Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-09-28 Views:  723
Author:  karelnel
Published in:  Interesting/Interessant
Die Groot Vaait

Die Groot Vaait

Dit het in die tyd van die diamantdelwers daar by Douglas rond, êrens langs die Vaalrivier gebeur – sowaar as parramanêldra. My swaer Daantjie het dit self gehoor en vir my vertel want hy het  lank in daai omgewing geboor en al die ou dae se stories beluister.

Dit word vertel van die twee broers wat langs die Vaal spoeldiamante gedelf het – met pikke en grawe en siwwe en dies meer, maar die “skaapkop” (*) het hulle bly ontwyk. Elke maand kon hulle, met groot moeite net daarin slaag om  ‘n klein handjievol klein klippies in ‘n twaksakkie te sit as beloning vir die urelange moeisame rugbreekwerk.

Klaarblyklik het DeBeers êrens langs die Vaal ‘n soort van ‘n handelspossie gestig met ‘n kantoor waar die delwers hulle fondse kon kom inruil vir geld. Soos mens kan verwag was daar gou-gou ook ‘n winkeltjie, miskien ook ‘n paar huise en les-bes, ‘n kroeg vir die dors.

An die einde van elke maand het onse twee broers blykbaar omtrent alles wat hulle besit op hulle een of twee donkies gepak en koersgevat om  die vrug van hulle arbeid te gaan verkwansel. Daar is die klein klippies op ‘n skaaltjie geweeg, noukeurig in ‘n grootboek opgeteken en  die vars note is aan hulle uitgekeer. Dis dan wat die sports altyd begin het.

Eers is hulle winkeltjie toe om ‘n maand se voorraad kossies te koop, koffie, bietjie twak en dalk ‘n nuwe pik of graaf of iets dergeliks. Dan was daar darem nog ietsie oor, en daarmee het hulle die  lafenissie by die kroeg gaan opsoek. Dit was nou vir jou ‘n jolliepatrollie wat mens jou seker nie kan voorstel nie, maar daar word berig dat daar telkemale na ‘n verloop van tyd, gevegte uitgebreek het. Eers seker tussen ander delwers, dan tussen onse broers  en die ander delwers maar – helaas -  uiteindelik tussen onse broers. ‘n Mens kan jou indink – teen Maandagoggend was hulle seker fisies, emosioneel, psigologies en finansieël verwond en spreekwoordelik “plat op die aarde”.

Dan het hulle maar weer alles wat hulle het gedweë op die donkies gepak en die lang pad stilswyend aangedurf na hulle delfplek toe. So het die gebeurtenisse hulleself maandeliks herhaal – seker net met klein variasies op die tema. Tot eendag....!

Ek weet nie of dit op die sif was, of in die waspan nie – maar daar lê die grote! Nou wel nie ‘n skaapkop nie, maar darem  omtrent ‘n duifeier – so word vertel. Mens kan jou seker nie die vreugde en ander emosies voorstel nie. Dit het hulle egter dadelik genoop om sommer daar in die middel van die maand goedjies op te pak en te versit kantoor toe – die een broer vooraan die donkies en die ander broer agter die donkies met die fonds veilig in die twaksakkie gebêre.

Dit was seker so halfpad dat dit gebeur het. Toe broer nommer een omkyk is hy net betyds om te sien hoe broer nommer twee die twaksakkie met diamant-en-al diep inslinger tot in die middel van die Vaal. Soos my ma sou gesê het  - bid jou dit aan!

Broer nommer een skreeu toe vir broer nommer twee en vra hom in sy beste delwerstaal wat vir ‘n skaapkopagtige ding hy sopas gedoen het. Dié reken toe so: Hulle het mos al gesien watter gevegte die klein diamantjies veroorsaak het, en daarom kon hulle nie verder die kans vat met hierdie grote nie! Vêrsiende nê?

---000---

KPJ Nel

2015-09-28

 

(*) Die “skaapkop” was ‘n legendariese deel van ‘n diamant wat nog gevind moes word en dit was die grootste wens van almal om dit te vind.


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer