Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2014-12-18 Views:  795
Author:  karelnel
Published in:  Religion/Geloof
Die Kerk In Die Era Van Rasionalisme

Die Kerk in die era van rasionalisme

Hoewel mens kan argumenteer dat die boodskap van Jesus Christus en die beginsels daaragter onveranderlik is, is ons mense se begrip daarvan afhanklik van die maniere wat ons daaroor dink - wat ‘n funksie is van ons eie lewensbeskouings en wêrelbeelde. Die verskillende wyses waarop ons dieselfde materiaal begryp gee aanleiding tot baie verskillende maniere waarop die kerk uitdrukking vind in die wêreld. Ter wille van ‘n mens se eie beter begrip van die boodskap is dit nuttig om te sien hoe die mense deur die eeue daaroor gedink het – en dit maak die studie van kerkgeskiedenis die moeite werd. Die beknopte opsomming hieronder is ‘n verwerking uit “The Story of the Church” van Renwick.

In die agttiende eeu het daar wonderlike evangeliese bewegings ontstaan.  In hierdie tye is die basiese wette van die wetenskap ontdek en dit het daartoe gelei dat die Bybelse Openbaring van God bevraagteken is.  Ons dink aan die opkoms van die Deïsme, die Rasionalisme en die Verligting wat ongeloof in die hand gewerk het. In Duitsland het ‘n groep Christene - genoem die Piëtiste - opgetree.  Veral Graaf Zinzendorf het ‘n belangrike rol gespeel. Hy het die Morawiese broederskap gestig wat ‘n groot sendingywer gehad het.  Hierdie was ook die tyd van die magtige herlewing in Engeland.  Veral John en Charles Wesley en George Whitefield het geweldige veldtogte gehou en duisende persone het tot bekering gekom.  John Wesley het self tot bekering gekom na ‘n ondervinding met die Morawiese broeders en uit sy veldtogte het die Methodiste Kerk ontstaan.  In dié tyd word die Amerikaanse kolonies onafhanklik en word daar volle godsdiensvryheid aan alle kerke gegee en geen staatskerk word erken nie. Teen 1796 val Napoleon Rome binne en neem een derde van die pous se gebiede af.  Hy neem die pous Frankryk toe en verklaar Rome ‘n republiek, maar  hy gaan nietemin ‘n ooreenkoms met die Katolieke Kerk aan.

In die vorige eeue het die kerk ‘n sendingywer gehad wat in die laaste paar eeue dramaties afgeneem het. Die Roomse Kerk het vrye toegang tot Suid-Amerika gekry deur die Franse en Spaanse dominering van die streek. Ten spyte daarvan was die kerk nie baie lewenskragtig nie - in teenstelling met die Roomse Kerk in die VSA.  Engeland het sendingpogings gestuur na die Rooi Indiane waar John Elliot (1604-1690) ‘n belangrike rol gespeel het. Die Hollanders het met die beheer oor hulle kolonies in Maleisië, Indië en Ceylon begin om sendingwerk daar te doen, maar hulle is later bitter teengestaan deur die HOIK. ‘n Groep wat ‘n verrykende invloed gehad het, is die Morawiese broederskap wat onder Graaf Zinzendorf ontstaan het. Terwyl die kerke in Europa besmet was met Deïsme en Rasionalisme en koud toegekyk het, het die Morawiese broederskap in 150 jaar meer as 2 170 sendelinge uitgestuur.  Die Baptist Missionary Society is in 1792 gestig en Willem Carey (1761-1834) het wonderlike werk in Indië gedoen onder hulle beskerming.  Rapporte van sy suksesse het die Presbiteriane en Anglikane beïnvloed om die “London Missionary Society” te stig in 1795.  Hulle het ‘n magtige werk vir die Here gedoen.  In 1792 is die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap gestig en vyf jaar later die Nasionale Bybelvereniging van Skotland en die Amerikaanse Bybelverenigings.  Die algemene Methodiste Vereniging is in 1796 gestig en hulle het onder meer in Suid-Afrika gewerk.  Die China Binnelandse sending is in 1866 deur Dr Hudson Taylor gestig en het wonderlik geseënde werk in China gedoen. So was die negentiende eeu by uitstek ‘n eeu van sending-uitbreiding.

Die negentiende eeu was ‘n eeu van baie ontwikkelinge op die sekulêre gebied en dit het ‘n wesenlike invloed op die kerk uitgeoefen. So byvoorbeeld het die Industriële Revolusie in Engeland die behoefte aan skoolopleiding laat ontstaan en die skole het meestal ‘n godsdienstige agtergrond gehad.  ‘n Baie belangrike groep wat in 1827 ontstaan het en wat ‘n groot invloed op die Christelike lewe in Engeland en die VSA uitgeoefen het was die Broeders (Brethern).  Hulle belangrikste leier was John Nelson Derby.  Hulle doel was om in die grootste mate van eenvoud bymekaar te kom, soos die dissipels, sonder om gebruik te maak van geordende leraars en te wag op bediening deur die Heilige Gees deur die gelowiges (ope bediening). Die wederkoms was belangrik in hulle prediking.  In 1847 word Newton - van die sterk groep by Plymouth - met onder andere George Muller, van kettery beskuldig en hulle begin ‘n soortgelyke groep wat bekend word as die “Open Brethern”.  Die verskille gaan hoofsaaklik rondom kontak met ander kerke.

In 1828 kry die Rooms-Katolieke in Engeland meer regte op die wetboek en dit dryf John Henry Newman en andere om op te tree om die Anglikaanse kerk se posisie weer te verstewig.  Hulle het probeer aantoon dat die Anglikaanse kerk die beste verteenwoordiger van die kerk van die Middeleeue was. Hierdie groep was bekend as die Oxford-beweging en hulle het die verlede geïdealiseer en die tradisies van die Roomse kerk beklemtoon.  Hulle bring weer beelde terug in die kerk, die brand van  wierook, en die mis word weer vir dooies aangebied. Hulle het dus die rug gedraai op die beginsels van die hervorming waarvoor duisende gesterf het. In Oktober 1845 is Newman terug ontvang in die Roomse Kerk.  Die Jesuïte Orde is in 1814 weer deur Pous Pius VII herstel en hulle het ‘n baie groot rol in die RKK begin speel.  Hulle was instrumenteel daarin dat in 1810 die pous se “ex-cathedra” uitsprake as onfeilbaar verklaar is.  Hoewel rasionalisme en skeptisisme versprei het, het groot herlewings ook in hierdie eeu uitgebreek. In die tydperk 1857-1860 was daar ‘n baie groot herlewing in die VSA waar ongeveer 1 miljoen mense tot bekering gekom het.  Vandaar het dit na Ulster, Engeland en Skotland versprei en ook hier het meer as ‘n miljoen mense hulle bekeer.  William Booth wat in 1865 die Salvation Army gestig het, het tydens hierdie herlewing tot inkeer gekom.  In die VSA het Dwight Moody tot bekering gekom en hy het ‘n geweldige bediening in die VSA en Engeland gehad.  Een van die uitvloeisels van hierdie werk was die Keswick Konferensies vanaf 1875 waar wonderlike lering gegee is.  In hierdie tyd was daar ook groot beweging onder studente en veral die Cambridge Inter College Christian Union het ‘n besondere rol gespeel. Sekere sake het die kerk egter ook ernstige skade berokken. Hier word gedink aan rasionalisme, materialisme, pseudo-wetenskaplikheid, rasionalistiese en hoër kritiek op die Bybel. Die effek van die skade van hierdie bewegings in die vorm van liberalisme het eers in die twintigste eeu sigbaar geword.

Die vroeg-twintigste eeu is gekenmerk deur ‘n valse optimisme aangevuur deur liberalisme en skeptisisme. Dit was mode om die Bybel met alle teorieë te kritiseer en die gier het veral uit Duitsland se Universiteite voortgekom.  Mense het liefhebbers van plesier geword en die dag van die Here het ‘n dag van plesier geword.  Die moord en doodslag van 10 miljoen mense sedert 1914 deur Wêreldoorlog 1 het die wêreld egter uit die euforie geskok. In Switserland het die teoloog Karl Barth opgetree en konserwatiewe teoloë het gedink dat hy die ster was wat die kerk weer uit die teologiese moeras sou uitlei. Dit het nie gerealiseer nie aangesien Barth se teologiese standpunt baie verander het en hy baie beïnvloed was deur baie van die afbrekende vroeër kritiek op die Bybel (Barth se beweging is bekend as die Nieu-Ortodoksisme). Sedert die Tweede Wêreldoorlog het die konserwatiewe evangelistiese denke in Engeland en die VSA baie gegroei. Groot veldtogte soos dié van Billy Graham is gehou. Baie aanvalle is egter ook op hulle geloods onder die dekmantel dat hulle “fundamentaliste” was. Die koudheid en wêreldsheid in Protestante kerke is vandag ‘n groot bron van kommer.  Daar is ‘n groot reaksie teen dogma.  Die indruk is so oorweldigend dat sommige teoloë meen dat die samelewing besig is om te disintegreer. Een tendens wat in die twintigste eeu nie verby gekyk kan word nie is die rol van die ekumeniese beweging wat kerke onder die Protestantse sambreel wil verenig.  Die belangrikste hiervan is die Wêreldraad van Kerke wat in 1948 in Amsterdam gestig is.  Die Roomse Kerk stel nie belang om hieraan deel te neem nie en ook nie om ‘n kompromie aan te gaan  met die Anglikaanse kerk nie - hulle eis bly onverbiddelik dat die opperheerskappy van Rome eers erken moet word. Van die Christene in die wêreld is vandag ongeveer 48% Rooms-Katolieke, 31% Protestante en 21% Oos-Ortodoks.

Met die oordenking van so baie eeue se geskiedenis staan mens net verwonderd oor die werk van die Here en die blindheid van die mens.  Mens wonder onwillekeurig soos die skrif sê: As Hy kom sal Hy nog die geloof vind? Miskien is die ongeformuleerde kreet van die  “klein kuddetjie” wat oorgebly het dalk nou dringender as ooit deur die eeue - “Maranatha - Kom Here Jesus!” ?

---000---

KPJ Nel

2014-12-18


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer