Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-11-23 Views:  911
Author:  karelnel
Published in:  Stories
Hoe Om Te Voorkom Dat Jy Stinkryk Word

Hoe om te voorkom dat jy stinkryk word

Pa Gert vertel van die oorlogsjare toe hy as vakleerling, pas na sy studies, die skoene van ‘n telefoonelektrisiën dadelik moes gaan volstaan aangesien die “manne” almal op was Noorde toe. Hy was ewe skielik  grootmeneer met baie verantwoordelikhede en het ook sommer ‘n rooi poskantoorlorrie gekry om mee in die Wepener Distrik die uitgebreide telefoonnetwerk te diens – tot selfs in Basoetoeland in. Dit was nog die dae van oorhoofse koperdrade en plaaslyne en groot ou slingertelefone. Hy vertel nog ondeund hoe baie die oorlog-grasweduwees op die plase foute op die telefoon gerapporteer het wat hy en sy boi herhaaldelik moes kom regmaak, maar sy hart was natuurlik by die Grobler-poppie op die sentrale.

 

Nou het die poskantoorlorrie destyds vir ander dinge ook diens gedoen daardie tyd, soos byv springhase jag. Die banke van die Caledon was vrot van die springhase en hulle was eintlik ‘n pes. Die staat het geld betaal vir elke springhaas wat geskiet word. Ek kan nie onthou of dit die ore was of die stert nie, maar een van die het ‘n sjieling verdien (of ‘n tiekie) by die magistraatskantoor.

 

Natuurlik het donderstorms baie probleme veroorsaak op die telefoonlyne. Behalwe dat pale omgewaai en drade gebreek is, het die weerlig baie skade aangerig. Hy vertel hoe hy gesien het dat as die weerlig behoorlik slaan die vonke vir  honderde treë op die koperlyne afrol. Dan moes jy natuurlik sorg dat jy nie erens op ‘n paal gesit en werk het nie.

 

Hy vertel hoe hy eenkeer weer Basoetoeland moes in agter ‘n lynfout aan – daardie tyd natuurlik nog alles grondpaaie. Daar diep in die berge hou hy ‘n slag stil – seker om koffie te drink – toe daar ‘n man aangestap kom. Hulle groet en hy stap eers verby maar kom later terug. Na bietjie geselsie kom hy met die hele sak patats vorendag. “Wil die baas hulle nie hê nie?..”

“Wil ek wat nie hê nie?” Die man haal toe ‘n vuil twaksakkie uit sy sak en skud die inhoud op sy linkerhand uit. Die grootste, mooiste, heerlikste, aanloklikste, glinsterendste ongeslypste klippies van allerhande skakerings wat hy nog nooit gesien het nie – komende diep uit die hart van die bergkoninkryk. Daar is iets van ‘n koue bergstroom in die atmosfeer of die beswyming wat die dun berglug mens aandoen want dit lyk of daar ‘n donderstorm se elektrisiteit op daardie hand speel.

 

Ek weet nie, maar seker na ‘n lang tydjie se dink, sê hy toe vir die arme verkoper dat hy nie sal weet wat om met die mooi goedjies te doen nie en koebaai. Daai man het hy nooit weer raakgeloop nie en dis hoekom ons nooit stinkryk was nie!

---000---

KPJ Nel

2015-01-13


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer