Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-11-26 Views:  722
Author:  karelnel
Published in:  General/Algemeen
Die Kakies

Die Kakies

 

Toe ek nou-die-dag die Osborne House op die Isle of Wight naby Engeland besoek het, kon ek nie help om aan die boere oorlog te dink nie. Hierdie paleis was natuurlik Kwien Victoria se vakansiepaleis, as sy moeg geword het vir die res van die Ingelse en dan het sy en haar familie hier kom uitspan op die reuse landgoed, in die grootste weelde van alle denkbare vorme. Sy was natuurlik die regentes met die twee boereoorloë. Wat my aan die oorlog laat dink het was haar "kantoor" in die luukse paleis, waar sy en haar raadgewers kon vergader en besluite neem het in die luukse en veilige omstandighede, terwyl my voorvaders op hulle perde in die veld rondgekerjakker het om die Tommies of die Kakies te beveg, en die Kwien se besluite te probeer ongedaan maak.

Nou het ek al 'n bietjie ondervinding in my lewe van soldate - trouens ek was vir 'n aansienlike deel van my lewe self 'n semi-soldaat. (Deeltydse magte). Hulle kan vier dinge goed doen: Veg, Vloek, Vertoon en die laaste een (ook met 'n V) sal ek nie nou hier noem nie - dit sal net julle aandag aftrek van wat ek wil vertel. Hulle is goed in hieridie dinge, maar ek is nie seker of hulle goed vir enigiets anders is nie (?) Oor die vloek kan ek op 'n ander keer praat, en miskien oor die veg ook. Maar oor die Vertoon wil ek iets se.

As daar nie gevegte aan die gang is nie, dan moet ons parade hou. Dis die basis terrein netjies maak, al die geelkoper deurknoppe en vensterhingsels blinkmaak, die paradegrond vee, die klippe langs die paaie witkalk en weer witkalk, elke papiertjie optel, die bome en tuine water gee, die troepe inoefen vir die parade, en hulle weer en weer laat inoefen, die orkeste laat oefen, die voertuie laat skoon was, hulle bande polish, seker maak dat hulle in lopende toestand is. Dan ordergroepe en voorbereidings, voorbereidings, voorbereidings. Die gastelys en die protokol daaraan verbonde, wie sit waar en langs wie in watter volgorde, die catering vir almal (vir die troepe apart in hulle mensasie), die spesifieke vorm van die parade en dan die uniforms. Dis vaandels en vere en vlae. Alles wat kan blink moet ge-brasso word en die skoene moet ge-"bone" word. Dan kom die parade en omdat soldate so goed kan beplan werk dit goed uit, al kry die sammajoor amper 'n hartaanval, en die generaal maak sy spiets, en ons eet die versnaperings en almal gaan huistoe en die troepe moet alles opruim. Mar dit bly maar 'n grênd affere. En die mooi uniforms is deel daarvan.

Nou weet ons mos almal die Ingelse soldate het destyds rooi baadjies gedra - trouens ek dink hulle is soms die 'rooibaadjies' genoem. Die van julle wat nou al die seremoniele soldate in London gesien het, sal weet die rooi baadjies is flippen mooi. Dis om die waarheid te sê sommer spiekeries en pronkerig. Veral as hulle nog daardie groot wollerige hoed of 'n klompie volstruisvere ook daarmee saam dra. (Waar kom die term 'rooinek' vandaan?) Nou het die rooi uniforms sy slegte en goeie eienskappe gehad. Een slegte eienskap was dat die kleur nou nie juis bevorderlik was vir kamoeflering nie, en kamoeflering is nogal belangrik vir 'n soldaat, want as jy jou nie kan kamoefleer nie, dan stel jy jou op as 'n teiken, en hulle skiet op jou - en dis mos die bedoeling van oorlog. 'n Mens kan dan mos maklik seerkry. Maar dit het ook 'n groot voordeel. As 'n mens gewond word, kom daar normaalweg bloed uit en as daar genoeg bloed uitgelek het gaan mens dood. Nou weet ons ook bulle word kwaad as hulle bloed sien (word hulle?) maar mense skrik of word bang as hulle bloed sien. (Party val flou). Nou, as jy 'n soldaat is en jou maaikie hier langs jou word gewond en hy begin uitbloei, dan skrik jy sodanig dat jy dalk kan dink dis nie so 'n goeie idee om vorentoe te gaan nie, maar eerder agtertoe. In die generaal se oordeel is dit gewoonlik nie so 'n goeie idee nie.. Dis toe dat hulle die plan gemaak het - gee hulle rooi baadjies, dan is die bloed nie so opsigtelik nie. Laat hom dan maar daar val as hy moet val, ons sal hom later as held verklaar vir volk-en-vaderland - maar laat sy maaikies tog net vorentoe bly gaan! En daarvoor kon die rooi baadjies tog help.

Ek kan my voorstel dat een van die topgeneraals eendag by Kwien Victoria aangedoen het by haar kantoor in Osborne House. Omdat, so glo ek, sy vir haar onderdane omgegee het, het sy dalk oor 'n koppie (high?) tea vir die generaal gevra: "Generaal, vertel my bietjie, hoe gaan dit met ons boys daar op die slagvelde van verre suider Afrika?" Omdat, so glo ek, die generaal 'n eerlike mens was, sou hy toe vir haar vertel: My liewe Kwien, dit gaan goed, behalwe dat daardie klomp boere skiet die dinges uit ons uit!"

Dis toe dat sy kom met die briljante oplossing : Gee dan liewer vir hulle khaki-uniforms!

En so was dit.


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer