Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-11-24 Views:  783
Author:  karelnel
Published in:  Stories
Oupa Gert Se Verhale - Om Betyds Te Vlug

OM BETYDS TE VLUG

 

Ons het ‘n lieflike kleinhoewe besit, geen drie kilometers van die stadsgrens af nie. Ons was doodgelukkig. Alles wat die stadsmense gehad het, het ons gehad, plus heelwat meer.

Ons eie twee melkkoeie en ‘n dertigtal skape het ons van meer voorsien as wat ons aan hulle spandeer het. Dan was daar nog die hoenders, ganse en makoue. Ook groente en vrugte het ons in oorvloed gehad.

Toe verander dinge. In die nuwe Suid-Afrika het die plakkerskampe by die dag gegroei, en die mense se behoeftes was groot.

“Jy moet die plek verkoop solank jy nog ‘n prys daarvoor kan kry.” So het my pa my keer op keer gemaan. Maar my paradysie verkoop? Nooit! Ons wou niks daarvan weet nie.

Toe begin die teëspoed ons ry. Eers was dit net hoendereiers wat verdwyn en toe ‘n hoender of twee. ‘n Week later het drie skape op ‘n onverklaarbare wyse uit die kraal verdwyn. Die skrif was aan die muur.

Ons het ‘n hoë heining gespan en diefwering by al ons deure en vensters laat aanbring. Ons was nog besig om af te betaal aan die spreiligte en ander veiligheidsfoefies toe daar sommer sewe skape verdwyn. Die grensdraad aan die plakkerskamp se kant is netjies geknip en saam met die ysterpale verwyder.

Dit was die laaste strooi. Dieselfde dag nog, het ons ons paradysie in die mark gesit. Na ‘n week se rustelose nagte, kom ‘n Meneer Johan van der Merwe daar aan. Half neusoptrekkerig het hy alles bekyk.

“Hoekom hou julle nie kwaai honde aan nie?” vra hy beterweterig.

“Ek het twee gehad,” moes ek erken. “Een is vergiftig en die ander een het net verdwyn.”

“Nou wat vra jy vir die plek?”

“Honderd-en-vyftig duisend. Eintlik wou ek baie meer...”

“Wat?” skree-vra hy. “Anderkant die stad sou jy dit miskien kon kry, maar hier – jy’t ‘n hoop.”

Ek het my bloedig vererg en was lus en jaag die skepsel weg. “Meneer Van der Merwe, kyk na die gehalte van die geboue. Kyk na die swembad en...”

“Ja Meneer, kyk die vertrapte heining en kyk oos na die plakkershutte. Honderdduisend sal ek vir jou gee en nie ‘n duit meer nie.”

Eintlik wou ek weer die vent wegjaag, maar uiteindelik is die koopkontrak geteken. Na ‘n maand het ons stad toe getrek met net honderdduisend in die bank, en verder niks. Ons het later ‘n huisie in die stad gekoop, en na ‘n periode van aanpassing was ons redelik gelukkig.

 Na bykans ses maande het ek besluit om my ou woonplek te besoek. Ek was nuuskierig om te sien hoe die Van der Merwe-kêrel agteruit boer.

Ek kon my oë nie glo toe ek die werf binnery nie. Hoenders het die werf vol gestap. ‘n Groot kalkoenmannetjie het pronkend tussen ‘n tiental wyfies geloop. Die tuin was ‘n lushof om te aanskou. Die skuur se deur het oopgestaan en ‘n troppie lammers het in die groenvoer baljaar.

My ou tuinman het lui-lui uit sy tweevertrek-huisie gekom. Sy groet was besonderlik vriendelik.

“En toe Elias, waar is die mense?”

“Nee, Seur, op Woensdag speel die seur en die madam heeldag gholf.”

“Bly jy lekker?” vra ek hom.

Sy gesig straal. “Auk Seur, baie, baie lekker.  Goeie man dié Van der Merwe.”

“Hoe lyk dit dan vir my of die plakkers se kaias nou verder weg is as toe ek hier gebly het?”

“Au Seur, ek weet nie mooi nie, maar die mense sê hierdie Seur Van der Merwe steel vreeslik. Hulle sê mens kan nie naby hom bly nie. Hy steel al die goed en die polisie kan hom nie vang nie. Hy is baie slim.” 


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer