Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-11-24 Views:  676
Author:  karelnel
Published in:  Stories
Oppas Voor!

Oppas voor!

Oupa Gert vertel toe hy ‘n jongman was het hy en ‘n maat ‘n klompie meisies drive-in toe gevat. Ek kan nie onthou of hulle met sy poskantoor-rooilorrie gery het nie, maar in elk geval die vriend het die aand bestuur. Die vriend het ongelukkig die gewoonte gehad om erg te hakkel as hy opgewonde raak.

Daai tyd se lorries het nog baie plek voor gehad en al vyf of ses van hulle het sommer voor  langs mekaar gesit – styf gesit! –om na die prent te kyk. Om darem bietjie asem te haal het hulle die deure oopgemaak, sodat daar bietjie meer ruimte was. Nou, die inry was teen ‘n skuinste geleë sodat die lorrie en karre so half teen die opdraande gestaan het met die ‘screen’ daar heel bo, en natuurlik die paaltjie met die ‘speaker’ hier aan die kant.

Die sports het eintlik begin toe die fliek verby is. Hulle vat toe die pad teen die afdraande af maar oupa se deur is nie heeltemal toe nie. Hy skree dat die maat bietjie moet wag, maar die laat weet net hy moet die deur toeslat en klaarkry. Dis met die dat hy die deur teen homself toeslat dat die kragte al lans die ry van menselywe oorgedra word tot teen die ander deur wat toe van die spanning oopspring en die drywer val by die deur uit.

Gelukkig behou hy teenwoordigheid van gees en hy hou vas so al wat hy kan aan die stuurwiel en draf hier langs die trokkie, wat natuurlik al hoe vinniger langs die afdraande af spoed optel. Hoe later hoe kwater.

Van verbouereedheid kom sy kwaal toe te voorskyn en hy skree hier in die kajuit in :” Traaaa... traaaa..... traaaa ... traaaaaaa..” terwyl die lorretjie al vinniger op die hekpaal afpeil en hy sy bes doen om hom in die pad te hou.

Maar helaas! Hy loop hom met ‘n slag vas in die hekpaal, met die bestuurder wat net-net slaag om in te spring, en natuurlik saam met almal teen die voorruit beland.

En al wat hy kon uitkry is : pie-pie-pie ..ppie briek!”

---000---

KPJ Nel

2015-01-07

 


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer