Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2014-12-16 Views:  927
Author:  karelnel
Published in:  Religion/Geloof
Ismes En Geite Deel 2

Ismes en Geite – Deel 2

 

Hieronder , in leketaal, die verduideliking van 'n klompie filosofies-teologiese begrippe, uit verskeie bronne nageslaan.

Holistiese geneeskunde en – sielkunde:

‘n Herleefde antieke Egiptiese geloof wat die oorsaak van siektes  en persoonlikheidsafwykings sien as ‘n gebrek aan bewussyn van die eenheid met mens self, ander mense, die natuur en die “godsgees” wat alle dinge vervul.

Holisme:

‘n Filosofie wat verwant is aan mistisisme wat beweer dat Eenheid ‘n hoër bestaan het as, en apart van die som van die samestellende elemente

Humanisme:

Die ideologie wat beweer dat die mens die wese van hoogste waarde is in die heelal, en daarom die  senter en maat van alle dinge is. Rennaissance filosofiese houding teenoor mense en menslike aktiwiteit as ‘n uitdrukking van goddelike doelstelling.

Idealisme:

Die geloof dat idees ‘n bestaan het buite die menslike gemoed.

Ideologie:

‘n Menslike godsdiens met ‘n stel geloofswaarhede en passie vervleg , wat daarop gemik is om mense se hele lewenswyse te verander. ‘n Stel van geloofsaspekte of idees wat die waardes van ‘n bepaalde klas of groep van mense versterk.

Individualisme:

Die siening dat individuele regte en vryhede die basis moet vorm van die gemeenskap.

Induksie:

Trek van algemene afleidings van spesifieke getuienis. As sekere dinge in ’n spesfieke geval waar is, kan ons induseer dat dinge van dieselfde aard in die algemeen ook waar is.

Intensionaliteit:

Die houding wat mens met jou saam bring wanneer jy oor iets dink en wat jy oor die saak dink. Dws die verhouding tussen die ding waaroor jy dink en die manier waarop jy daaroor dink.

Irrasionalisme:

Is die filosofiese geloof wat meen dat realiteit slegs op nie-rasionele wyse gekontak word. Die werklikheid is bo-natuurlik, en daarom is ‘n nie-rasionele manier nodig om dit te  bereik

Kapitalisme:

Die ekonomiese praktyk van die produksie van goedere en om dit teen ‘n wins te verkoop.

Kastestelsel:

Die idee dat elkeen gebore word om ‘n sekere posisie in die samelewing te beklee.

Kategoriese imperatief:

‘n Morele wet wat waar is vir almal en die basis vorm van ons praktiese beredenering of morele  begrip.  (Kant)

Kollektiewe bewussyn:

Die stel van idees wat deur ‘n hele gemeenskap gedeel word wat dit moontlik maak vir individue om te kan kommunikeer en al die dinge doen wat hulle as lede van die gemeenskap doen. (Durkheim)

Kollektiewe onbewuste:

Die liggaam van simboliese en mistiese beelde wat van die vroeë mensdom ge-erf is wat mense in hulle onderbewuste gemoed het.

Kollektivisme:

Die teorie dat alle eiendom en alle sosiale-, ekonomiese en politieke mag deur die volk as ‘n kollektiewe groep besit en beheer word. Ook dat die stabiliteit van die gemeenskap meer belangrik as individuele regte en vryhede is.

 Kommunisme:

‘n Politieke filosofie gebaseer op Marksisme-Leninisme wat die konsep bevorder dat die gemeenskap ‘n primitiewe anarchistiese samelewing moet word.

Konseptualisme:

Die siening dat universele dinge bestaan as konsepte in die  gemoed.

Konsumpsionisme:

Die ekonomiese teorie dat individue persoonlike rykdom kan aanwend om persoonlike behoeftes te bevredig, sonder om medelye te hê met die behoeftes van die armes en hulpeloses.

Kontekstuele Teologie:

 Die teorie van Bybelse Interpretasie dat kultuur en Skrif relatief is. Om die Skrif te verstaan en toe te pas moet dit gesien word in die lig van ‘n nie-Bybelse sosiale ontleding.

Kosmogenie:

Die studie van die oorsprong van die wêreld.

 

Kosmologie:

Die studie van die natuur en die orde van die wêreld.

Liberalisme:

Soms ook genoem Modernisme of Neo-Protestantisme. Dit was ‘n ontwikkeling in Duitse teologiese denke wat ontstaan het in reaksie teen streng rasionalisme. Dit het fondasies gehad in Duitse idealisme, en het vertrou op die kritiese studies wat op die Skrifte uitgevoer is in daardie tyd, en het ook geglo dat wetenskaplike studie baie van die Skrif reeds ongeldig gemaak het. Die radikale verskil tussen verlorenes en gereddes is ontken. Die klassieke liberalisme is die filosofie wat leer dat elke individu inherent goed is, sekere inherente menseregte tot politieke en ekonomiese vryheid van Staatsbeheer  het, en dat die mensdom vorder deur neerdrukkende godsdienstige tradisies af te werp. Die geloof van sosiale vryheid en toleransie.

Libertarianisme:

Die ideologie wat glo dat die individu deur sy vrye wil die basiese  bousteen van die samelewing is, en dat elke individu vrygemaak moet word van die staat se ekonomiese en politieke reels.

Libertinisme:

 ‘n Panteistiese en antinomiaanse beweging wat vrye denke aanmoedig wat nie beperk word deur tradisie of absolute moraliteit nie.

Logosentrisme:

Die poging van filosofiese skrywes om betekenis voor te stel wat nie eenvoudig deur die teks weergegee word nie.

Machiavellianisme:

Beskrywe die brutaliteit en misleiding in politiek.

Makrokosmos:

Die wêreld as geheel verstaan as ‘n refleksie van die menslike liggaam.

Maltusianisme:

‘n Teorie wat, toegepas op ekonomie en bevolkingsgroei, leer dat geen kind gebore moet word, wat nie versorg kan word nie.

Marksisme:

Die ideologie, gebaseer op die teoriee van Marx en Engels, wat leer dat die gemeenskap is verdeel in twee opponerende sosiale klasse wat hulle stryd baser op die konsep dat verdelende sosiale strukture die bron van alle kwaad is. Filosofie gebaseer op die ekonomiese en politiese denke van Karl Marx wat sê dat idealogie afhang van produksiemiddele – of die manier waarop mense goed maak en gebruik.

Materialisme:

Die filosofie wat leer dat alleenlik materiële dinge werklik is en daarom geen gees, geestelike betekenis of waarheid bestaan nie. Bestaan is net materieel en om te weet en te ken is gevolge van  fisiese proses van sensasie in die gemoed.

Metafisika:

‘n Vertakking van filosofie wat die samestelling, werking en organisasie in die algemeen bestudeer. Verwys ook  meer spesifiek na aspekte van realiteit wat nie waargeneem of gemeet kan word nie.

Mikrokosmos:

Die individuele mens verstaan as ‘n afbeelding van die wêreld as geheel.

Militarisme:

Die leerstuk dat militêre mag absoluut is en dat dit gebruik kan word om enige sosiale of politieke probleem op te los.

Mistisisme:

Die hoër toewyding van die mens, wat hy verkry deur die grootste moontlike dissipline toe te pas teenoor die wêreld. Dit beur verby eksterne godsdiensvorme om ‘n direkte kennis van God te verkry, meer spesifiek deur gebed en meditasie.‘n Geloof dat god ‘n nie-persoonlike, universele gees is waarmee die mens deur ekstase, homself kan verenig om sodoende tot oneindige vereniging te promofeer. Die idee dat ons direkte ervaring van God kan hê. Dit kan kom deur drome, visies, meditasie of kunsbedryf.

Moksa:

Indiese filosofiese term wat beteken die verlossing van lyding.

Monargianisme:

Die dryf  in die vroeë kerk om die eenheid van die Godheid te bewaar.

Monastisisme:

Is ‘n algemene term vir die aflegging van die lewe in die wêreld vir die ideaal van onverdeelde toewyding aan God.

 

Monisme:

Die leerstuk van die eenheid van dinge - verwysende na hul oorsprong, hul wese of die manier waarop hulle geken kan word. Die leerstuk dat alle dinge net een oorsprong het is Teisme. Die natuurlike wêreld is alles verbind in een geheel.

Monofisitisme:

Die leerstuk wat hou dat die ge-inkarneerde Christus \net ‘n enkele, goddelike natuur gehad het, net beklee met menslike vlees.

Monoteisme:

Die geloof dat daar net een God is.Die geloof in een almagtige God.

Montanisme:

‘n Eindtydgerigte siening uit die  tweede eeu. Hulle het ‘n sterk geloof in die heilige Gees as Trooster gehad, en dat Hy Homself deur  profete openbaar en dat streng lewensstandaarde gehandhaaf moet word.

Naturalisme:

Dis die standpunt dat die hele heelal in terme van chemiese en fisiese wette verklaar kan word. Mense met hierdie siening is nie materialiste nie, want hulle erken die bestaan van nie-materiële elemente in die heelal.

Neo-Ortodoksie:

‘n Beweging wat ontstaan het as teenreaksie teen die godsdienstige liberalisme in die weste. Een van die oorsake hiervan is die feit dat die westerse mens geen outoriteit buite homself meer erken nie. Dit was ‘n teologiese renaissance waarin veral Karl Barth ‘n deurslaggewende rol gespeel het. Hulle verkondig die openbaring van God in Jesus Christus, maar glo nie soseer aan die letterlike inspirasie van die Woord nie. Die teologiese skool van denke dat die Bybel ten opsigte van geestelike waarhede onfeilbaar is, maar dat dit wetenskaplike onjuisthede bevat.

Neoplatonisme:

Kombinasievan Plato se lering en godsdienstige denke

Nestorianisme:

‘n Poging van die Biskop van Konstantinopel in 428 nC om dwalings te bestry. Dit handel oor die skeiding tusen die Goddelike en menslike nature van Jesus Christus.

Nihilisme:

‘n Teorie en persoonlike houding wat die bestaan van God ontken en wat derhalwe alle dinge toelaatbaar maak, selfs die vernietiging van norme en waardes.

Nirvana:

Buddhistiese term wat beteken die verlossing van lyding.

Nonkonformisme:

Die weiering om te bly by aanvaarde norme. So moet Christene nie gelykvormig aan die wêreld word nie, en hulle geloof en optredes en houdings behoort anders as die van die wêreld te wees. Dit kan ook beteken dat Christene nie saamstem met sekere gebruike van die kerk nie.

Novatianisme:

‘n Beweging wat gestig is deur Novatianus , wat  ‘n presbiter in Rome was. Die beweging het tot die sesde eeu bestaan, hoewel dit streng deur Konstantyn beveg is. Dit het daaroor gegaan dat Christene, wat die geloof verloën het onder vervolging en dan vir afgode ge-offer het, nie weer tot die kerk toegelaat sou word nie, al was hulle berou ook hoe opreg. Hoewel God hulle sou vergewe, moes die kerk nooit dit doen nie, en sulke mense permanent verwerp. Ander biskoppe soos Cyprianus in Carthage en Cornelius in Rome het wel sulke mense terug ontvang in die kerk.

Nuwe Era:

Kontemporere filosofie wat hoër geestelike bewussyn op ‘n globale skaal beklemtoon.

Objektiwiteit:

Die idee dat kennis nie persoonlike belange reflekteer nie,maar waar is vir elkeen.

Oedipus Kompleks:

In freud se sielkunde – die probleem wat ‘n jong seun beleef wanneer hulle in kompetisie  met hul vader voel vir hul moeder se liefde. Dit volhard in later lewe soms.

Ontologie:

Die studie van bestaan of om te wees. Wil weet wat ons bedoel wanneer ons sê iets bestaan.

Ortodoksie :

Die  woord beteken : Die regte geloof. Dit gee die idee weer dat sekere stellings die ge-openbaarde  waarheid-inhoud van die Christelike geloof akkuraat weergee, en dat dit daarom as norm vir die universele kerk gebruik behoort te word. Die woord kom nie in die Bybel voor nie, maar die begrip het  na die tweede eeu belangrik geword  toe die kerk met dwaalleringe begin worstel het. Aanvaarding van die waarhede was daarom ‘n voorvereiste vir toetrede tot die kerk en die nagmaal. Die Oosterse kerk beskou hulleself as ‘ortodoks’ en die westerse kerk dus as afwykend. Liberalistiese Protestantisme sien ortodoksie as ‘n wanopvatting en iets wat die kerk doodmaak.

Outentiekheid:

Die eksistensiële konsep van ‘n lewe lei op jou eie terme, en die weiering van  die aanvaarding van andere se aannames.

Panteisme:

Die godsdienstige of filosofiese standpunt wat die  heelal met God  identifiseer - God is die gemoed of siel van die univers. Die idee kom uit Indiese monistiese filosofieë. In moderne tye word dit vergestalt in die vorm van ‘n aanval op die karakter van God, asof Hy bo persoonlikheid verhewe is. Daar is in die Bybel ‘n duidelike onderskeid tussen die Skepper en Sy skepping. Die ideologie wat leer dat, omdat god alle dinge is en god se gees in alle dinge is, dat alles deel van die goddelike goddelike geheel is. Die geloof dat God in alle dinge is. Mense en die natuur is aspekte van God en het goddelike mag in hulleself.

Paradigmaskuif:

‘n Drastiese verandering in die manier waarop die menslike ras leef en dink as gevolg van ’n belangrike ontdekking of ontwikkeling.

Paradoks:

‘n Stelling wat twee idees bevat wat lyk of dit mekaar weerspreek.

Pasifisme:

Die geloof dat vrede die uiteindelike goeie is en dat die gebruik van geweld onder geen omstandighede geregverdig is nie.

Patriargie:

Die stelsel van denke en optrede wat vaderskap sien as ‘n spesiale bron van mag en gesag.

Pelagianisme:

Kom van Pelagius, ‘n Britse monnik wat in die jare 400 in Rome gepreek het. Hy het christene met lakse morele waardes, wat agter die  swakheid van die vlees geskuil het probeer aanmoedig deur te leer  dat niks wat God beveel het onmoontlik is om te onderhou vir die wat wil nie. Volgens hulle is die menslike natuur basies goed en kinders word onskuldig gebore. Die mens se wil is vry om sowel goed  of kwaad te kan kies. In hulle siening is redding nie nodig nie.

Piëtisme:

Kom uit Duitsland in die 17de eeu toe die nagevolge van die 30 jarige oorlog en ‘n starre ortodoksie die kerk van evangeliese lewenskrag beroof het. PJ Spener het vir herlewing begin werk met klem op informele byeenkomste vir gebed, Bybelstudie en die koestering van Christelike lewe. Die beweging is teengestaan deur die teologiese wêreld van die tyd, maar het later ‘n beduidende invloed uitgeoefen deur  die Morawiërs, Zinzendorf en John Wesley. Die dualistiese geloof dat alles buite die gemeenskap van die gelowiges die eiendom van Satan is en dat die redding van individue die enigste verantwoordelikheid van christene is.

Pluralisme:

Die siening dat die wêreld opgemaak is uit baie verskillende onafhanklike dinge.

Pragmatisme:

Die filosofie wat sê dat die betekenis van enigiets berus op die praktiese gevolge daarvan.

Predestinasie:

Die Calvinistiese geloof dat God voor tyd bepaal of  iemand hemel of hel toe sal gaan.

Progressiewe Skeppingsteorie:

Die leerstuk dat God die wêreld geskep het deur ‘n reeks van kreatiewe spronge van een orde na ‘n ander orde van skepsele.

Protestantisme:

‘n Term wat gebruik word om die sektor van die Christendom te beskrywe wat gepoog het om te hervorm volgens die Woord van God en gevolglik in die 16de eeu onttrek het  uit onderwerping aan die Pous. Hulle verklaar dat die Bybel die enigste en genoegsame boek wat nodig is vir die Christen.


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer