoe gaan jy daar kom en elke sonvlek op die blaarbedekte grond vra hoekom? Die geure van die grond en die rooi van die bosbessies vra waar is hulle en hoe gaan dit met hulle en hoe sal dit môre wees? Uiteindelik laat die bos jou wonder wie jy werklik is?

Daar is duisend drome in die bos.

Of dit nou die fietspaadjies is of die perdepaadjies of die slinger voetpaadjies - elkeen is 'n droom. Elkeen is 'n eie uitnodiging na môre. Langs elkeen is daar 'n vredesbankie of 'n boskabouter of 'n afdraaipad - hoe sal jy weet? Maar drome is daar om gedroom te word, want drome is ons môres.

Toe ek die laaste maal uit die Texelbos na huis stap, toe weet ek..... Ekself is 'n bos met duisend paadjies en tienduisend bome.
---000---
KPJ Nel
2014-08-14

 


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer