Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-11-26 Views:  815
Author:  karelnel
Published in:  Interesting/Interessant
Koffiedrink

Koffiedrink

 

My sus vra my nou-die-dag of ek nog onthou van koffiemaak.

Koffie drink is mos almelee sinoniem met vir jou meisie gaan kuier en dan lank daar vertoef. Dis mos 'n kodetaal wat ons almal verstaan - nie waar nie?

Toe ons familie Rose Marie toe getrek het in die 50's was daar geen krag op die plek nie - ek wonder of Eskom toe al bestaan het op die platteland. Ek dink ouma het 'n swart Dover stoof gehad, hoewel ek my voorstel dat sy later jare een van daardie regopes - liggroen-roomkleur emalje-afwerking - gehad het? G'n niks van 'n elektriese ketel nie. Dit was natuurlik 'n lang storie om die stoof aan die gang te kry in die more en daarom was daar deur die dag maar kookwater beskikbaar op die stoof wat maar aan die gang gehou is, sou mens wou koffie maak.

Daar was weliswaar vroeg 'n windlaaier met twee lemme met 'n generator wat 'n karbattery gelaai het - 6 Volt as ek dit nie mis het nie. Dit was nie vir ligte nie, maar wel vir die kleinerige radiotjie (waarskynlik nog buise) waarmee in die aande na die nuus en die Du Plooys geluister is. En O ja - na die weer. Toe ons daar kom bly het in die vroeg sestigs het pa 'n ou tweedehandse treinwa generator aan die hande gekry - 'n monster wat seker so minstens 80 tot 100 kg geweeg het en wat met 'n plat beld aangedryf moes word - ook net 6 Volt as ek dit nie mis het nie. Hy het ook 'n klompie tweedehandse treinwa batteryselle aan die hande gekry. As ek reg onthou was elke battery net 'n enkele swaardiens sel wat op sigself seker 'n 20 of 30 kg geweeg het. Mens moes hulle dan aanmekaar skakel om 'n behoorlike battery saam te stel. Toe het ons darem elektriese ligte gehad - maar dit was ook al.

Dis toe dat die eerste deurbraak kom - die primus. Die toestel het bestaan uit 'n boepens tenkie van geelkoper wat mens met paraffien moes vul - maar nie tot oorlopens toe nie. Dan draai jy die prop styf toe, want sien - die tenkie het ook 'n pompie gehad waarmee mens die druk in die tenk kon verhoog deur die primus op te pomp. Die tenkie was gesteun deur 4 staalpote, sodat hy so 40-50mm van die grond af gestaan het en dan het die staalwerk aan die bokant so 'n draai of krul na binnekant toe gemaak, en daarop was 'n soort van 'n ronde rooster gepas, waarop mens jou ketel of kastrol kon plaas. Bo, in die middel van die tenkie was daar 'n uitlaatpypie wat ge-eindig het in 'n branderkop. Die branderkop het 3 of 4 pypies aan die kant gehad wat regop staan en dan aan die bokant ge-eindig in 'n soort van 'n huls waarin die vlam gevorm het. Onder in die nekkie van die vier pypies was daar 'n piepklein spruitstukkie of nozzle ingeskroef met 'n baie klein gaatjie en as mens die tenkie opgepomp het dan word die paraffien in 'n fyn sproei of mis by die spruitstukkie uitgepers. Maar eers moes mens die kop warm maak, anders vorm die paraffien nie 'n behoorlike mis of gas of damp nie. Daarvoor het die kop aan sy onderkant 'n klein hol silindriese bakkie gehad waarin mens Brandspiritus gegooi, en aan die brand gesteek het - en dit het die kop binne 'n paar minute warm gemaak. Later jare het mens 'n draadjie met 'n gekromde asbespunt gekry wat mens net in die Spiritus gedoop het, en dan in die bakkie geplaas en aan die brand gesteek het. Baie makliker. Dan het mens hom gepomp en hy het begin om sommer so met 'n lekker blou vlam te brand met 'n lekker gesuis. Mens het 'harde' en 'sagte' koppe gekry, en dit het verwys na die klank wat die vlam gemaak het. Met die affere was dit makliker om koffie te maak wanneer jy wou.

Koffiemaak was ook bietjie anders. Daar was nog niks ge-poeierkoffie of ge-cuppachinno of iets soortgelyks nie - net moerkoffie! Ma het 'n regop koffieketel gehad met 'n koffiesak van linne. Dan vou mens die groen Koffiehuis pakkie oop, vat 'n diep teug van die aangename koffiegeur en skep dan 'n opgehoopte lepel van die gemaalde koffie uit. Dit kom in die koffiesak en mens gooi die kookwater daarop sodat dit deur die koffie perkoleer, deur die sak filter en onder in die ketel beland. As die ketel so halflyf vol kookwater is, dan kon jy hom nog 'n bietjie op die stoof sit om nog effens te prut en die koffie bietjie sterker te maak. As jy dan die sak uithaal en laat afdrup is die boeretroos reg!! Soms, na lang gebruik, kry die sak 'n gaatjie in en dan gaan dinge sleg, want dan sien jy oral stukkies moer op die koffie ronddryf - en dis nie lekker nie. Maar daai koffie het lekker skop gehad!!

Uiteindelik het Eskom ons ook ingehaal en hulle het 'n 11 KV hoogspanningslyn na die plase aangele. Op elke plaas was 'n transformator wat die spanning afgebring het na driefase 380/220V, Toe kon mens waterpompe trek, TV kyk, lugversorgers insit, elektriese stowe he asook 'n elektriese ketel vir vinnig koffiemaak - natuurlik teen daai tyd sommer met poeierkoffie, of 'plastic koffie' soos ons vandag sou se. Die weerlig het gereeld op die lyne geslaan en die krag dan uitgeklink (trip) en dan moes die tegnikus van die dorp af kom om die krag weer aan te skakel. Die transformator het op 'n plek twee gekromde staalstawe gehad wat se punte 'n entjie van mekaar af was, en die bedoeling was dat , as daar om een of ander 'n oorbelading op die lyn was, dit tussen die twee punte kon oorvonk en so die lyn en toerusting kon beskerm.

Pa vertel dat, skaars nadat die transformator ge-installeeer is twee duiwe op die staalstawe gaan sit het. Onbewustelik het die twee duifies se lywe opgecharge geraak - een negatief en een positief met 'n verskil tussen hulle van 11000 Volt. Dis toe hulle saam begin 'koffiedrink' dat die sports begin en bitter gou eindig. Hy het nog so oorgebuig om haar 'n bekkie-soen te gee toe vonk Eskom oor - ek bedoel vonk soos in 'arc'. Sy het miskien vir 'n splitsekonde gedink - hierdie is darem 'n powerful ou! Pa sê daar was net een ontploffing en 'n rookwolk - nie eers 'n veertjie wat trek nie, en hulle was oombliklik in die duiwehemel. Natuurlik het die krag getrip en moes die man van Eskom weer kom aansit.

Wees versigtig met die koffiedrink!
Groete
k


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer