Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-11-26 Views:  933
Author:  karelnel
Published in:  Stories
Oupa Gert Se Stories - In My Winkel

IN MY WINKEL

Ou Tobie, een van ons oudste kliënte, het doelloos tussen die winkelrakke rondgedwaal. Dit het my nie gehinder nie, want dit was sy gewoonte. Hy het dit geniet, aangesien hy geen ander tydverdryf gehad het nie.

Ou Tobie is ‘n oujongkêrel van so ietsie oor die tagtig. Hy bly alleen op sy plasie net buite die dorpsgrens. Sy behoeftes is klein, maar hy verseg om sy kruideniersware by enige ander winkel te koop. Sommige dae slenter hy tussen die rakke deur om ons dan te kom verseker dat daar geen beter winkel in die dorp, of elders, is nie.

Toe, op ‘n dag, toe hy nog so rondsnuffel, kom ‘n vreemdeling die winkel binne. Hy was van omtrent dieselfde postuur en ouderdom as ons ou kliënt. Toe hy ou Tobie sien, steek hy vas asof hy ‘n spook gesien het.

“My maggies ou Henderik,” sê hy luidrugtig terwyl hy ou Tobie se hand ‘n stewige druk gee. “Hoe gaan dit ou vriend?”

“Nee goed Koos,” sê Tobie sonder om te huiwer, “en met jou?”

“Nee jong,” sê die vreemdeling, “ek is nie Koos nie. Het jy my dan vergeet?”

“Nee man, maar ek is ook nie Henderik nie.”

“Nou wie’s jy dan?”

“Ek is Tobie Verryn, maar jy – wie is jy? Jy is nie van hierdie dorp nie.”

“Nee Koos man, ek meen Tobie,” stotter die vreemdeling, “ek is Petrus Viljoen van Calitzdorp. Ons ry net hier deur.”

“Nou maggies man, Henderik, ek meen Petrus, kom ons sit by daardie tafel, dan bestel ek vir ons koffie.”

Die koffie is bedien, en ek het naby hulle tafel rondgedraai. Soos twee ou bekendes het hulle gesels. Dit het blykbaar nie een van die twee gekwel dat hy as Koos of Tobie of Henderik aangespreek word nie.

Selfs nadat die koppies reeds koud en verwyder is, het die geselsery vlot voortgegaan. Na omtrent ‘n halfuur het die vreemdeling opgestaan en my kliënt se hand in albei syne geneem.

“Mooi bly, ou Henderik, ek meen ou Tobie,” sê hy met ‘n halfbewoë stem. “Ek is bly ek het jou weer raakgeloop.”

“Versigtig ry, ou Koos, ek meen Petrus. Sê maar groete anderkant, en kom gerus weer.”


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer