Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-10-14 Views:  596
Author:  karelnel
Published in:  Interesting/Interessant
Die Tirannie Van Die Amptenary

Die tirannie van die amptenary

 

Gistermiddag het Ronel en ek vier ure se vetpret gehad, hoewel ek nie toe so gedink het nie. Op die keper beskou was dit (vrywillige) deelname aan ‘n soort van ‘n sosiale eksperiment of sosiale spel – ek kan nognie bepaal hoe om dit te beskrywe nie.  Uit my vorige beroepsagtergrond kan ek dit selfs dalk sien as ‘n gevallestudie in bestuur (of liewer die gebrek aan bestuur) of miskien selfs iets oor dinamiese gedrag van stelsels in nabye-chaos-toestande.

Dis soos ‘n rekenaarspeletjie waarbinne jy is, met baie deelnemers waar elkeen sy eie subdoelwit het om te bereik maar die reëls van die spel word vir sommige deelnemers geheim gehou. Omdat die deelnemers gebrekkige inligting het, word hulle telkens teruggestuur om met ‘n nuwe brokkie inligting weer van voor af te probeer, om net weer te faal en die siklus te herhaal – ‘n metodiek wat slegter is as selfs tref-en-trap. Die probleem is egter dat jy nie agter ‘n skootrekenaar sit en probeer-en-probeer nie: Jy staan fisies in ‘n tou en jou eie doelwit om so gou as moontlik sukses te behaal word telkens gebruik om jou weer-en-weer te straf.

Ons moes vir ons nuwe  IDs gaan aansoek doen by die Binnelandse sake kantoor in Brits – en terwyl ons daar was, het ek gedink dis ‘n goeie idee om sommer vir van my kinders onverkorte geboorte- en huweliksertifikate aan te vra. My doelwit vir die dag? Ses transaksies.

Gelukkig kry ek naby parkeerplek in Tomstraat. Daar staan steeds ‘n ry voor die kantore in die straat van jong vroue met twee sekuriteitsmanne wat die deur oppas, en  net ‘n beperkte aantal mense op ‘n slag toelaat. Een van die dames bevestig dat dit inderdaad die tou is, maar ek merk na ‘n ruk twee ander here stap tot reg voor en word ingelaat. Ek vra Ronel toe om in die tou te bly terwyl ek by die bewakers van die deur gaan uitvind wat aangaan. Nee- weet hy my te vertel, ons twee moet daar by hom by die deur kom staan omdat ons ID’s wil kry – die ander ry is vir geboortesertifikate en dies meer. Onbekende reël nommer een: Weet watter is die regte tou om in te staan.

Ons kan nou sien wat binne aangaan. Vlakby die deur sit ‘n lang amptenaar en hy deel die vorms uit. Daar is ‘n dubbeltou mense voor hom en elkeen word tydsaam gehelp, waarna hulle in ‘n volgende tou daarnaas gaan staan, of  dieper binne in die vertrek inbeweeg. Drupsgewyse kom mense by die deur uit. Intussen bestaan ons nie, die  bewakers van die poorte kyk oor ons en om ons en praat by ons verby en ons staan. Uiteindelik is die dubbeltou weggewerk en ons word saam met ‘n paar ander  na die toonbank van die langman – die vormbewaker - deurgelaat. Hy is saaklik en medium vriendelik en gee my die nodige vorms, maar vir die IDs is geen vorms nodig nie – daarvoor moet ons in ‘n ander tou gaan staan. Die lang man staan kort-kort op en gaan loop ‘n draai en dan bou die toue voor sy toonbank op – maar hier kom onbekende reël nommer twee in werking (hoewel mens dit eers later agterkom) – maak seker watter en hoeveel vorms jy moet hê vir jou take, anders gaan jy weer-en-weer terugkom na die langman. Terwyl mens in die tweede ry staan, kom jy onwetend onbekende reël nommer drie teë: Op die muur is ‘n lys van die amptelike  kostes van elke transaksie wat jy wil doen – en sorg dat jy presies die regte hoeveelheid geld het.

Ry nommer twee  het nie dadelik ‘n amptenaar in beheer nie, en die tou bou agter ons op. Uiteindelik kom ‘n aanvallige vroutjie van effens ligte gelaatskleur, skandeer ons IDs en druk ‘n  plakker uit met ‘n volgnommer daarop uit, en stuur ons na binne waar ons op die vlekvrye staal stoele kan gaan sit en wag totdat ons nommers geroep word. Die plek het twee groot plasmaskerms en ‘n  openbare aankondigingstelsel wat die nommers aandui/uitroep en die korrekte dienstoonbank aandui. Ons is 112 en 113 en hulle trek by 85 – so ongeveer 20 mense voor ons. Ek skat dit sal so ongeveer ‘n uur neem en begin toe met die aansoek vir die  onverkorte huwelik- en geboortesertifikate. Eerstens merk ek ek het volle besonderhede van die huwelikke nodig om in die vorms te sit – en dit het ek nie daar nie. Daar sneuwel twee doelwitte. Toe sien ek die lang man het my net een  vorm gegee vir die onverkorte geboortesertifikate en ek besluit toe maar om nog een van my doelwitte te laat vaar, want die tou voor hom is alweer lank. Ek worstel deur die vorm en gee al wat ‘n besonderheidjie is van Ronel en myself en ons eerste kind.

Nou besef ek, ek moet êrens ‘n volgnommer kry, anders word ek nie geskeduleer vir ‘n toonbank nie. Ek gaan terug na ry nommer twee om te probeer ‘n volgnommer te kry. Die tou het reeds weer aangegroei, aangesien die amptenaar weer verdwyn het. Gelukkig kry ek ‘n jong man en sy ouma daar en hulle sê dit sal my niks help om daar te staan nie, ek moet eers gaan betaal en dan weer kom. Terstond is ek en my pampier na die enigste kassier toe, waarby ‘n lang ry opgebou het, aangesien sy nie daar was nie. Sy sit agter ‘n veiligheidsglas venster en mens kan haar skaars hoor. Op ‘n skaal van  nul tot tien sal ek haar vriendelikheid op ‘n twee aanslaan en haar professionaliteit op ‘n minus vyf. Sy  gee die vorms net een kyk en sê dis verkeerd en gee my die regte vorm se nommer. Weer terug na die lang man. Hy gee my twee van die korrekte vorms en ek sê die kassiere sê hy moet my drie vorms gee (dus ses in totaal – want ek het besluit om my een doelwit weer te laat herleef, terwyl ek nou die moeite doen) – maar hy weet nie daarvan nie. Ek kry so ‘n spesmaas dat ek moet na toonbank vier gaan (General services) om daar te hoor wat gaan vir wat. Daar is ook ‘n tou, maar  toe ek uiteindelik voor kom verneem ek die nommers van die korrekte vorms, en dan moet ek terugkom na haar by toonbank vier, voor ek wil gaan betaal. Onbekende reël nommer vier – weet waar om te vra.

Daar is eintlik sewe toonbanke, waarvan ongeveer vier op enige tydstip min of meer nie beman is nie. Die wat beman word kom en gaan op kort tussenposes maar die take gaan tog voort – al is dit op ‘n slakkepas. In die agtergrond sluip of wieg daar ‘managers?’ rond, sonder om oënskynlik enige nuttige funksie te verrig. Hulle ‘chat’ hier en ‘social’ daar en een eet glad ‘n appel, direk agter die kennisgewing op die toonbank se voorkant wat sê dat daar nie ge-eet of gedrink mag word nie. Party van die rondhangers is slanke modepoppe met lang hare, stywe langbroeke en deurskynende bloese waardeur mens hulle bra’s kan sien, en ander, ewe keurig aangetrek, waggel daar rond met lywe wat getuig van die kanaan-tipe-lewe wat ons in die land beleef. Duidelik is daar baie meer managers as werkers.

Terug na die lang man, maar hy is nie daar nie en ek wag en wag. Uiteindelik kom ‘n engel van ‘n ander toonbank af, haal die vorms uit en gee dit vir my en verdwyn. Aangesien die eerste vorm verkeerd was, vul ek nou van voor af die ses vorms  in, weereens elke moontlike en onmoontlike detailtjie van my en Ronel en die kind ter sprake. Intussen raak ek nog deurmekaar en maak ‘n paar foute en moet op die vorms uitkrap en oorskryf. Opwindend. Sommige van die vorms lyk vir my op die oog af ontoepaslik, soos byvoorbeeld “Laat registrasie van ‘n geboorte” en ‘n  verklaring hoekom ek dit laat registreer. Ek meen – in die een geval is dit ongeveer veertig jaar later en in die ander geval dertig jaar. Maar wie is ek nou om bokbek te trek as hulle my sê om op die-en-die vorms dieselfde inligting oor-en-oor in te vul??

Met dit gedoen is dit reeds twee-uur en Ronel sit en wag op die harde stoel. Ek sien toonbank vier is oop – hoe kan ek so gelukkig wees?? Maar ongelukkig is die amptenaar nie daar nie. Ek gaan staan maar toe voor in die ry solank. Gou kom ‘n paar annirs wat soos ek lyk agter my staan, en ons staan. Van hulle vra waar is die baas van die toonbank, maar die is glo op ete. Wanneer kom sy terug? Hulle weet nie. Kan iemand anders help. Nee. Half drie word die toonbank toegesak met ‘n klomp kliënte (op grond van inligting wat hulle van wie-weet-waar-af?-kry), waarvan ‘n klompie hier neffens my kom indruk. Ek merk dat hulle voorkeur het, want hulle het reeds betaal en ek moet skoorvoetend retireer tot derde of vierde plek – amper soos ‘Snakes-and-ladders’.  Toe ek (weer) voor kom, bekyk sy my papiere deeglik en prosesseer dit genadiglik, sit tjaps op, kram dit vas en sê nou moet ek gaan betaal en dan weer na  haar terugkom. Reël nommer vyf: Weet wat die protokol voor in die ry is en wie mag indruk en wie nie, sodat jy jou nie onnodig ontstel nie.

Intussen word nommers 112 en 113 geroep en ons moet gaan vir kiekies vat. Hulle het ‘n fênsie kamera daar wat dit als doen, maar die antie wat dit werk praat so sag geen (ou) mens kan hoor wat sy wil hê nie, maar eindelik is die foudies geneem. Reël nommer ses : As jy ‘n ou mens is (soos ons) kry tog maar ‘n pienk dingetjie vir jou oor sodat jy kan hoor wat hulle sê. Toe moet ons weer gaan wag op die staal stoele. Gelukkig nie lank daarna nie word ons uiteindelik opgeroep na die toonbank. Daar word besonderhede gevra, ingetik en jou vingerafdrukke geneem. Dan sê hulle jy sal verder per sms in kennis gestel word van vordering, dankie en koebaai. So ons wag nou amptelik vir ons Smart Card IDs.  Maar my smartlike middag was nog nie oor nie.

Toe ek by die miesies agter die kassieretoonbank aankom was daar reeds ‘n tou, want sy werk baie stadig as gevolg van ‘time-sharing’. Daar is nog oorblyfsels van haar ete langs haar op die toonbank, maar die meeste CPU-aktiwiteit gaan in haar selfoongesprek in. Wanhopig probeer sy met die orige 10% van haar brein kommunikeer met die mense voor my in die tou.  Die jong man gooi wanhopig sy hande in die lug omdat sy hom nie verstaan nie, maar sy laat haar met niks van haar telefoongesprek afkry nie. Selfs haar bestuurder kom loer wat aangaan en vra ‘slippies’  wat sy met ‘n orige 5% van haar brein vind en oorhandig – maar sy is ongesteurd. Met die orige 1% probeer sy die geldtransaksie hanteer maar sy vra R440 ipv R400 vir die paspoort twee plekke voor my. Daaroor is daar eers ‘n gestry. Toe het sy nie tien Rand kleingeld nie, hoewel ek sien die kasregister is vol note. Voor my is ‘n netjiese swart sakeman. Hy sê as hy by sy werk so met die selfoon praat as daar kliënte is, word hy ge-fire. Hy vra hoekom my-tipe-mense nie meer agter die toonbanke werk nie want waar sy-tipe-mense  werk is daar “oneffektiwiteit, luiheid en chaos – soos hier”. Natuurlik kon ek nie sê: ‘Amen brother!’ nie, hoewel ek natuurlik besig was om my eie opinie, stadig maar seker op te maak. Ek was bly dat ek nie die betrokke amptenaar se CV moes oorweeg vir ‘n huishulp posisie nie – want sy sou dit beslis nie slaag nie!!

Terwyl ek so staan en wag kyk ek toevallig in die klagteboek – ja, daar is een. Ek sien dis nie op datum nie maar dit lyk of die laaste skrywers – om die ge-ykte term te gebruik – redelik ‘gatvol’ was. Almal sê die departement moet meer mense aanstel om die werk te doen. Snaaks – ek het nou weer gedink hulle moet die helfte van die kantoor se mense, wat so rondhang, eerder ‘fire’ dan sal dit beter gaan. Sommige mense het selfs lelike woorde in die  boek geskrywe, waarvan baie met ‘n “f..” begin, en ek het baie skaam gekry vir hulle part. Hoe kan hulle nou so voel oor die saak?

Gelukkig was die antie toe klaar met haar selfoongesprek, en sy groet my vriendelik met ‘O, ek sien dis alweer jy!’. Voor ek haar minus drie op ‘n nul tot tien skaal vir haar hulpvaardigheid kon gee, het sy my geld gevat (presies die regte hoeveelheid) en my kwitansies gegee en ek is weg – weer na toonbank vier, waar daar intussen weer ‘n allemintige ry ontstaan het.

In ry vier  het intussen ‘n bekgeveg uitgebreek tussen ‘n vrou wat soos ek lyk en die voorkeur-indruk-kliënte wat reeds betaal het. Sy moes toe noodgedwonge die aftog blaas en terugval tot hulle klaar bedien is. Hoewel ek geweet het ek kon ook nou voor gaan “indruk” het my sensitiewe (maar rou-geskaafde) gemoed dit nie toegelaat nie – en soos ‘n skaap wat stom is voor sy skeerders gaan staan ek maar weer agter in die tou – ten spyte van my voete wat teen die tyd al wou af val. Na nog ‘n ewigheid en ‘n klompie voor-indrukkers kom ek ten einde laaste ook voor. Sy hanteer tydsaam my pampiere en ek kry gelukkig een  onverkorte sertifikaat. Die annir een sal eers oor  agt weke kom!! Mens wonder of hy van Rusland of China, of so vêr af moet kom? Soos my ma sou gesê het: Bid jou dit aan!

Vieruur stap ons daar uit: Doelwitte bereik 1/6, doelwitte in proses 3/6, doelwitte nie aangespreek 2/6.

Die liewe apartheid darem! Dis alles apartheid se skuld. Lyk my apartheid was eintlik ‘n soort bomskerf. Dis ‘n  staalfragment wat afgespring het en groot dele van mense se breine eenvoudig weggekerf het sodat hulle nie meer kan dink of behoorlik werk nie – en hulle gevonnis tot ‘n  ewige voortdurende  zombiebestaan. Kan ons nie êrens oorbegin nie?

---000---

KPJ Nel

2015-10-14

 


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer