Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-10-29 Views:  701
Author:  karelnel
Published in:  Suggestion/Aanbeveling
Kiempies

Kiempies

‘n Viendin vertel sy eet nie ‘hotdogs’ of dergelike kostipes as die sjef wat dit maak nie handskoene aan het as hy dit maak nie. Kieme! ‘n Ander vriendin vertel party mense wil nie melk of botter of kaas of ander koeiprodukte eet nie. Kieme!

Toe ek in Nigerië was in 2000 het ek myself MOOI opgepas van kieme en elke dag my water gekook en oornag in die yskas koelgemaak. Ek het nie rou slaaie en dies meer  geeet nie en ek het goed gehou. Amper aan die einde van ons besoek het ons by ‘n hotel (nogal ‘n vyfster) in Lagos, ‘n noenmaal bygewoon. Ongelukkig drink ek nie sterk drank nie, want alkohol sal mos die kiempies dood maak? My Coke in die glas kon nie die kiempies doodmaak wat saam met die ysblokkie ingekom het nie. Toe word ek SIEK. Onder en bo, onder en bo, suid en noord – jy besef wat ek bedoel. Kieme!  Wat my egter later gefassineer het is hoe die inwoners van die stad (stat?) van die vuil water drink SONDER om heeldag te onder-en-bo.

‘n Klompie jare voor dit was ons in Taiwan, en die aand  voor ons vertrek is daar ‘n groot banket ter ere van ons aangelê. Lekker seekos en als en ons het goed weggelê – alhoewel ons dit nie geweet het nie, moes daar êrens ‘n seekossie of iets dergeliks gewees het wat bietjie lank in die tand was. Ek het maar by my Coke gebly, maar een van my kollega’s het  aanhou om monsters te toets van die ryswyn. Hy het oor-en-weer oor die tafel heen ge-kampei (heildronk) en selfs hulle sterkste man amper onder die tafel ingedrink. Toe ons by die hotel aankom, dit was redelik laat en geen sterfling sigbaar nie – het hy ge-“noord” in die voorportaal, en daarna was hy oukei. Die volgende more toe ons inkom om op Singapoer te land, toe tref die plaag my hier is die middel van die Vrystaat. Ek kon dit skaars maak tot in die lughawe en toe soek ek met spoed die kleinplekkie op. En daar het ek gesit vir ‘n eersteprys. My maters was al deur paspoortbeheer, toe sit ek nog. Al  hulle baggasie gekry toe beur ek nog. Al deur doeane toe brul ek nog. Kieme!

Interessant die vertelling van Eric Holm wat verduidelik dat ons as mense is bo-aan die voedselketting en ons eet elke denkbare en ondenkbare ding onder (en gelyk! aan) ons op die voedselketting. Tog is dit die organismes heel onder aan die voedselketting (kieme) wat op die ou end weer vir ons opvreet! Ironies..

Hulle vertel dat die boerekinders in die konsentrasiekampe destyds verwoed uitgeroei is deur kindersiektes soos masels/ waterpokkies of iets dergeliks omdat hulle nie daarteen immuniteit gehd het nie. Hulle het blykbaar voor die oorlog so ge-isoleerd van mekaar geleef dat hulle nie kindersiektes gekry het nie, en dus nie immuniteit kon opbou nie. Vandaar die verwoesting toe hulle in kampe bymekaar geplaas is.

Mens kan klaarblyklik eerder iemand wat verkoue is om die hals val en soen as om hom (haar) met die hand te groet – die hand is blykbaar een van die bronne van alle kiem-euwels. Dis miskien daarom dat die Bybel sê as jou hand pla moet jy hom afkap ( ;-) )

Iemand  vertel ook die staaltjie van die dokter wat vir iemand vra: As ek nou hier ‘n balans het en ek plaas die HELE mediese wetenskap en al die wereld se medisyne en rate (en rade) op die een skaalpan, en jou immuniteitstelsel op die ander skaalpan. Watter een sal die meeste gewig dra en watter een sal jy kies? VIGS het ons loop wys hoe voor-die-hand-liggend die keuse is.

Ek dag toe so – mens moet tog maar nie te ontsteld word as jou babakindjie bietjie grond eet of uit die hond se waterbak ‘n slukkie vat nie. Mens het kiempies nodig om jou immuniteitstelsel op te bou. Ek weet netnie mooi watter nie. Kan een van julle my raad gee??

Ek is beslis nie paranoies oor kieme nie, want ek kou my kos net baie fyn en ek glo nie hulle kan dit oorleef nie. Maar ek verseg om sushi te eet want ek het ‘n prentjie gesien van iemand wat se spiere en als oortrek is van klein parasitiese wurms wat hy uit die sushi opgedoen het.

Groete

K

2015-04-15


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer