Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-11-27 Views:  645
Author:  karelnel
Published in:  Stories
Oupa Gert Se Stories - Die Kleigat

DIE KLEIGAT

Die ou man het gehuil. Die trane het vrylik oor sy verrimpelde wange geloop en in sy wit baard verdwyn. Ek kon die trane sien en tog was daar ‘n glimlag om die tandelose mond. Sy oë was soos dié van ‘n opgewonde kind.

Ek het onmiddellik albei my arms in die lug gegooi om die kleilat-geveg te staak. Vanuit die rantjie het die klonkies gejuig. Vandag het hulle die boerkinders tot oorgawe gedwing. Hulle sing die oorwinningslied en swaai die kleilatte wild soos hulle voorvaders seker hulle assegaaie geswaai het. Vir ons was dit ‘n vernedering. Nog nooit het dit gebeur dat ons die wit vlag moes hys nie. Effens vies het ek omgekyk na die ou man. Hy het oop en bloot daar gestaan. Selfs die mees onervare kleilatgooier kon hom daar raakpeper met ‘n stuk klei.

“Moenie hensop nie, boetie.” Die ou man was opgewonde. “Blaker hulle!”

“Hulle sal Oom raakgooi!” het ek gesê.

“Nou wag, dan skuil ek hier agter die wal by jou, dan kan ons bietjie gesels.”

Ek het vinnig my arms laat sak en moes net koes vir die koeëls van die verontwaardigde vyand. Hulle het sommer oop gestaan en my skuilplek bestook, totdat Giepie en Jan hulle van die twee flanke af met raakskote agter die klippe laat wegduik het. Nou kon ek weer asemskep en tydsaam die kleikoeël vasbrei aan die slap wilgerlat.

“Middag Oom”, sê ek as dit my byval dat ek nog nie eers gegroet het nie.

“Middag ou Seunie. Is jy nou die veldkornet hier?”

“Nee, Oom, ons het nie sulke goed hier nie. Ek is die Kaptein Oom.”

“Ek is bly om jou te ontmoet Kaptein. Jare terug toe ek so groot soos jy was, was ek die leier, maar toe het ons dit Veldkornet genoem.”

“Issit Oom, het Oom ook hier kleilat gespeel?”

“Ja ou Seunie, in hierdie einste sloot. Ek hou julle al die hele middag dop. Ons het altyd netso gemaak soos julle nou. Ons het altyd net gewag totdat die klonkies ‘n mooi klompie kleigoed gemaak het, dan storm ons. Hule het ons maar altyd verwag, dan lê hulle latte lankal klaar gelaai. Gewoonlik het ons hulle verdryf tot hier in die rantjie. As ons hulle dan die dag nie verder kon jaag nie, het die geveg geduur totdat dit tyd geword het om die koeie te gaan haal.”

“Het Oom ook altyd koeie gaan haal bo in die berg?” het ek gevra. Dit was vir my te snaaks, die ou man met die wit baard. Kan dit wees dat hy ook eens op ‘n tyd jonk was, en dat hy ook, net soos ons nou, kleilat gegooi het?

“Net soos julle Seunie, net so. Ek het ook altyd hier gelê en my manne so opgestel soos jy joune. Daar op die linkerflank agter daardie klip was my beste manne, en daar in die populierbos op, die jong outjies wat nog nie so goed kon skiet nie. Dit was elke dag se ding.”

“Het Oom-hulle ook altyd die klonkies gewen?”

“Altyd, ou Seun, maar ons het nooit rêrig baklei nie.”

“Ons ook nie Oom. Het Oom-hulle ook partymaal saamgeswem in die swemgat bo in die sloot?”

“Ja, ou Seunie, ja.” Die ou man het sy kop so hewig geknik dat ek bevrees was dat sy maer nek gaan afbreek.

“Heng Oom, dis snaaks.”

Die ou oom kyk toe so ver teen Mooiberg vas, en hy sê: “Nee, my seun, dis nie snaaks nie, dit moet so wees. Die seuns voor my het so gespeel, en die seuns na jou sal so speel. Dit is heeltemal reg so, ou seun. Solank as die seuns speel soos julle nou, sal dit goed gaan met ons en die swartvolk. Julle verstaan hulle beter as die stadsjapies, en julle soort sal die gees tussen swart en wit moet reg hou. Maar sê my, ou kind, is hier ook so ‘n groot, vet seun wat julle altyd by die prinsipaal of by die stadsklerk gaan aankla as julle van die wilgerlatte afsny vir kleilatte?”

“O, Oom meen seker ou Herman Klikbek.” Die ou oom het net gesug en gesê: “Aha.” Die volkies het stadig gewyk voor Giepies en Jan se aanval, en met ‘n haastige “Totsiens Oom” is ek agterna. Soos gewoonlik het ons die klonkies gejaag tot by die koeikamp se hek waar die geveg sommer so vanself doodgeloop het.

Die volgende middag het alles maar weer volgens die ou patroon verloop, totdat ons stelling wou inneem in die droë sloot. Daar was geen swart seuns te bespeur nie. Dit was baie ongewoon, maar toe ons teen die walle afgly, het ek my boeglam geskrik. Die ou man het nog steeds gehurkend teen die slootwal gesit, maar selfs in my onkunde kon ek sien dat hy dood was. Die oë het wydstarend oopgestaan, maar om die verrimpelde mond was daar die duidelike tekens van ‘n glimlag.

Al hierdie dinge kom my so duidelik voor die gees waar ek in dieselfde sloot sit as die ou man, meer as vyftig jaar gelede. Net vanmiddag het ek weer hier in Mooiberg aangekom. Die dorpie is amper nog net dieselfde as in daardie dae; ‘n paar huise meer, en die skooltjie is groter. Die nuwe kerk pas mooi in by die omgewing, en selfs die berge lyk mooier as toe ek as kind hier gespeel het. Al is die mense vir my vreemd, alles anders is bykans dieselfde.

Omdat dit reeds laat was toe ek hier aangekom het, het ek sommer dadelik koers gekry kleigat toe. Van ver af kon ek reeds die seuns sien storm. Die klonkies het koes-koes die rantjie uitgehardloop. Onwillekeurig het daar trane in my oë gekom. Alles is nog net dieselfde!

Ek het saggies nader gestap, en die kleikoeëls het telkens by my verbygegons. Die seun agter die slootwal het skielik opgekyk, opgespring en sy arms in die lug gesteek. Die klonkies in die rant het opgespring en gejuig. “Moenie hensop nie, ou Seun”, het ek gesê terwyl ek sukkelend teen die wal afgegly het. “Blaker hulle!”

“Maar hulle sal Oom raakskiet.” Ek kon die bekommernis in sy stem hoor. “Wag dan skuil ek hier by jou, dan gesels ons so tussen-in.” Die geveg is voortgesit kort-kort het ek ‘n kansie gekry om met die seun te praat. “Is jy nou die Kaptein hier?’ “Nee, Oom,” was die manhaftige antwoord, “ons het nie ‘n kaptein nie, ek is die Veldmaarskalk.” Ek het verstaan en maar net gesê: “Aha.” Alles was maar nog dieselfde. Wat is dan die verskil of die leier nou ‘n Veldmaarskalk of ‘n Kaptein is, dit is net die gees wat tel.

Ek het die mannetjie uitgevra soos ‘n ou man my vyftig jaar gelede ondervra het. Elke antwoord het gedreig om weer trane na my oë te bring. “Is hier ook so ‘n groot, vet seun wat julle altyd by die Meester of die stadsklerk gaan verkla as julle van die wilgertakke afbreek vir kleilatte?”

“Oom meen seker ou Daantjie Nuusbek?” Ek was tevrede.

Die Veldmaarskalk en sy manne het die ‘vyand’ stadig verdryf, en ek het hulle dopgehou tot by die koeikamp se hek. Daar het die geveg as’t ware vanself ten einde geloop en hulle is al geselsende verder die berg op.

Soos ek hier gemaklik langs die kleigat in die sloot lê, voel ek ‘n eienaardige lamheid in  my bene opkruip, maar snaaks genoeg, dit hinder my glad nie. Ek voel intens gelukkig, want alles is nog net soos dit was. 


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer