Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-09-28 Views:  762
Author:  karelnel
Published in:  Interesting/Interessant
Die Kraaktuin

Die kraaktuin

 

Kom gesels gerus met my – ek het baie tyd.

Jy moet erken, jy sou nooit eers daaraan dink om hier tuin te maak nie – op die klipharde granietbank, in hierdie harde, droë wêreld onder die genadelose son.

Waar was jy toe ek die tuintjie beplan het? Ek het oor millennia  my wind en my wolke, my hitte en my koue gestuur om êrens langs die ingeboude foutlyn in die harde rots ‘n krakie oop te beur. In nog ‘n klompie eeue het ek my watertjies daarin laat sypel terwyl ek met my onsigbare hande die rotse versigtig verder oopgesper het. Ek het my woestynsand daarin laat waai en my miere opdrag gegee om daarin huis te maak.

Vir my is dit soos gister dat ek die plante bedink het wat net kortstondig sou lewe, maar tog so met mildadige oorgawe sou blom. Ek het hulle DNA aanmekaargestring wat sou uitbars in plate van geel en oranje en pers en blou en in  elegante vorme en simmetrieë waarvan julle nooit die geheimenisse sal verstaan nie.

Dit alles het ek foutloos gekodeer, in ontelbare menigte gerepliseer en toe gestoor op mikro harde skywe van flentertjies papier wat my wind kan saai waar ek wil. En daarby het ek elkeen sy eie biologiese klok gegee wat die nuwe lewe sou sneller, sodra my onhoorbare stem hulle almal aanskakel. Jy – wat maar die laaste  kwartsekond hier verbygekom het – hoe sal jy verstaan dat ek uit die aarde neem om weer in meervoudige oorvloed aan die aarde te kan teruggee sodat more se lewe uit gister se dood kan uitspiraal?

Jy wat kyk en nie eers weet wat jy sien nie – hoe sal jy verstaan  watter plante ek vir my klipskeur gekies het? Sou daar genoeg water in die rots wees, sal die  plantwortels nie deur die warm rots doodskroei nie? Kan jy ‘n som maak en my antwoord? Toe my onsigbare vingers elke saadjie geplant het, was jy soos een wat slaap – salig onbewus van die skeppingswonderwerk in die klipkraak.

En dan! Net vir ‘n week – miskien ‘n rapsie langer, my heerlikheid in fladderende kroonblare wat weerkaats en resoneer en absorbeer in  frekwensies van die ligspektrum wat jy kan waarneem – hoekom sal jy nie weet nie! Ek stuur my insekte asof van nerens, wat ek toegerus en gekalibreer het om te kom deel in die  kortstondige malse uitbundigheid. Selfs al is jy nie meer daar om dit te sien nie. Hoekom?

As jy later op ‘n somerdag hierlangs verbygaan en net dorre oorblyfsels sien, sal jy dalk onthou van die vergange glorie? Of is jy dalk een wat self  die klok in jou dra wat nuwe lewe sal sneller wanneer ek roep?

Net julle sal verstaan van lewe uit die rots.

---000---

KPJ Nel

2015-09-28

 


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer