Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-11-24 Views:  763
Author:  karelnel
Published in:  Stories
Vroee Waarskuwing

Vroeë Waarskuwing

Pa Koos vertel op ‘n dag van die tyd toe hy nog in Pietersburg die Spoorweë se hoofklerk was. In die kantoor was sulke ekstra groot tafels waarop daar reuse velle papier uitgesprei is en waarop hulle die treine se roosters op uitgeskrywe het – nogal ‘n moeisame taak wat baie konsentrasie geverg het en wat baie netjies en noukeurig gedoen moes word. (Dit was laaaaank voor die tyd van computers en sulke dinge)

Daar het toe iets met die plek se ligte fout gegaan en hulle kon nie meer so lekker sien wat hulle doen nie, en ‘n elektrisiën het alliepad van Pretoria se ingenieurswerkswinkels af gekom om die probleem te kom oplos. Dit was nou weliswaar ‘n gawe mannetjie, maar die probleem was dat hy gehakkel het, en dit was maar ‘n gesukkel om lekker te kommunikeer.

Hy is toe uiteindelik met sy gereedskappies in die plafon op om die fout te soek en het heen en weer op die plafon rondgesoek na die fout, en nou en dan het daar so bietjie stof deurgesif deur die  houtplanke van die plafon, tot die konsternasie van die klerke hier onder.

Ewe skielik was daar ‘n rumoer en die elektrisiën begin te skree van doer bo af: “Pa..pa..pa..pa..pa..” en toe kom hy deur die plafon geval, boude eerste steeds skreeunende “..pa..pa...pa..pa..” al die pad ondertoe.

Hy tref die groot tafelblad met die roosters op met ‘n allemintige slag terwyl die walms van bo-af afkom soos ‘n stofstorm in die kalahari. Die groot blad breek middeldeur en vou onder hom weg en langs hom toe dat hy soos die ham in ‘n toebroodjie bedek word.

Toe alles stil word toe skree hy “...sop-p-p-p!”

---000---

KPJ Nel

2015-01-05

 


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer