Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-11-23 Views:  798
Author:  karelnel
Published in:  History/Geskiedenis
Grootoupa Gert Van Zyl

Grootoupa Gert van Zyl

My grootoupa van Zyl se bynaam was Dowe Gert.

Hy was ‘n legende in die Oos Vrystaat omgewing aangesien hy ‘n vaardige bouer met klip was. Die Oos Vrystaat is bekend vir sy sandsteenformasies en daaruit is  klippe gekap om mee te bou. Oupa van Zyl het verskeie kerke gebou (ek weet net van Kestell se kerk) en ook onder andere die pastorie op Clarens. Terwyl hy die bouer was, het hy ‘n span klipkappers gehad wat die klippe moes kap, waarvan my oupa Karel op ‘n tyd deel was.

Natuurlik het hulle nie toegang gehad tot vandag se plofstoftegnologie nie en om die klip te breek was ‘n moeisame proses. Ek is nie seker of hulle soms buskruit gebruik het om klip los te skiet nie, maar wat ek weet is dat hulle ‘n ry gate in die rots ingeboor het en dan houtkeile in die rots ingekap het totdat ‘n hele fasade rots afbreek. Dan is die individuele klippe op maat afgewerk met ‘n hamer en beitel en ‘n mens is verbaas oor die vakmanskap as jy vandag by een van die kerke kom, en na die klipwerk kyk. Die klip-stene is redelik groot en swaar en mens kan jou maar net verwonder oor hoeveel krag en arbeid dit geneem het om die swaar stene rond te karwei tot dit op die bouperseel beland het. As mens by hierdie kerke kom en jy gaan bietjie stilstaan, dan sal jy hoor dat elke klip roep uit na jou om sy storie te vertel.

Ek het ‘n foto van oupa van Zyl gesien waar hy met ‘n klipkappershamer in die hand staan. Wat was my verbasing groot toe ek onlangs op ‘n besoek aan Ierland by een van die antieke Engelse kastele in Lymeryck  hierdie tipe hamer gesien het. Dit bestaan uit ‘n groot plat silindriese hout kop (amper soos ‘n groot pynappel, net bietjie vetter) waardeur ‘n houtsteel gepas is. Ek sou wat wou gee om te sien hoe die meester klipkappers te werk gegaan het.

Pa Gert vertel dat oupa van Zyl nie met die boere-oorlog op kommando kon gaan nie, omdat hy doof was. Hy het egter tog aan die oorlogspoging deelgeneem deur die ammunisie vir die kommando’s weg te steek. Ek weet nie mooi wanneer dit gebeur het nie – seker in die eerste vryheidsoorlog – maar ‘n liddietbom het glo onder sy perd gebars – en van daar af was hy stokdoof. Ten spyte van sy doofheid, vertel pa Gert, het hy elke Sondag voor in die kerk gesit, en kon bykans elke woord onthou wat die dominee gepreek het!

Op ‘n dag het ek pa Gert Clarens toe gevat en hy wou oupa van Zyl se graf gaan opsoek. Pa Gert kon nog onthou min-of-meer waar die ou begrafplaas was. Ons moes deur die draad klim aan die voet van die berg en het gesukkel om tussen die ruie struike en gras die grafte te kry. Die meeste van die grafstene was van sandsteen en die grafskrifte het lankal wegverweer. Toe kom ons op ‘n netjiese granietsteen af – die van oupa en ouma van Zyl! Ek wens ek kon langer vertoef en bietjie daar sit om die stories te hoor wat dié vertel, maar ons moes verder. Dis eers toe ek later stilsit by die huis dat dié stemme teruggekom het:

 

Grafsteen

 

Onder die digbegroeide bos

soos dit lank voor jou tyd daar was

in die berg se vroegskaduwee

en verskillende soorte gras...

 

Lank weg die huis waarin jy woon

selfs jou spore het al verdwyn

vergete jou goeie dade

vir altyd weg is al jou pyn...

 

Die land wat jy so goed bewerk

en oral waar jy  heerser was

het vir goed vervaag en verdwyn

en oral is daar net weer gras

 

Die klip hoekpilare staan nog

en mens wonder of jy moet huil

want die klip in verwoesting sê

net hier rus sy vrou en van Zyl....

---000---

 

2006/04/30

 

KPJ Nel

2015-01-23

 


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer