Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-11-14 Views:  659
Author:  karelnel
Published in:  HartTalk/HartPraat
Vervreemding

Vervreemding

 

Ons was nog baie primitief in ons kinderdae daar op die  Vrystaatse plaas. Ek en die swart seuns het saam gespeel en my pa en die ou swart werkermans het ons ge-m**r as ons stout was. Ons het g’n niks met apartheid te doene gehad nie en behalwe vir  ons onderlinge verskille as seuns het ons van geen sout-of-water van die broeiende ‘apartheidsonheil’ geweet nie. Een ding wat ek geleer het en wat soos ‘n paal bo water staan – jy moet netnie ‘n swart kind se ma vloek nie. Dan kry jy rêrig moeilikheid wat nie einde het nie. Jy soort van ‘permanently ruin the friendship’. Selfs in die diereryk sien mens mos die verbintenis tussen  ‘n kleintjie en sy ma.

Ek was ‘n Tukkie en het altyd Maties as opponent-universiteit beskou. In my oë was my Alma Mater altyd beter, al het ons meestal  Intervarsity verloor. Die Blou bulle het daardie jare gewoonlik gelukkig daarvoor opgemaak. Tog moet ek erken dat in baie opsigte was Maties beter. Byvoorbeeld hulle Ingenieursgraad – na 5 jaar stap jy uit met ‘n ekwivalente nagraadse kwalifikasie waar ek met my vierjaar-bloedsweet maar net met ‘n Baccalaureus graad kon spog. Noodwendig moes ek erken – ek het respek vir Maties  geleer.

Stellenbosch en die wêreld daarlanges was die broeikas vir ons taal, Afrikaans. Daar is iets van die siel van ons menswees as Afrikanermense gebore – ons taal, die tregter waardeur ons ons lewe uitgiet. Soos ‘n naelstring waarmee mens aan jou moeder verbind is.

Die universiteit van Stellenbosch is gebore uit hierdie moeder – Afrikaans. Nie andersom nie.

Maties – hoekom het julle by monde van julle rektor nou ons moeder gevloek?

---000---

KPJ Nel

2015-11-14

 


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer