Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-11-24 Views:  1559
Author:  karelnel
Published in:  Stories
Rooiboor

Rooiboor

As masjiene siele gehad het sou die rooi Dreyersbore almal seker hemel toe gegaan het. Daar is nie nog ‘n masjien wat meer goeie dade gedoen het in die dorre Vrystaat as juis hulle nie.

Toe my pa aftree byt die gogga hom en met van sy aftreegeldjies koop hy ‘n regte rooi waterboor gebou deur die Dreyerswerkswinkels in Bloemfontein. Hy was nou wel tweedehands, maar hy kon sy ding nog doen, want pa en sy oorlamse plaashulp, John, het ons stukkie grond omtrent vrot geboor op soek na daai sterk water wat daar moes wees - amper soos die perforasies aan die kante van ‘n posseël.

Die boor was ‘n yslike staal stellasie gebou op ‘n soort van ‘n sleepwa wat mens met ‘n trekker of ‘n lorrie moes rondtrek tot waar hy moes boor. Hy het ‘n allemintige dieselmasjien gehad (ek kan nie onthou of dit ‘n Deutz met twee groot vliegwiele was nie), en die ding kon loop dat die biesies bewe. Natuurlik was daar ‘n soort van ‘n koppelaar waarmee die enjin in-en uitgeskakel kon word.  ‘n Stelsel van klein ratte het beweging oorgedra na groot ratte wat uiteindelik twee lang oorlangse staalbalke, wat aan die agterkant van die boor bevestig is op allemintige laers laat op-en-af skarnier het. Op die voorpunt van die boor was daar ‘n stewige dwars-as wat tussen die balke geloop het met ‘n moewiese  poellie op.

Aan die voorkant is die boortoring regop gemaakstaan, vanaf die opgevoude posisie bo-op die boor se rug as die boor moes reis, ook met ‘n ewe moewiese poellie op die top. Agter op die boor was ‘n stel van staal katrolle waarop ‘n lang staalkabel netjies gerol is (eintlik twee stelle). Vanaf die katrolle of dromme loop die staalkabel onder die eerste  moewiese poellie deur, op teen die toring, oor die boonste moewiese poellie en dan weer af – want aan die kabel hang dan die boor se stamper of beitel. Nou werk dit so – as die enjin deur die koppelaar ingeskakel word begin die twee oorlangsebalke  op en af beweeg en dit trek die kabel deur hefboombeweging op en af wat op sy beurt weer die beitel op en af beweeg. Dit was natuurlik die idee want die beitel, wat ‘n flippin swaar en lang silindriese stuk staal was, met ‘n spesiaal gevormde punt (wat mens kon afskroef en vervang) kon dan die grond stamp en stamp in sy maai in en so ontstaan ‘n boorgat.

Natuurlik sal dit nie help as mens nou net begin stamp en stamp tot in ewigheid nie, want waar sal die fyngestampte aarde dan heengaan? Daarom moet mens  van die begin af water in die gat gooi en die boorpunt maak lekker modder of brei van die fyngestampte rots. Elke nou en dan word die beitel opgetrek en dan word die  byler in die gat afgestuur om die modder  uit te skep. Dis nou ‘n eenvoudige maar elegante stukkie ingenieurswese. ‘n Byler is ‘n lang staalpyp wat net in die gat pas en aan die onderkant ‘n ronde opening het waarin ‘n yster balklep netjies pas. Die bal het aan die onderkant ‘n langerige ysterfin wat die bal opdruk en die onderste opening oopmaak sodra hy onder in die gat aanland. Dan loop die byler vol modderwater. Sodra die byler weer gelig word forseer die water die balklep toe en dan kom die byler met modderwater boontoe. Dit word dan ‘n entjie van die boor af uitgelaat in ‘n voortjie, maar nie voordat eers ‘n monsterjie geneem is om die formasie te bestudeer nie.

So hou die proses dan aan en aan totdat jy die wateraar raakboor, dan hoef jy nie meer water in te gooi nie. Dan die gat nog bietjie dieper boor sodat daar ‘n ruimte onder in die gat is waarin die water kan versamel waaruit dit gepomp kan word. Om te meet hoe diep die water is het die boorman ‘n draad van presies 3 voet lank gevorm met twee ogies aan die punte waardeur twee van sy vingers gedruk word. Soos die boor beitel oopgetrek word, word die draad al langs die kabel afgepas terwyl die boorman tel hoeveel kere dit inpas tot waar die staalkabel nat word. Daardie aantal, vermenigvuldig met drie gee dan die water se diepte in voete. Hoe weet mens of daar water is – natuurlik kan die boorman dit sien aan die boorpunt, maar die opwindendste is om saam met die boorman in die gat af te kyk terwyl hy die sonlig met ‘n spieel daarin weerkaats en mens die mistieke blink oppervlak daaronder in die donker gat kan sien!

Op ‘n dag toe my pa nog so boor en ou John die byler uitgooi met die modderwater, spoel daar ‘n klein paddatjie uit. Dit het kompleet gelyk of hy uit die byler uitkom. Pa en John was ewe verbaas. Pa vra toe vir John: Ou John sê my – waar kom hy vandaan? Auk my oubaas – sê hy – hulle bly daar onder! Wat beteken dit?? Vra pa hom toe. Nadat ou John laaaank gedink het sê hy: Oubaas – dit beteken ons gaan water kry of ons gaan nie water kry nie!

Dis nou profeties!

Groete

K

2014-12-30


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer