Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-11-14 Views:  860
Author:  karelnel
Published in:  Recipe/Resepte
Schrödinger Se Moses

Schrödinger se moses

 

Ons almal weet mos om huisvrou te wees is  ‘n maklike takie (visolie of popkas – soos die manne sal weet – gespel met ‘n  “p” en ‘n “k” onderskeidelik, of  'a piece of cake' - soos die vroue sou weet). Toe my kinders langsaan vanoggend vroeg (net na ses) bel en Ronel opkommandeer om te kom help met die baba spring ek op  en besluit om met  ‘n lied-in-my-hart sommer tjoef-tjaf ma se rol oor te neem vir die  dag. En wat sou nou lekkerder wees as om vir ons kinders te vergas met heerlike ‘French Toast’? Wat kan nou makliker wees? Ek het dit mos al baie ge-eet: Sulke lekker soliede goudbruin snye, effens verhard deur die heerlik gebakte eiermengsel!

Nou moet die van julle wie se chemie nog varser is as myne (myne dateer uit die laat sestigs) my bietjie verskoon waar ek nie meer so mooi onthou nie. Maar ek het geleer in die tweede jaar dat mens met moeite die Shrödinger vergelyking vir ‘n waterstofatoom, wat basies uit twee dele (Kern en elektron) bestaan kan oplos, maar sodra jy by drie partikels kom, dan laat die wiskunde mens in die steek (Ek kan nie meer onthou hoekom nie). Die van julle wie se Fisika nog meer resent is as myne, moet my ook verskoon, maar ek onthou van die onoplosbaarheid van die sg. ‘many-body-problem’ – soos byv om die bewegings van ‘n klompie hemelliggame te probeer beskrywe wat almal onderling op mekaar  oor-en-weer invloede uitoefen. Daai dinge is bokant meeste mense se vermoë - in elk geval bokant myne beslis.

Ek dag toe vier eiers sal genoeg wees. Uit ander mense se ervaring het ek geleer mens breek nie sommer jou eiers almal in een bak nie – vir geval een vrot is. Daarom oopkap in een bakkie, doppe gooi in ‘n ander en dan die eier (as hy reg is) oorgooi na ‘n derde mengbak. Sommer drie bakke vuil op een slag. Sorrie. Bietjie melk en sout na gedagte en klits die eiers met ‘n vurk. Fout nommer een: Die mengbak het redelike hoë kante dat die eier nie uitspat nie, maar as jy die brood daarin sit sukkel jy om dit uit te haal want die spaan waarmee jy dit moet uitlig pas nie onder die brood in nie, en mens wil nie met jou vingers in die grillerige eiermengsel inkrarring nie.

Ons ouma-kat, die witkat, kom soek toe kos, maar sy is reeds so oud dat sy nie eers behoorlik kan miaau nie. Uit die goedheid van my hart sit ek vir haar ‘n pieringkie melk daar neer en terwyl sy begin drink sien ek dat die wolkat my so ‘n vuil kyk gee – hoekom weet ek nie. Ek gooi gou ‘n koffetjie en kies ‘n lekker beskuit wat ek by Checkers gekoop het en vergun my ‘n minuut of twee om bietjie “beplanning” te doen vir die taak wat voorlê

Toe by die broodblik. O weë- daar is geen heel brood nie, net enkele snytjies met inbegrip van korsies wat in plastieksakkies in die broodblik gebêre is. Die  heel brode is nog in die vrieskas. Goeie idee, dink ek – ek sal mense wys hoe mens spaarsamig moet wees, en sommer die korsies gebruik. Boonop was daar nog verskillende soorte brood – een snytjie wit, twee gewone bruin, twee Rooibos-bruin (nogal) en  twee of drie snye spesiale wit saadbrood. Ek dag toe – blink-idee, want nou kan ek verskillende soorte brood vir die gesin maak. Dit was fout nommer twee: Alle soorte brood akkordeer nie so goed met die proses nie.

Met die soek van die eierspaan sien ek die skottelgoedwasser is nognie uitgepak nie, en dit moet eers gedoen word. Elke koppie op sy plek en messe en vurke in die laai. Dan die droograk langs die wasbak se bakke wegpak. Dan die restant van die skottelgoed wat in die wasbak agtergebly het gou was en afdroog en wegpak. Nou kan mens moes asemhaal!

Intussen kom die koerant en ek moet gou die hek gaan oopmaak en ek kry net so vinnige kansie  om te kyk wat die voorblad sê oor die kerk en ‘gays’, maar toe moet ek voortstoom. Ek haal Ronel se lekker pan uit, die een met die teflon belyning en sit hom op die klein snelwarm-plaat. Fout nommer drie: Die pan is heelwat groter as die plaat en wil-wil net afgly as jy met hom begin werk. Nie lekker nie. Dan kom ek agter watse idioot die man was wat die kombuis ontwerp het en die stoof in die hoek ingedruk het. Mens stamp gedurig jou elmboog teen die mikrogolf daarnaas, en die kan jy nie bra opskuif nie, want Ronel se een porseleinpoppie staan aan die anderkant.

Nou die broodjies een vir een in die eiermengsel doop – en toe maak ek fout nommer vier: Ek doop hulle, sukkel om hulle uit te kry met die spaan en ‘n vurk en plaas hulle toe in bak nommer  vier – ook ‘n diep-bak, en ek plaas hulle netjies opmekaar, net vir die afhaal en in die pan bak. Eers is die pan te koud en maak nie eers ‘n sisgeluid nie en ek moet die broodjie eers weer uithaal. Dis toe al die tweede keer dat die jong buurvrou se mannetjieskat oor die onderdeur spring en ons katte se kos kom vreet. Ek vat hom vir ‘n tweede keer en sit hom by die deur uit met ‘n gedwonge glimlag, want Ronel het gesê as ek hom ordentlik verwilder dan piepie hy die hele huis vol.

Dis toe dat witkat op die vloer kots – al die melkies en wat nog ‘splash’ sy uit oor ‘n redelike wye area – gelukkig is dit wit dat mens dit kan sien en nie so maklik daarin trap nie. Maar mens werk nou met kos en kan dit nie sommerso begin opvee nie. Ek soek toe die  papier-handoekrolle wat ek verlede week gekoop het ek skeur toe seker so vier of vyf velle af en bedek die kots daarmee. Dit word lekker in die papier opgesuig. Darem goed van die kapillêre kragte in die papier wat gewillig die werk doen.

Intussen begin die natuur roep en ek besef ek sal nie die  broodmaakproses kan klaarmaak nie, vanweë ander dringende fisiese imperatiewe. Teen my sin moet ek eers badkamer toe waar ek darem kans kry om terselfdertyd so ‘n bladsy of twee van my daarnaasliggende boek te lees. Vir ‘n tweede maal hande was om vanselfsprekende redes en  peil reguit kombuis toe. Gelukkig sien ek die wit handoekpapier op die grond en trap nie daarop nie. Gelukkig slaap die gaste nog.

Op pad uit merk ek die bed is nognie opgemaak nie en ek het ‘n kleintjie dood daaraan (Gelukkig nie letterlik nie). Daarom – so half in die verbygaan, trek ek die onderlaken reg, die bo-laken ook en gooi die duvet op. Dan net die kussings en siedaar! Die bed lyk vir my skaflik maar ek WEET dit sal nie goed genoeg wees vir die alsiende vroue-oog nie.

Nou weer die plaat aansit en laat warm word. Aangesien dit ‘n paar minute neem besluit ek om gou die plante op die stoep nat te gooi. Hoewel ek almal laat weet het om die gieter op die stoep ALTYD VOL water te laat, is hy leeg. Nou eers hom gaan volmaak by die buitekraan, maar dan is die pan warm en ek sit die gieter net by die plante neer.

Ek gebruik nou die teflon-spaan om die boonste eierbroodjie van die stapeltjie af te lig. Dit was ‘n korsie met sy gebakte kant na onder en ek kry hom redelik netjies afgeskep – alhoewel die bak te diep is vir die spaan om ordentlik onder die broodjie in te wig. Hy val sissend in die pan. Toe bel my seun van Springbok af om te hoor hoe dit met ons en die baba’s en die sussie gaan. My hande is so vol dat ek nie eers die foon op ‘speakerfoon’ kan sit nie en ek raak al hoe benouder dat die broodjie in die pan sal brand – maar die teflonbelyning bring sy kant. Uiteindelik is die gesprek klaar met “dankie dat jy gebel het” en ek kan die broodjie omdraai, maar ek het twee hande nodig omdat die pan aanhoudend van die plaat afglip. Hy is so glad op die plaat mens sou dink die teflon is op die onderkant!

Toe kom die kritieke faling. Toe ek die volgende broodjie, nogal een van die  fênsie saadbroodjies van die stapeltjie wil aflig, wil hy verdeksels niks daarvan weet nie. Hy klou aan die maatjie onder hom soos  iets in ‘n wolkombers (Verskoon die vergelyking terwyl mens met kos besig is). Ek kry hom aan die kante losgewoel, maar hier in die middel ruk hy ‘n gat uit die onderste brood en ek is verplig om die een-en-‘n-halwe-sny toe maar as ‘n eenheid te bak, en die een onder hom as ‘n soort van ‘n ring, met die gat wat in die middel uit is. Hierdie katastrofe herhaal homself tot  amper by die onderste snywe – net die ferm Rooibos-bruin brood behou redelik hulle identiteit. Party van die brode lyk hier en daar soos ‘n gebakte eier en ander het weer nie genoeg eier opgesuig nie en lyk amper soos gewone roosterbrood.

Gelukkig kom Ronel toe die kombuis binne en sommer so in een beweging maak sy die vloer skoon waar die kat gemors het en  ‘n klomp ander dinge en woerts-warts is sy weer uit. Ek gaan gee gou die plante water en maak die gieter gou weer vol. Ek sit die broodjies in ‘n plastiese bak en moet gou ‘n papier opsit want een van daai groen brommers soek aanhoudend net ‘n plek om te gaan sit. Ek is so vies vir myself dat die eindproduk so sleg lyk, maar hoop dat dit darem goed sal smaak.

Soos ‘n goeie man betaam sit ek die berg skottelgoed wat ek vuil gemaak het in die wasbak en was dit gou, droog dit af en bêre dit terstond. Ook die beskuitblik wat ek op die tafel vergeet het en die kinders se speelgoed en medisyne wat rondstaan – dit moet yskas toe.

Gelukkig eet die kinders die broodjies op asof dit uit die hemel geval het – die fisiese voorkoms daarvan ten spyt. Ek neem self twee met karamelstroop en dit smaak nie te onaardig nie! Ceciel sê toe mens kan die hele proses red deur die finale produk net ‘n nuwe naam te gee en ek besluit toe op ‘Karel’s Battered French Pieces’

Toe ek doodmoeg klaar is en weer kon begin dink oor die saak besef ek dat Schrödinger of die ‘many-body-problem’ maar eintlik vulletjies is.  Daar is mos ‘n spreekwoord wat sê: ‘The solving of a problem lies in the finding of a solver’.  Dit laat my toe dink dat dit miskien sal help as ‘n man vier vroue het: Een vir die kombuis, een vir die wasgoed, een vir die kinders en een vir die mooigeit – dit sal dinge seker baie makliker maak. Ek  dink die moslems laat vier vroue glo toe en tot Zuma kry soiets reg in ons land!?. Net jammer party faksies van dié geloof kap maklik mense se koppe af, as mens die televisie kan glo.

Wil een van julle dapper mans nie dié oplossing probeer en ons ander adviseer nie? Ek hoop netnie jy is later so spyt dat jy dink dis beter om jou liewer jou eie kop af te kap nie!

---000---

KPJ Nel

2015-11-10

 


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer