Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2014-12-18 Views:  573
Author:  karelnel
Published in:  Religion/Geloof
Die Kerk Se Eerste Halfmillenium

Die Kerk se eerste halfmillenium.

Daar word gesê dat die Bybelboek Handelinge nie eintlik ‘n einde het nie, en dat die gebeurtenisse wat met die kerk plaasgevind het deur die eeue eintlik net die voortsetting daarvan is. Baie van ons het ‘n goeie idee van die geskiedenis wat in die Bybel opgeteken is, maar weet maar min van wat in die eeue daarna in die kerk gebeur het. Soos met alle geskiedkundige vertellings is daar soveel gesigspunte soos wat daar vertellings is, want strominge wat vir een groep in die kerk merkwaardig en edel was, word baiekeer deur ‘n ander groepering as ‘n dwaling beskou. ‘n Basiese kennis van die kerkgeskiedenis help mens om ‘n geheelbegrip te kry van die kerkelandskap van ons dag en ons wereld. ‘n Goeie boekie wat die verhaal van die kerk opsom is A.R. Renwick se boekie: ‘The Story of the Church’ (WMB Eerdmans Publishing Co) wat nogal lekker lees. Hierdie materiaal is daaruit ontleen.

Jesus het gekom in die volheid van die tyd toe daar politieke eenheid in die Romeinse wêreld was. Die Griekse taal was byna universeel. Daar was ‘n kosmopolitaanse atmosfeer en die morele toestande was korrup en desperaat vir die nuwe boodskap van Christus. Die Heilige Gees het kragtig gewerk en gou het ‘n sterk gemeente in Jerusalem ontstaan. Paulus begin ongeveer 35 nC met ‘n magtige sendingpoging met sy basis as Antiochië. ‘n Besonder belangrike vergadering van kerkleiers vind plaas  in Jerusalem in 49 nC. Uiteindelik sterf Paulus en ook Petrus ongeveer in die jaar 64 nC - in die tyd toe Nero sy groot vervolging teen die Christene gevoer het. Die era van die Joodse tempeldiens word finaal beëindig met die inname van Jerusalem in 70 nC deur Titus, toe die tempel finaal vernietig word – wat vir die Joodse geloof ‘n baie groot probleem was. Die historikus Josefus skryf oor die intense woelinge en stryd van hierdie tyd.

Die eerste kerk het verskeie kenmerke gehad. Daar was twee soorte apostels. Die 12 apostels was een groep en hulle het baie gesag gehad. Daar ook ander apostels soos Paulus en Barnabas (en andere). Daar was ook sprake van profete, maar hulle het teen die tweede eeu begin verdwyn. Evangeliste soos Filippus en Timotheus het ook opgetree. By elke gemeente was daar ‘n meervoudigheid van ouderlinge aangewys met geen verskil tussen ouderlinge en iemand soos ‘n predikant of priester nie. Die aanbidding van die gelowiges was spontaan en onder die leiding van die Heilige Gees, gebaseer op die eenvoud van die sinagogediens en nie dié van die Tempelritueel nie. Daar was geen spesiale geboue nie, geen formuliere of formalisme nie, geen altare of spesiale priesters of priestersklere nie. Die sleutelwoord was eenvoud en reinheid van hart en die priesterskap van elke gelowige was baie belangrik geag.

In die tweede eeu het vervolging onder Keiser Domitianus uitgebreek. Verskeie belangrike kerkleiers tree in hierdie tyd op, soos Polikarpus wat ‘n dissipel van Johannes was en wat in 156 nC by Smirna verbrand is, en Justinus wat onder andere die eenvoud van die 2de eeuse diens beskryf het. Volgens hom was daar skriflesing, ‘n boodskap van die “president” (‘n persoon gekies uit die ouderlinge) en spontane gebede.  Uit hierdie eeu kom daar ook interessante geskrifte: die Brief van Clement van Rome aan Korinthe, die Didache, en die sewe briewe van Ignasius van Antiochië.  Laasgenoemde begin sterk aandring op die absolute gesag van die biskoppe as verteenwoordigers van God.  Dwalinge soos die Nasareners, Ebioniete, Gnostisiste en Montaniste kom in hierdie tyd na vore.

In die jare 180 tot 250nC het ‘n groepie kerkleiers opgetree wat bekend staan as die vroeë Katolieke Vaders. Een van die belangrikstes was Irenaeus wat in Gallië geleef het en ‘n dissipel van Polikarpus was. Hy het ‘n groot rol gespeel in die vasstelling van die inhoud van die Bybel. In hierdie proses beroep hy hom op kerktradisie om die skrif suiwer te hou - ‘n praktyk wat later tot baie slegte gevolge gelei het. Drie ander persone het uit Carthage was belangrik naamlik Tertullianus, Cyprianus en veral Augustinus.  In Alexandrië het ‘n baie invloedryke kategetiese skool ontstaan waar Clement en Origenes belangrike leiers was.

In die vroeë derde eeu is die Kerk aanvanklik deur die owerheid vriendelik behandel, maar ‘n kwaai vervolging het in 250-260 nC uitgebreek onder Keisers Decius en Valerianus en veral onder Deoclesianus in 303-305nC. Dit het egter totaal verander onder Keiser Konstantyn en veral nadat hy sy beroemde edik uitgevaardig het in 313nC waarna die kerk vry was in die hele Romeinse ryk. Konstantyn skenk onder meer aan die biskop van Jerusalem ‘n pragtige stel priesterklere/amptelike priestergewaad - en dit is die eerste keer dat soiets ter sprake kom. Hy het ook die status van vroue verhoog en die Sondag as rusdag ingestel. As gevolg van die erkenning wat die kerk ontvang het, het sommige van die professionele kerkleierskap ‘n arrogante houding begin inneem. Daar is groot verskil in mening of Konstantyn se aksies vir die kerk goed of sleg was, want sommige gelowiges meen dat in die tyd vele dwalinge in die kerk binnegekom het, terwyl die vervolgings juis die kerk gesuiwer het.

Die jare 325-500nC word gekenmerk deur groot kerkvergaderings wat saamgeroep is om dwalings te bestry.  Daar was byvoorbeeld die sinode van Nicea in 342 om die Ariese konflik oor Christus se ewige bestaan te besleg. Die een in Konstantinopel was in 381 waar daar oor die Godheid van die Heilige Gees besin is en ook dié in Efese in 431 waar daar oor die natuur van Christus en die posisie van Maria uitsprake gegee is. By die laasgenoemde sinode is Nestorius verban en het hy hom in Persië gevestig. Vandaar het sy sendelinge China in 625 nC bereik. Ander beroemde leiers uit die tyd is Ambrosius van Milaan (340-397), Chrystosomus (347-407), Hiëronimus (Jerome) (340-420). Van besondere belang is Augustinus (354-430) wat ‘n diep gelowige was en wat geglo het dat mens jouself nie kan red nie. Hy het ‘n groot invloed uitgeoefen op Luther en Calvyn. Leo I (die Grote) word die eerste werklike belangrike leier in Rome sedert die tyd van die apostels en hy beywer hom om die biskop van Rome die universele biskop te maak. In dié tydperk stort die Romeinse ryk in duie en Rome die “ewige stad” wat die nasies vir 12 eeue geregeer het, word oorwin in 476 nC. Die ryk breek op in verskeie state, maar die prestige van die biskop van Rome hou aan groei.

So het die nederige Man van Nasaret se invloed oor die hele destydse wereld uitgebrei, hoewel hyself nie  ‘n politieke leier was nie, waarskynlik nooit buite die grense van die destydse Israel gereis het, of enige geskrifte vir ons nagelaat het nie. Bo-en-behalwe dat Sy volgelinge ernstig vervolg is, het die groei van die christendom baie komplikasies gehad wat verwerk moes word – soos byv verskeie vraagstukke oor die verstaan van die geloof. Die Joodse tempel is vernietig deur die Romeine en uiteindelik is Rome self vernietig, maar die christendom is kragtig voortgebou uit Rome – op watter wyse word in ‘n volgende artikel bespreek.

---000---

Opsomming deur KPJ Nel

14/12/15


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer