Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2014-12-16 Views:  974
Author:  karelnel
Published in:  Religion/Geloof
Ismes En Geite Deel 3

Ismes en Geite – Deel 3

Baiekeer lees mens teologiese  of filosofiese terme raak wat jy nie verstaan nie. Hieronder is deel drie van 'n lys wat uit talle bronne versamel is.

Puritanisme:

Die  bynaam is in 1564 geskep om lede van die kerk van Engeland te beskrywe wat ‘n meer  grondige  hervorming van die kerk se aanbidding en orde wou hê. Hulle het bygelowige aksies en sermonies aangeval asook die kerk se hieragiese organisasie. Hulle ontwikkel ‘n ryk kultuur en edel tradisie van morele en pastorale teologie wat 18de eeuse Evangeliese bewegings in Brittanje geinspireer het.

Quietisme:

Hierdie siening uit 17de eeuse Frankryk het totale passiwiteit waarin die wil vernietig word  voorgestaan, tot so ‘n mate dat daar geen begeerte oorbly nie, selfs nie vir God of redding nie, maar die gelowige totaal deur God Self vervul sou word. Om dit te bereik is ‘n proses van gebed  gebruik gemik op perfekte rus in die teenwoordigheid van God. Alle werke is beskou as futiel en skadelik. Hulle het die posisie gehandhaaf dat wanneer volslae passiwiteit bereik is, dan is sonde onmoontlik. Madame Guyon was ‘n voorstaander hiervan.

Rasionalisme:

Dit is die  uitgangspunt dat die menslike redenasievermoë sy eie hoogste gesag is en voldoende is  om alle probleme op te los wat verband hou met die mens se  aard en lotsbestemming. In die filosofie was die standpunt tydelik gehuldig dat die rede, sonder die bydrae van die sintuie, die bron van alle menslike kennis is. Empiriese rasionalisme (met die hulp van sensoriese data) het hierdie vorige siening vervang, en hulle beklemtoon die belangrikheid van sensoriese data in die bevestiging van die waarheid. In die teologie beteken dit dat die mens se rede eksklusief gebruik word om geloof te formuleer, met geen plek vir gesag of openbaring nie. Dit neem die vorm van liberalisme, humanisme of agnostisisme. Die filosofie dat die mens se rede objektiewe waarheid kan ontdek en wat beweer dat niks buite hierdie wêreld ontdek kan word nie. Die epistomologiese posisie dat mens kennis kan hê sonder ondervinding.

Rassisme:

Die ideologie wat beweer dat ‘n sekere ras van mense meer ontwikkeld en meer geestelik-bewus as ander rasse is.

Realisme:

Die geloof dat universele dinge, of idees oor realiteit in werklikheid buite die gedagtewêreld bestaan.

Reinkarnasie:

‘n Belangrike leerstuk van die Hinoeisme wat leer dat fisiese dinge ontwikkel het vanaf suiwer geestelike eenheid en dat dit terugontwikkel daarheen.

Relativisme:

Die idee dat goed en sleg nie universeel waar is nie, maar verskillend kan wees in verskillende samelewings, dws goed en sleg moet verstaan word relatief tot die manier waarop die samelewing werk.

Revolusionêre Humanisme:

Die vorm van humanisme wat leer dat die gemeenskap kan regverdig word deur die revolusionêre vervanging van verdelende sosiale strukture deur verenigende gemeenskaplike strukture.

Sabbatarianisme:

Handel oor die gedwonge sabbatsrus wat deur Konstantyn se regulasies teen Sondag werk ingestel is in 321nC asook deur Charlemange in 789. Hoewel Luther dit verwerp het het die Puriteine dit in Engeland se omvattede sabbatswetgewing van 1677 vervat. Sekere splintergroepe het ook gepoog op Judaistiese sabbatarianisme te laat herleef, hoewel dit reeds in 107 deur Ignatius verwerp is, en in 343 deur die Konsillie van Laodicea veroordeel is. Dit het egter weer herleef by sekere post-hervormings bewegings soos die Sewende dag Baptiste(1671)  en die Sewende dagse Adventiste (1845).

Sabellianisme:

Kom van die derde eeuse Sabellius wat geleer het dat die drie Persone van die Drie-eenheid gereduseer het tot drie karakters of modusse of verhoudings wat die Godheid aanneem vir die doel van kommunikasie met mense. God is dus universeel en ewig net Een, maar vir die doel van kommunikasie met mense neem Hy die vorme van Vader , Seun en Heilige Gees aan. Hierdie siening was veroordeel by die konsillie in Rome in 263.

Satanisme:

Die aanbidding van Lucifer as die hoogste vorm van intelligensie in die heelal.

Skolastisisme:

Handel oor die middeleeuse gebruik van metodes waarmee  leerstellinge van geopenbaarde waarheid verduidelik en sistematiseer word deur middel van filosofiese konsepte. Middeleeuse filosofie gebaseer op Aristoteles se  logika. Dit het  berug geraak daarvoor at dit op irrelevante vrae  gefokus het, maar dit het uiteindelik gelei tot ‘n meer wetenskaplike wêreldbeskouing.

Sekulêre Humanisme:

‘n Ideologie wat die wat ‘n persoonlike verhouding met God ontken en wat leer dat die mens uit eie vrye wil optree en ook daarvoor verantwoordelik is.

Sekularisme:

Die term is aanvanklik gebruik vir ‘n beskouing in die 1800’s dat die mens homself kan verbeter sonder die hulp van godsdiens of teologie, as ‘n reaksie teen die beheer van menslike lewe deur die kerk. Vandag is sekularisme eerder die integrasie van mense se lewens rondom die gangbare gees van die tyd, as rondom God. Dit verteenwoordig ‘n lewe waar die materiële lewe  alomvatted is, en God nie bestaan nie. Hierdie filosofie is aangehelp deur die sg wetenskaplike wêreldsiening. Dit is prakties gespropke ateisme. Dit is ‘n lewenshouding waar mense hulle hele lewe leef asof God gladnie bestaan nie. ‘n Vorm van praktiese ateisme wat alle godsdienstige en geestelike konsepte wat die mens teenstaan sodat hy leef asof geen God bestaan nie.

Selfverlossing:

Die leerstuk wat leer dat die mens homself kan red en genees deur holistiese medisyne en –sielkunde, transedentale meditasie en ander humanistiese metodes.

Selfopenbaring:

Die leerstuk wat leer dat daar geen waarheid is, behalwe dit wat afgelei word van die mens se eie rede en ondervinding nie.

Skeptisisme:

Die siening dat ons nie seker kan wees van enigiets nie. Dit kom van die antieke Grieks wat beteken “om te soek”.

Sinkretisme:

‘n Proses waardeur elemente van een godsdiens of ideologie verweef word in ‘n ander godsdiens of ideologie sodat, deur oorerding en subversie, die basiese beginsels van die laasgenoemde godsdiens of ideologie verander word.

Sosialisme:

‘n Ideologie wat leer dat die gemeenskap moreel, polities en ekonomies getransformeer moet word deur die proses van wegruiming van  private eienaarskap en die produksiemiddele onder die beheer van die gemeenskap te bring  om so ‘n utopia te skep.

Sosialistiese demokrasie:

Die politieke stelsel gebaseer op demokrasie met sosialisme as die staat se amptelike filosofie.

Socianisme:

Vernoem na Fausto Sozzini (1539-1604) en is ‘n afwyking  binne die Protestantisme. Hy verwerp die volle Goddelikheid van Christus, uitverkiesing, oorspronklike sonde, versoening deur substitusie en versoening deur die geloof. Hy glo aan regverdiging deur werke. Die siening het steun gekry in Poland, Nederlande en Engeland.

Spiritualisme, Spiritisme:

Dit is die leerstellings van ‘n afwykende groep wat vertroosting en geestelike leiding soek van gestorwe mense deur middel van mediums. Die Spiritualistiese kerk ontken die val, die versoening deur Christus en die opstanding. Die mens verbeter deur goeie werke. Hulle glo Bybelse profete was mediums, met Jesus die grootste van almal. Dit word  veroordeel deur die Bybel.

Statisme:

Die politieke teorie wat beweer dat die sentrale regering die enigste gesaghebbende regering is en die reg het om in enige sfeer van die lewe in te meng.

Stoisisme:

‘n Hellenistiese filosofie deur Zeno in die 3de eeu voor Christus wat emosionele losmaking van die werking van die noodlot beklemtoon.

Strukturalisme:

Die taalkundige en antropologiese teorie dat verskillende aspekte van die denkproses, taal en kultuur met mekaar verwant is.

Subjektiwiteit:

Die idee dat kennis spruit uit persoonlike eienskappe en situasies.

Tao:

‘n Chinese woord wat beteken “pad” of “weg”

Teisme:

Dit is die geloof in enige god of gode. Dit sluit dus deisme, panteisme, politeisme , animisme ens in. Christelike teisme beperk die geloof egter tot die Judeo-Christelike openbaring van God, soos vervat in die Bybel en sluit dus sekere sienings uit.

Teistiese Evolusie:

Die sinkretistiese teorie dat god die wêreld geskep het deur die geleidelike proses van evolusie.

Teleleogie:

Die studie van die doel van dinge. Dit kom van die antieke Griekse woord: Telos wat “einde” of “voltooiing” beteken. Die studie is gediskrediteer deur moderne wetenskaplikes.

Teosofie:

Die term beteken : God-wysheid. Die verkryging van wysheid vind plaas deurdat die teosoof terugtrek in die  geestelike liggaam om daar die antwoord op lewensgeheime van geeste of ge-reinkarneerde leiers te kry. Die ervaringe van redding is afhanklik van kennis wat verkry word  van die geestelike wêreld af in ‘n spesiale manier, direk vanaf die geestelike wêreld of deur  gereinkarneerde  leraars. Die inkarnasie van die opperleraar is ‘n christus.

Totalitarianisme:

Die sosio-politieke teorie dat die totale lewens van elke individu deur ‘n absoluut magtige staat beheer moet word.

Traktarianisme:

‘n Beweging wat in 1833 geloods is deur die publikasie van ‘n reeks traktate deur die Oxford Movement. Hulle was ontevrede met die rasionalisme, wêreldsgesindheid en oneffektiwiteit van die geestelikes. Dit kulmineer in traktaat 90 deur Newman in 1841 wat ‘n terugkeer na voor-Hervorming tradisies gebruike aanmoedig. Hy is in 1845 weer terug na die Roomse kerk.

Transdusianisme:

Dit is die siening dat die siel en die liggaam van die mens afkomstig is van sy ouers.

Transedentalisme:

Word oor die algemeen gebruik om alle objektiewe idealiste aan te dui.

Transidensie:

Buite ondervinding. Die idealiste het geglo dat mens ‘n transendente begrip kan hê van ‘n verenigde realiteit.

Transedentale Meditasie:

‘n Vorm van liturgiese aktiwiteit van die oosterse Hindoegeloof wat leer dat mens se redding plaasvind deur die toegewyde gebruik van mantra-joga. (d.i. om mens te verenig met die eenheid van die heelal)

Unitarianisme:

‘n Dwaling uit die vroeë vierde eeu, toe Arius, die presbiter van Alexandria die  leerstuk van die Drie-eenheid ontken het. Hy stel dit dat daar ‘n tyd was  dat God nie die Vader was nie, en Jesus Christus nie die Seun was nie. Omdat God die meriete voorsien het van Jesus as mens, is ‘n soort van ‘n goddelikheid aan Hom gegee, maar Hy was nooit dieselfde wese as die Vader nie. Die siening is veroordeel in Nicea 325 en Konstantinopel 381. Universalisme het in die 1700’s in die VSA aangekom en baie kongregasionalistiese leraars rondom Boston net die geloof in die Drie-eenheid nie as essensieel beskou nie.

Universalisme:

Dit is die leerstuk van die volledige welsyn van elke persoon, met ‘n heidense en Christelike vorm. Die heidense vorm glo dat almal uiteindelik gelukkig sal wees omdat almal skepsels van God is. Die Christelike benadering het twee vorme: Herstelling na die dood en herstelling na  die toekomstige straf - dus ‘n verwerping van die ewige oordeel.

Utilitarianisme:

Die filosofie van morele gedrag wat sê as  mens se aksies meer mense help as wat dit benadeel, dan is hulle goed. Indien dit meer mense seermaak as wat dit help is hulle sleg.

Vitalisme:

Die siening dat alles wat realiteit opmaak lewendig is en self kan dink.

Vorm:

‘n Ideale konsep wat werklik bestaan in sy eie, afsonderlike ideale realiteit.Hierdie ideale realiteit beinvloed die onvolmaakte realiteit waarin ons leef,deur daaraan vorm te verleen. (Plato)

Zoroastrianisme:

‘n Godsdiens wat in Iran ontwikkel het in die sesde eeu deur Zoroaster. Hy het materiaal uit die Veda gebruik en was ‘n politeis. Hy het geprotesteer teen die  valse en wrede elemente in godsdiens. Die geloof is ‘n dualisme - die ewige stryd tussen twee gode wat albei in die verre verlede ontstaan het.


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer