Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-10-29 Views:  608
Author:  karelnel
Published in:  Interesting/Interessant
Skryfpapier

Skryfpapie

Die vroegmôrestilte van die Knysnabos is soos ‘n vel papier

Ek span my ore in om die stilte te hoor. Eers dink ek dis blanko maar dan kom ek agter dis ‘n lyntjiespapier gestreep met die dowwe ritmiese koer-koerdoek in die mistige vêrte. Dan kom ek agter die  blad is effens greinerig  met die skaars hoorbare skertsery van van nog klein bosbewonertjies. Dan merk ek op die versierde rantjie van die  bladsy deur die patroontjie wat een of ander bospatrys se gekrys uitgrif

Ek is bang om te praat, want vir die eerste keer in my lewe besef ek dat woorde eintlik besoedeling is.  Mense gooi hulle uit soos   gebruikte kospapiere uit ‘n bewegende motor en hulle waai rond soos afvalpapier by ‘n ashoop. Wat sal ek sê hier waar ek in die mistige koelheid net ‘n onbelangrike tydelike waarnemer van een maagdelike reinheidsmoment is

Ek soek die stem van my binnehart maar vind dit nie. Dis of die kompas momentaan die ware  noord verloor het en die papier alkant-selfkant is, netsoos die binnebos alkante toe dieselfde lyk. Sal dit help om gou in gister se bladsye te loer?  Sal die wysheid van die vaders soos ‘n waterstroom wees deur die bos? Sal die son dalk iewers in ‘n silwerstraaltjie deurval

Ek besluit om die velletjie netso te los. Ek hoor my eie dowwe voetval op die blaarbedekte vloer terug na die koerantpapier van ons elke dag se bestaan.

---000---

KPJ Nel

2015-04-18

 


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer