Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-11-14 Views:  550
Author:  karelnel
Published in:  HartTalk/HartPraat
Skies Ouma

Skies Ouma

 

Jy sou kon vra: “Hoekom?”, “Na 21 jaar?”

Ek wens jy wou nie vra nie, want daarop het ek nie eintlik ‘n antwoord nie. Miskien moet ek net sê: “Skuldig!”

Jy het saamgekom van Warmbad af toe Lize daar geproef het. Een van die kinders het jou as geskenk vir haar gegee. Net een handjievol wit  bondeltjie pels,  vol van matelose energie en die amusantste speletjies. Jou sneeuwitheid was die toonbeeld van reinheid self – soos ons almal smag om te wees. En nou is Lize al ‘n vrou van veertig – baie vêr van hier – met haar eie tienerkinders.

Jy het taamlik goed  oorleef vir een wat doof was – stokdoof. Ons het dit eers baie later agtergekom, so goed het jy aangepas. Die veearts het gesê dit kom nogal gereëld onder julle voor. Maar ‘n kar kon jou maklik in die straat platgery het of ‘n rondloperhond kon jou dalk maklik oorval en verskeur. Gelukkig het dit nie gebeur nie en geleidelik het jy, of ons wou of nie, die koningin van die huis geword. Ons was joune.

Jy het, soos altyd die laaste jaar, gelê en slaap toe ons jou brandmaer lyfie optel en in die boks sit en dit toevou. Ek het darem die  handdoek waarop jy geslaap het onder in die boks gesit. Jy was vir ‘n rukkie tevrede, totdat die kar begin ry het. Jy het pleitend begin roep, net soos die intense trane waarmee Ronel jou gegroet het. Maar ek het my hart verhard.

Die ander vier het na jou gekom, Paaltjies, Oranjekat, Pienkbek en Langkat en hoewel hulle was almal sterker as jy, maar tog almal bang vir jou gegrom en geblaas. Net Paaltjies met sy lang hare en regop stert was ‘n boggir wat jou grief gegee het. Oranjekat is lankal dood – hoekom kan ek nie meer onthou nie. En o ja!  Dan was daar nog die een wat in ons inrypad doodgery is.

Ek onthou  toe Oupa nog hier was – wanneer hy voor die TV op die rusbank gesit het het JY hom uitgekies en bo-op hom geklim, eers op sy skoot en later op sy maag tot jy hom amper in die gesig kon lek. Na Oupa se vertrek was dit ek, en ek het skaars gesit dan kom jy die sitkamer binne, nader die bank so skelm-skelm, spring aan die een kant op en kom dan doodluiters op my skoot klim, asof ek jou regmatige matras is. Dan skuif jy op tot op my boepie en as ek nie oppas nie, lek jy my in die gesig. En as ek moet opstaan? Hoe kan ek ooit daai  vieslike vuil kyk en verergde wegstaphouding vergeet?

Een-vir-een is die kinders huis-uit en twee is tot land-uit maar jy het gebly, en was altyd hier om hulle te groet as hulle  weer teruggekom het. Ek onthou nog waneer ons van vakansie af teruggekom het, nadat iemand anders vir julle moes sorg vir twee weke, hoe julle vir ‘n dag of twee vir ons die hoenders in was, en ons nie wou kom groet nie, in teenstelling met daardie koninklike diere, die honde wat ons dadelik met ekspressionistiese liefde en entoesiasme by die hek ontvang het.

Die rit na die veearts was stamperig want ek het die kortpad gevat – die pad wat die eiesinnige ou van Jacana Bay  vantevore onregmatig omgeploeg het dat ons nie daar kon ry nie.  Jy het aanhoudend geroep uit die boks – miskien wetende dat dit vir jou ‘n onheilsrit was, in teenstelling met die ander kere wat ons jou vir  kwale of inspuitings  na die vee-arts moes neem. Maar ek moes my hart eenvoudig verhard.

As ek by die rekenaar gesit het, dan het jy altyd gekom en met jou skurwe tong my voete kom lek. Hoekom weet ek nou nog nie. En later – in die dag, het jy net een slaapplek gehad – op ons bed, in die sonnetjie. Hoeveel aande het ek jou nie van die bed afgeskop dat jy elders moes gaan slaap nie, net om maar laatnag wakker te word en te vind jy het skelmpies tussen my en Ronel se bene kom slaap!

Die laaste twee jaar of so het jy so maer geword. Die kos was tog dieselfde – katpilletjies en blikkies katvleis - en jy was tog in ‘n beskemende omgewing? Jy kon later nie meer jou pels was nie en het klosse in jou hare gekry. As Ronel dit probeer uitkam het, het jy geskreeu vir ‘n eerste plek.Later kon jy nie meer jou naels terugtrek nie en het jy aan elke kombers of deken vasgehaak en soms daar bly sit.  In die winternagte het jy nie kans gesien om huis-uit te gaan nie en het altyd in die badkamer onder die wasbak gepiepie, sodat ek in die more met my kaal voete daarin kon trap. Jy kon later nie meer by die venster uit , of oor die onderdeur spring nie en het luidkeels  tydig of ontydig gevra om uit-of-in gelaat te word. Ek het selfs gesien hoe jy in die  tuin die gaatjie wat jy gegrawe het mispiepie en selfs ‘n verkeerde plek net halfpad met die sandjies toekrap.

Ek het al ‘n jaar gelede vir Ronel gesê ons moet jou laat uitsit, maar sy wou niks weet nie. Jy slaap buitendien net die hele dag en pla ons nie, sê sy. Maar hoe kon ek langer die mank stappie van die kwalik-bedekte geraamte elke dag aanskou? Jy het wel elke oggend die pieringkie melk gedrink wat ek spesiaal vir jou ingegooi het opgedrink, maar dit het ook niks gehelp nie.

Ja – jy het geskreeu toe die helper jou vasvat, en veral toe die veearts jou poot se hare wegskeer.  Dit was soos ysterpenne deur my splinterhart, maar ek het mos gesê ek wil bystaan. Ek wou tog die laaste wees as jy vertrek, om jou af te sien, al is dit op my bevel. “Die are het platgeval”, sê hy toe hy ‘n beter spuitplek soek. Die spuitnaald word vinnig leeg. Seker twee of drie sekondes later is dit verby. Jou maer lyfie word slap, jou kop val eenkant toe en jou tongetjie hang uit. Weg!! Een-en-twintig jaar!??

“Skies Kallie” sê my vriend die veearts, en ek vind ek kan skielik nie praat nie. Ek stap onbeholpe uit om te gaan betaal. “Wat is die katjie se naam?”, vra sy ontvangsdame. “Nimfie was haar naam”, sê ek. Gelukkig gee die veearts my afslag vir die verassing, want ek kon my nie nog die droefheid van die kleintjies voorstel as ons die katlykie in die tuin moes begrawe nie.

Ek reis verder om my verpligtinge van die dag af te handel, terwyl net een ding in my hart oorbly: “Skies ouma”

---000---

KPJ Nel

2015-11-14

 


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer