Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-11-23 Views:  870
Author:  karelnel
Published in:  Interesting/Interessant
Stilbaai Huispryse

Stilbaai Huispryse

 

So- toe sê ek vir myself: “Self – dis maar ‘n goeie ding dat die Trust die huis wil verkoop”.

 

Ek onthou goed toe ons die eerste keer hierheen gekom het. Dit was 1974 of omstreke. Vra maar vir Ronel want sy onthou nog sy was swanger met Lize en het so ‘n rooi toppie gekoop vir die okkasie.

 

Pa het vir ons twee rondawels gehuur in Stilbaai-Oos, naby die hotel en ek en Ronel en die meisies het in een geslaap, en pa-hulle en Francois in die ander een. Want sien, hulle was nognie getroud nie – ek bedoel natuurlik Francois-hulle.

 

Ek onthou goed hoe lekker die seewater was. Mens het sommer met ‘n smile daar ingeduik en in die branders baljaar. Elke Jan Rap en sy maat weet mens se liggaamstemperatuur is  in die omgewing van 36-37 grade C, en daarom skat ek was die seewater temperatuur so om en by die 28 – 30 grade C – vandaar dat mens so lekker geswem het.

 

Deur die jare het iets onrusbarends egter geleidelik gebeur. Elke keer as ons hier gekom het, was die see ‘n bietjie kouer. Ek kan dit nie mooi verklaar nie, maar kan aan twee moontlike redes dink:

 

  1. Elke Jan Rap en sy dinges het tog al gehoor van die sogenaamde “global warming”, maar wetenskaplikes het bewys dat die aarde se klimaat eintlik kouer geword het. Dit kan een rede wees.
  2. Elke Jan Rap en sy pampoen weet tog dat as water verdamp dan koel dit af. Nou as mens op die strand staan en sien hoe die golwe aanhoudend inrol dan besef mens hoe baie water verdamp, en dus MOET die water mos afkoel. ‘n Ander bewys is die wolke – waar dink julle kom hulle vandaan?

Toe Ronel en ek vanmiddag weer daar gaan loop kon ek skaars my voete in die water hou so koud was dit. Ek skat dit moes so in die omgewing van 14 – 15 grade C wees. Ek sê jou : Dit was ‘n riller.

Elke Jan Rap en sy idioot kan nou bereken dat van 1975 tot 2015 is 40 jaar. Oor die tydperk was die temperatuurval van 30 tot 15 grade (by benadering), dus ongeveer 15 grade in 40 jaar. Dis nou maklik om te sien dat oor nog 40 jaar die see hier by Stilbaai net een blok ys sal wees, want elke Jan Rap en sy Aap weet dat water vries by 0 grade C. Dan wil ek nie hier wees nie. Genuine. Seblief.

 

Teen daai tyd sal die huispryse al so geval het dat mens ander mense sal moet betaal om die huis van jou hande af te neem. Die huispryse sal toetentaal in hulle maai wees en sal nie weer optel nie, tensy mense teen daardie tyd hier sal wil kom ski en skaats, maar dis nie vir my nie.

 

Dis hoekom ek gedink het dis nou ‘n goeie tyd om die huis maar in die mark te sit...

 

---000---

KPJ Nel

2015-04-10

 


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer