Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-09-25 Views:  689
Author:  karelnel
Published in:  Interesting/Interessant
Goliat

Goliat

Oom Ben het op ‘n dag ‘n interessante preek gehad, waarvan ek, na jare, nog gedeeltes kan onthou. Hy het gevra hoekom ‘n mens, as jy ‘n Bybelverhaal lees, jou dadelik met die held van die storie vereenselwig? Wie sal nou met die Farao vereenselwig en nie intuitief met Moses nie, byvoorbeeld?

Ek het dit op ‘n dag anders verwoord  gesien: “There are two kinds of people  – the righteous and the unrighteous. And the  righteous do the dividing...” Ek meen – die slegste mafia sondaar-karakter byvoorbeeld voel tog seker, ten spyte van alles is ek nie regtig so sleg nie!? (Anders sal hy mos nie aanhou doen wat hy doen nie?)

Die afgelope jaar of so was daar ‘n taamlike gedruis en kruisbesmetting op die pseude-apokaliptiese-christelik-joodse-godsdiensfront. Vandat die storie bekend geraak het van die   reeks van vier  bloedmane en die sabbatsjaar en jubeljaar wat almal in September 2015 plaasvind het talle  op die (sous-?) trein geklim en left-right-en-senter voorspooksels begin uitdink en opdis – tot selfs van die  reuse meteoriet wat die aarde hier aan die einde van September gaan tref. En vir  dit alles en nog wat kry die arme Bybel die skuld – selfs tot vir die stommiteit dat daar nog vandag mense is wat voet-by-stuk hou: Die aarde is plat!! Soos my ma sou gesê het: Bid jou dit aan! Skies – my ma het ook gesê mens spot nie met siekte nie.

Winston Churchill het ‘n interessante ding gesê: “First we shape our systems, then they shape us”. Dis nog meer waar oor ons teologie.  Almal bou vir hulle (bewustelik of onbewustelik) ‘n wêreldbeeld (worldview)  - sommige met die Bybel en sommige daarsonder – en dan  verbeel ons ons dis hoe die werklikheid is, en leef dan daarvolgens. As mens se wêreldbeeld dan nie realiseer wanneer dit moet nie, is die gevolg iets wat mens noem “ontnugtering”.

Dis darem nou al diep in September en die meteoriet het nognie opgedaag nie en die wereld draai nog normaal om sy as sodat die son steeds Oos opkom en Wes ondergaan. (Op ‘n plat aarde sal hy mos dieselfde tyd oral opkom en ondergaan, nie waar nie??) Ja – die midde-ooste is in chaos en Islam maak amok en derduisende vlugtelinge sak op Europa toe. Selfs die geldmarkte dreig om ineen te stort en siektes en honger maak duisende mense dood. Maar dit lyk nie vir my of die einde van die wereldgeskiedenis aangebreek het nie. So ek verwag dat sodra Oktober aanbreek die eerlike ontnugterdes sal skaam voel en hopenlik iets leer uit die proses waardeur hulle as  ‘suckers’ uitgevang is. En die oneerlike ontnugterdes? Hulle sal dalk ook bietjie skaam kry maar dit of gerieflikheidhalwe probeer ignoreer of ‘n rede vind waarom dit nie gebeur het nie.

Maar dalk is hulle tog reg. Dalk het die wereld tog vergaan, en wel op  19 September 2015 toe die “magtige” Bokke in die stof gebyt het teen die klein mannetjies. Ons wereld het vergaan, verdamp, verdwyn, verbrand, ingeplof. Die laaste vesting wat ons gedink het nog orraait was lê in ruines. Dis soos oordeelsdag.

Maar, aan die ander kant – dalk is dit tog nie so erg nie. In daai geval – nou weet ons hoe moes arme Goliat gevoel het...!!!

 

---000---

KPJ Nel

2015-09-25

 


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer