Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-11-26 Views:  839
Author:  karelnel
Published in:  Stories
Oupa Gert Se Verhale - Mamma Se Vryers

MAMMA SE VRYERS

 

Mamma en Tresia en ek is die weduwee en wesies in ons midde vir wie Oom Coenraad gereeld in die wyksbiduur bid. Dan bewe sy stem so dat dit amper klink asof hy wil huil. Ek het al vir hom geloer as hy so bid, dan sien ek hy loer met die een oog vir Mamma om te sien of sy ook vir hom loer. Mamma sê hy is ‘n ou jakkals en sy steek altyd vinnig haar hand uit as hy wil groet, maar wanneer hy te slim is vir haar, soen hy haar so met ‘n lekker toe-oog soen.

Pappa is nou al drie jaar dood. Hy is dood net voordat Tresia gebore is.  Die mense sê dit is hoekom sy so stout is – sy het nooit ‘n pa gehad nie. Hulle sê dit nooit vir Mamma nie, maar ek het dit al gehoor.

Verlede week was twee tannies van die Vrouevereniging hier. Mamma het hulle ingenooi en gevra hulle moet haar vir ‘n oomblikkie verskoon, want haar hande was vol deeg. Tresia het vlak voor die vet tannie gaan staan en met haar vingertjies die vetrolletjies om die tannie se maag geknyp. Die tannie het vreeslik vies geword en haar handjie weggestamp. Toe gaan sy na die ander tannie toe en probeer om haar handsak oop te maak. Die tannie het mooigepraat, groot oë gemaak en haar liggies op die hande getik.

“Stoute klein merrie,” sê sy so tussen haar tande deur, “as jy myne was, het ek jou dingesvelletjies afgetrek.” Ek weet nie of Tresia verstaan het wat die tannie sê nie, maar die volgende oomblik spuit sy die tannie so in die oog met haar tietiebottel.

Net toe kom Mamma by die deur in en ek kon sien sy weet nie of sy moet lag of skaam kry nie. Toe gryp sy maar vir Tresia en sê: “Stoute kind, hangkas toe.” Partymaal maak Mamma so as Tresia stout was. Dan sluit sy haar in die hangkas toe.

“Ag nee,” sê die tannie met die nat oog, “jy kan dit nie doen nie Nelie – dis so ‘n oulike klein meisie – hulle is mos maar woelig op daardie ouderdom.”

“Nee Tante,” sê Mamma, “sy ruk soms hande uit en dit is al straf wat haar tem.”

Tresia was doodstil in die hangkas. Ek was later onrustig en het my oor styf teen die kas gaan druk. Ek kon hoor dat sy met iets besig was, maar ek kon nie uitvind wat dit was nie. Die tannies het net vyf minute gesit en toe gegroet. Mamma is dadelik kamer toe en sluit die hangkas oop. Tresia was nie eers haastig om uit te kom nie.

“Ek het in jou hak-sthkoene hespoeth en in jou thandale hespoeth en nou gaan ek in jou slippers ok spoeth.”

“My kindjie, my kindjie,” raas Mamma, “wat moet ek tog met jou maak?!”

“Thoen my!” sê sy en toe is al Mamma se kwaad weg.

Ons bly op ‘n klein plasie tussen ander klein plasies so ‘n entjie van die dorp af. Mamma word vreeslik kwaad as die mense sê sy bly op ‘n plot. Sy sê hier is net een plot wat vyf hektaar, of so-iets, groot is. Dit is waar ou tant Miem bly. Dit is die tant Miem wat die ander dag kop eerste in die varkhok geval het toe sy die vuil water uit die vark se krip wou skep. Haar voete het glo gegly en daar staan sy kop onderstebo en sy kan nie af nie en ook nie op nie.

Ou Samuel het op die moles afgekom. Hy het net eenmaal geskreeu “Jônanaweh,” toe spring hy deur die draad om vir ons ou aia Vytjie te kom roep. Aia Vytjie sê toe hulle die ou tannie uiteindelik weer op haar voete het, het die varksog amper al haar agterkop se hare afgevroetel.

Mamma werk by die prokureur in die dorp. Sy sê dit is nie heeltemal nodig dat sy moet werk nie, maar dan sê sy altyd “’n mens weet nooit”.

Tresia en ek bly in die dag by ou aia Vytjie.  Sy sê sy is ook ‘n weduwee. “Glo al onder vyf mans deurgeloop,” sê Mamma. Vytjie is baie goed vir ons, maar volgende jaar gaan ek skooltoe, dan weet ek nie wat Mamma met Tresia gaan maak nie, want sy is veels te stout om alleen by aia Vytjie te bly.

Eers, na Pappa se dood, het ek en Mamma baie gehuil – sommer so maklik. Nou huil ons nie meer so baie nie en lag ons sommer baie meer. Partymaal lag ons sommer vir enige nonsens.

Die anderdag in die kerk was die predikant ‘n bietjie deurmekaar. Hy het nuwe mense in die gemeente verwelkom, en al die broers en susters genooi om die nuwe mense te besoek en te laat tuis voel. “Die broer en suster,” het hy vreeslik ernstig gesê, “bly in Voortrekkerstraat vers veertien”. Eers het ek net so “hugh” gemaak soos ek probeer het om nie te lag nie, en toe maak Mamma “hugh” om nie te lag nie. Toe druk ek my sakdoek in my mond en toe byt Mamma haar sakdoekie vas. Toe lag ek sommer so “gmf, gmf” deur my neus. Toe vat Mamma my by die deur uit. Ander omies en tannies het ook sulke snaakse hoesies en kreune gegee, maar arme Dominee het niks agtergekom nie.

Ander kere lag Mamma nie saam nie, dan raas sy met ons, soos die keer toe Tresia die kat se stert met die kers gebrand het. Die kat het so ‘n snaakse “mêêoui” geskreeu dat ek en Tresia ons lag nie kon hou nie. Mamma het nie gelag nie, want ek het gedink sy het nie rêrig gesien hoe hoog die kat in die lug opgespring het nie.

Mamma is mooi! Vir my is sy pragtig! Haar gesig is fyn en sy het sulke mooi rooi wange. Haar oë is blou net soos myne, maar haar hare is lig en gekrul.

Baie ooms het al vir haar kom kuier, maar een aand het ek gehoor een oom sê sy is befoeterd – ‘n woord wat ek nie ken nie. Ek hoor maar net altyd die ooms praat saggies met haar, en dan sê sy: “Nee, volstrek nie” of “Nee, jy sit nie die lig af nie”, of “Nee, ons gaan nie ‘n entjie ry nie”. Hoekom die ooms nou daaroor kwaad word, weet ek nie, maar dan ry hulle gewoonlik gou. Partymaal drink hulle nie eers tee nie.

Toe kom Mamma vanmiddag by die huis en ek kon sien sy voel lekker opgewonde. “My kindertjies,” sê sy vir ek en Tresia, “vanaand kom hier ‘n goeie omie vir ons kuier. Vanaand moet julle soet wees en mooi vir Mamma luister! Julle moet mooi in julle kamer speel totdat dit slaaptyd is. Dan kan julle net vir die omie kom nagsê en gaan slaap. Sal julle?” Net ek het gesê “Ja Mamma” en sommer geweet daardie Tresia gaan weer moles maak.

Die omie het gekom, ‘n mooi groot omie met blou oë en ‘n bleskop wat mooi blink so skoon is dit.

Ek en Tresia het gegroet en nadat die omie gesê het dat ek en Tresia twee pragtige dogters is, het Mamma gesê: “Toe, kamer toe julle twee”.

Ek moes Tresia kamer toe sleep. Sy wou ook saam met my deur die sleutelgat loer en toe ek haar wegstamp, het sy boos met haar tietiebottel tussen die tande op die bed begin spring.

Die oom het al nader na Mamma toe skuif, maar toe hy aan haar hand wou vat, val Tresia van die bed af. Ek weet nie of Mamma spyt was nie, maar sy moes toe opspring om vir Tresia te troos.  

Tresia is saam sitkamer toe en haar huil het sommer opgehou. Sy het vlak voor die oom gaan staan, met haar tietiebottel nog tussen haar tande. “Ag kom sit tog maar bietjie op my skoot,” sê die oom. Mamma wou nog keer, want sy ken vir Tresia, maar die oom vertel haar net hoe lief hy vir sulke dogtertjies is en dat hy ook graag so een wil hê. Dit was ook nie lank nie, toe sit Tresia wydsbeen om die oom se nek. Mamma wil keer, maar die oom wil nie hoor nie.

Ek loer deur die sleutelgat en wag vir die sports. Toe begin Tresia perdry. Sy ry die oom dat hy so “huk-huk” met Mamma praat. Boonop slaan die tietiebottel so doef-doef op sy bleskop.

“Nee maggies Tries”, sê Mamma, “wat te erg is, is te erg. Kamer toe!” Maar die oom sê “Nee Nelie, los haar “huk-huk” nog so ‘n bietjie, sy sal nou “huk-huk” tot “huk-huk” ruste kom”.

Toe sien ek die ding wat ek darem nie verwag het nie. Meteens het Tresia se oë so styf gaan staan, haar neusgaatjies het so wit geword en haar lyfie het ‘n rilling gemaak. Nou weet ek wat maak Tresia as sy so maak, maar toe sien ek die omie se oë rek net so groot en sy neusgate word ook so wit en sy groot liggaam ril net soos Tresia s’n.

Mamma het dit effens laat gesien, want toe sy Tresia gryp, drup die laaste watertjies nog so af. Mamma storm die kamer in, maar die laaste wat ek gesien het voor die deur se knop my op die oog getref het, is dat die oom stadig en so half agteroor by die voordeur uitstap.

Mamma sê dit lyk asof die oom nie weer sal kom nie, maar dit lyk nie of sy omgee nie, want elke keer as ons daarvan praat, lag ons dat die trane rol.


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer