Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-11-14 Views:  654
Author:  karelnel
Published in:  HartTalk/HartPraat
Lewensmonitor

Lewensmonitor

Elke uur het sestig minute. Presies. Die een hoek van die  monitor tel hulle akkuraat, geduldig, een-vir-een af. Maar hoeveel ure is daar in ‘n enkele nag?

Wanneer mens maar net begin vermoed dat die dood naby jou of jou mense kom, dan – skielik – kry die lewe  ‘n ander betekenis. Skielik piekselleer die groot prentjie van die lewe uit  in ‘n fyn grein van minute en sekondes. Andersins onbeduidende dinge soos  koffiedrink onder die boom of met die kinders in die tuin uitkamp kry  ‘n nuwe betekenis – want mens weet nie of jy dié pad ooit weer  langs sal kom nie. Deur die vergrootglas van jou verbeelding wonder mens hoe dinge sal wees as daar vir altyd ‘n leë plek sal wees, maar mens vind uit dat die ondeursigtige gordyn voor die toekoms hang skaars millimeters voor jou oë.

Die lewensmonitor ontbind jou in verskillende grafieke wat as golwe van regs na links oor die skerm hardloop en syfertjies van verskillende kleure wat iets van jou verklap – al sweef jy tussen verre planete, wie-weet-waar? Hier, in die gedempte lig van die intensiewe sorg-eenheid hang jou elektroniese handpalm met al jou lewenslyne oop en bloot vir al die ingewydenes om te kan lees.

Die groen saagtand van die ritmiese hartklop is die uitermatig-wonderlike drywer van die lewe. Onverpoosd en onophoudelik die groen lyn wat van nerens af kom en links op die skerm weer verdwyn om net as ‘n enkele syfer van hartslae per minuut opgeteken te bly, as ‘n momentane rekord van die lewegewende drukgolwe wat die hele liggaam deurpols het. Nou bietjie vinniger, dan bietjie stadiger – wie sal weet hoekom?

Elke uur op die uur skakel die bloeddrukmasjien self aan. Met ‘n ligte ge-kirrrr word die lugband om die arm opgepomp en afgeblaas tot uiteindelik twee nuwe syfers op die skerm verskyn – die sistoliese en diastoliese drukke  van die hart se funksionering – kritiese syfers wat soveel verraai  omtrent die  lewe en die dood.

Elf-uur kom en gaan en later verval die  syfers tot nul en begin weer voor. Die nagsusters gaan geroetineerd voort om groot papiere oor elkeen in te vul, die druppels van die aarvoeding en medikasie toediening te kontroleer. Elke nou-en-dan is daar een van die monitors wat met een-of –ander alarm  of ‘n lig wat van kleur verander aandui dat daar erens fout is wat onmiddellik reggestel moet word. Na ‘n ewigheid kom eenuur en gaan verby en twee-uur wil netnie kom nie.

Mens kom agter die geel lyn met sy stadiger en veranderende golfpatroon vertel hoe jy asemhaal. Die intieme verbintenis met en afhanklikheid van die atmosfeer van God-se-wêreld word  duidelik  -  ‘n in-en-uit-afspraak-met-die-lewe wat sewentien tot twee-en-twintig keer per minuut  plaasvind en waarsonder die vlam van die lewe gou-gou in desperaatheid sal doodsmoor. Sou die neuspypie van die Suurstof wegval, verminder die opgeloste suurstof in die bloed binne ‘n paar sekondes van 99% na 98-97-96-95-94 en dit verbaas jou dat die klein infra-rooi sensor op die een vingernael so gou die onraad kan opmerk.

Die eeu-lange minute word uiteindelik twee-uur en later vyf-oor-twee en na nog ‘n duisend jaar agt-minute-oor-oor-twee. Die susters sweef voort in hulle droomwêreld en jy worstel in jou binneruim met die realiteit van die drogbeelde wat nie kan bestaan nie maar tog daar by jou en om jou is, en wat jou en jou kind wil vermoor. Dis of die geboue en mense se motiewe  eenvoudig oopgegaan het en  die komplotte teen jou lewe duidelik ge-openbaar is – en jy is weerloos  aan “hulle” uitgelewer. Kwart-oor gaan verby, dan twintig-oor en uiteindelik half.

Op die regterkant onderhoek is die onskuldige syfer 37.7. Na die koorsmedisyne  klaar ingeloop het verander dit na 37.6. Dis die stadige vlam van die lewe wat nie te hoog of te laag moet brand nie en is die onmisleibare wagter-op-die-mure wat waarsku teen vyande van buite en vyande reeds binne. Na nog ‘n millennium dui die monitor aan 03:00. Buite slaap die stad seker – die besige strate nou stil – met seker net hier-en-daar ‘n kar of ‘n  straatskoonmaaktrok met geel flisende ligte? Selfs die ongelukige straatbewoners het lankal erens ‘n lêplek gevind.

Die susters en “hulle” staan bymekaar in ‘n klein groepie en praat suutjies sodat jy nie kan hoor nie en hulle sweer saam oor hoe om jou te laat omkom – deur die medisyne van die aarvoeding, in die kos of saam met die suurstof? Maar jy sien hulle en jy sien deur hulle planne. Jy moet hier uit. Hulle ken jou nie eers nie, maar hulle voer ‘n toneelstuk op en dit kom sommer ook op die televisieskerm en jy hoor jou en jou familie se stemme  in die toneel. Hoe kon hulle so ‘n stuk oor jou skrywe en opvoer? Erens brand selfs ‘n vuur. Erens hoor ek my baba koudkry en skree.

Die pype wat onder die komberse uitkom syfer bloederige water uit jou binneste in ‘n plastiese sak wat aan die onderent van die bed hang. Elke uur kom die suster en meet die vloei om dit te kan aanteken. Om jou bene is plastieksakke wat periodies op-en-afgepomp word om bloedklonte te verhinder. Selfs die bed onder jou word gereguleer om bedsere te keer. Wat is langer as ‘n millennium? ‘n Sekond? ‘n Minuut? Na so lank word dit uiteindelik vier uur. Hoe ver is die dag nog op hierdie plek waar dit nooit dag word nie?

Hoe groot is die sale van mens se binneruim? Waar eindig die grense van mens se onsigbare bestaan? Hoeveel stringe ineengevlegte verhale speel af op die skerm van die halfbewussyn? Hoe sal ek onderskei tussen wat is en wat is, want ek is alleen en almal beweeg in en uit, maar tog buite die dampkring van my lewensbewussyn? Hoe kom ek hier, en sal ek ooit uit hierdie doolhof weer kom? Sal die helderheid van denke, dit wie ek is, mye eie lewensmonitor,  weer na my terugkeer?

Elke uur het sestig minute. Presies.

---000---

KPJ Nel

 2015-11-08

 


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer