Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-09-24 Views:  1228
Author:  karelnel
Published in:  Recipe/Resepte
Adult Entertainment

Adult Entertainment

 

As mens die woord “adult” sien dan vermoed mens baiekeer onraad – hier is iets fieshie aan die gang. Is asof “adult” so ‘n bietjie van ‘n ander kleur gekry het as bloot net “grootmens”? So iets is natuurlik vir sommige ‘n onweerstaanbare aanmoediging dat mens verder ondersoek moet instel terwyl die synts onder ons terstond wegdraai en iets ligters opsoek. So ook met “Parental Guidance Advised”, of “Terms and Conditions apply”. Om nie eers te praat van 16VSNL nie! Nou ja – wees gewaarsku!

Ek het in ‘n vorige skrywe belowe dat as ek weer Namakwaland toe gaan, dan gaan ek op ‘n  tersiêre opleidings ekskursie – mens kan sê (vir die ingewydes), vir ‘n post-doc. Dit het inderdaad plaasgevind, en ek het reeds my eerste praktiese projek daarna met welslae afgehandel.

Dis natuurlik ‘n moewiese lang pad van die Magalies af tot by Springbok, maar in my betroubare 2.2 liter diesel het ek en vroulief dit van 4 uur in die more dit in een sitting reggekry – behalwe nou vir die ellendige  verkeerskonstabel ander kant Vryburg wat my vier honderd Rand gekos het vir ‘n skamele 15 kilometer per uur oorskreiding. Hoekom sou hy en sy ‘girl’ so skelm op my toeslaan juis toe ek begin vaak word het, en net besluit het om by Komtiekie ‘n bietjie op te fris?

Nietemin die opleidingsessie begin toe swaer Daantjie en ek ‘n draai ry na oom Boetie se plaas so vyf of ses kilo’s Suid van Springbok. Hy is die afval-man. Hy voorsien blykbaar afval wyd-en-syd. Lyk my hy koop by Namlam en die ander slagpale al die skaapafvalle op en dan het hy glo ‘n masjien wat dit skoonmaak. Jammer ek het nie gevra om die skoonmaakmasjien te sien nie. Netjiese plaaswerf met interessante Namakwaplante op die werf en ook interessante aalwyne wat die Antie in potte by die agterdeur geplant het. In ‘n buitegeboutjie staan die wit kistipe-vrieskaste met hulle kosbare inhoud: Ordentlike skaapafvalle! Ek verneem hy verskaf ook gereeld afvalle vir die skaapafvalgilde (of iets dergeliks) wat maandeliks ‘n afvalgala (of iets dergeliks) hou by die Springbok Lughawe (Eintlik seker vliegveld).

Ek het gedag Schoemansville slaghuis het goeie afvalle. Maar oom Boetie se afvalle is mineeere, wat Schoemansville se afvalle laat lyk soos die Springbokke toe hulle teen Japan gespeel het. Hulle het omtrent dubbel die gewig en net driekwart die prys. Hulle het nie net pensies en pootjies in nie, maar ook – en hier kom dit – die kop!! Of ten minste die dele van die kop wat saakmaak – als kliphard gevries, netjies verpak en nogal met ‘n lybel op wat sê wat alles daarin is. Well-done  oom Boetie! (Ek weet nie wat sal by  oom Boetie gebeur as Eskom hom nou rêrig in die steek laat nie!?)

My afvalle is toe vrieskas toe op die plaas, sodat dit goed behoue kon bly vir die reis terug transvaal toe, maar die twee wat  swaer Daantjie gekoop het is toe die volgende oggend pot toe. Ek het tevore reeds berig oor die kook van gewone afval en gaan dit nie hier herhaal nie. Hier gaan dit nou oor die spesialisopleiding : Die kop.

Lyk my hy verkoop die kop in twee konfigurasies, maar ek kon dit nognie bevestig nie. Een konfigurasie bevat blykbaar meer van die neus as die ander. Kom ons noem dit Rev 0. Rev 1 is dieselfde, maar net ‘n deel van die neus is afgekap. Mens kan wonder hoekom. Daantjie het twee van die Rev 1’s deurnag in die soutwater/ asynwater laat lê sodat die reinigende en  smaakgewende kragte daarvan die diepste geheimenisse van die skaapskedel kon deurdring. Growwe sout en bruin asyn.

Nou bestaan die skaapkopstelsel uit verskillende saamstellende en ge-integreerde dele: Die onderste kaak (met tanne en al) met die tong en wangvleise. Die bo-kop met ‘n baie komplekse geometrie waarin allerhande sappige vleise versteek is. Aangeheg is die kopvel, die komplekse oogweefsels en les bes in die binnekop – die harsings.

Daar is seker baie gaarmaakopsies. Een daarvan is in die oond. My oupa-hulle het dit destyds in  bruinpapier toegedraai en die hele kop vir ‘n laaaaang tyd in die oond gesit – natuurlik reeds besout- en bepeper. Mens sou seker vandag foelie of ‘n baksakkie kon probeer. Mens lees ook van dit onder die kole begrawe, maar daarvoor het mens  seker ‘n nog meer gevorderde opleidingskursus nodig.

Swaer Daantjie, as ervare   ex-boorman, kies toe die maklike opsie. Hy maak dit met die afval gaar (blykbaar as mens haastig is kan jy ‘n stoompot ook gebruik), en daarna kry die koppe ‘n skrikmaker in die oond – natuurlik reeds tevore besout en bepeper, met ‘n knypie kerrie en naeltjies in die gaarmaakbredie.

Nou-ja, ek en jy en al die ander konnoiseurs weet dat pensies en pootjies is flippen lekker – maar dit kom nie  by skaapkop nie. Daar is ‘n kwantumsprong verskil. Nee – my kop het my nie gelos nie, dis die skaapkop wat mens nie kan los nie, as jy hom eers geproe het. (Saam met stampmielies). Eers die tong en verwante weefsels : greinerige bruin vleisie met ‘n wonderlike kenmerkende smaak wat jou laat wens ‘n skaap het twee tonge gehad. Dan die wangvelle en kopvel, miskien effens  krispie gebraai van die oond – baie beter as enige pakkietjips wat jy kan koop. Dan die komplekse skedelgeometrie ondersoek en die vleisies uitgrawe met ‘n vurk daar waar hulle ookal wegkruip.  Daar is netnie nog soiets nie!

By die oogweefsel is die plek waar die mans van die seuns geskei word. My pa was ‘n bul van ‘n man, maar selfs hy het nie dit in hom gehad om die transisie te maak na die status van ‘n ‘oog-eter’ nie. Hy het gesê die oog loer altyd vir hom – maar mens moet een of ander tyd daai soort van bygelowe ontgroei en klinies oor die saak dink. Die oogweefsel is ‘n baie gespesialiseerde vorm van protein wat mens nie durf mors nie!! Om die waarheid te sê dit grens aan domheid om dit te mors, want dit is  ‘n delikatessen paar exssillaans. Ek wonder hoekom niemand nog daaraan gedink het om dit as ‘n ‘hors de oewer’ aan te bied nie? Dis nou vlippen lekker – met ‘n o.

Oor die harsings wil ek nie nou praat nie, miskien anderdag by ‘n meer voorbereide en gesofistikeerde  gehoor. Genoeg om te sê hulle sal nooit die werking van die  harsings verstaan nie. Dieselfde geld vir die fisiologiese, psigologiese, gastronomiese en ander waardes daarvan as jy dit met ‘n teelepel met jouself assimileer (mens eet dit nie doodgewoon nie)

Indien daar enigeen in hierdie uitgelese gehoor is, wat hierdie stuk lees en ‘n snars daarvan verstaan, en hunker na die dieper geheime van skaapafval – kontak my asseblief. Dan maak ons ‘n afvalpotjie. Ek het (vir ‘n tydjie) Rev 0’s en Rev 1’s by my beskikbaar. Daarna moet ons dalk daaraan dink om oom Boetie op lyn te kry.

Groete

K

---000---

 

2015-09-24

 


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer