Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-11-27 Views:  869
Author:  karelnel
Published in:  Stories
Die Eerlike Arabier

Die eerlike Arabier

 

 My onlangse reis na die Verenigde Arabiese Emirate was, soos al my vorige reise, ‘n verrykende ondervinding. Om in kontak te kom me tmense van ‘n ander kultuur, miskien selfs ‘n alternatiewe samelewing, stimuleer altyd mens se denke aangesien dit jou lei om vrae oor jouself en jou eie te vra.

 

Dit is duidelik dat die mense van hierdie land baie geld het – ek bedoel die Arabiere. Hier is hulle die uiteverkore volk. Die mans met hulle wit rokke en tulbande loop so half agteroor en gooi die voete vorentoe asof hulle sand uit die sandale wil skop en kyk die wêreld so half uit die hoogte aan. Die vroue,in pikswart geklee, met party se gesigte heeltemal met ‘n sluier bedek en ander net die oë op ‘n skrefie oop, het ‘n eiesoortige bekoring. Hulle motors is nuut en groot en net van die beste. Hulle huise is villa’s met hoë versierde mure. En hulle is behep met goud. Elke tweede besigheid se naam het iets te doene met goud – Golden corner store of Golden arrow furniture en so aan tot vervelens toe. Nêrens is dit meer uitspattig nie as in die Goud Souk. Dit is ‘n winkelkompleks wat uitsluitlik beset word deur juweliers. Alles in die vensters is goud. Oorbelle,hangertjies ,halssnoere, belde,ringe, armbande en wie weet wat nog. Die juwele is ontsettend kunstig gemaak – sommige is so fyn dat dit lyk of hulle geweef is,of van vere gemaak is. Dis so oordrewe dat mens daarvan blasé raak. In alles lyk dit of hulle dit van die Weste geneem het wat hulle kon, en dit nou in die oortreffende trap ten toon stel en verbruik.

 

Mens hoor ook, en sien, baie mense van ander lande hier. Ten spyte van baie streng immigrasiereëls is hier baie Westerlinge wat hier werk, asook baie werkers uit die midde- en verre ooste. Van die laasgenoemde is die meeste die werkers in die samelewing – die mense wat op die paaie en in die parke en in die restaurante en die hotelle werk. Daar word gefluister dat dieArabiere lui is om te werk,en daarom word die ex-pats, wat weinig regte in die land het, in die land toegelaat omdie sleurwerk te doen. Ooglopend moet dit wat hulle hier beleef nogtans beter wees as wat hulle in hulle eie lande ervaar, want elke Pakistanse taxidrywer wat ons gevra het sê dat hy nie na sy eie land wou terugkeer nie, ten spyte daarvan dat hy hier nie burgerskapstatus kan verkry nie.

 

En dan natuurlik – besigheid! In die ou dae kon mens nog onderhandel oor die prys, en vandag is daar nog hier en daar oorblyfsels daarvan. As jy lank genoeg aanhou kry jy tot so 30% af en dan hoor jy jy is sy “special customer”. Maar natuurlik maak hy nog sy goeie winsie! Wanneer mens ‘n goeie afslag beding het en jouself daarvoor op die skouer klop is dit maklik om te vergeet dat hy die gesoute een is wat dieselfde ritueel al honderde kere vantevore suksesvol deurgevoer het en homself sekerlik nie tekort sal doen nie. Intussen verrys reusagtige winkelsentrums a-la dieWesterse patroon en dis gerieflike koop winkels soos ons dit ken. Dit is egter ietwat steriel aangesien meestal toeriste daar deurloop – en miskien ryk Arabiere – maar die gewone,lewegewende massa is nie daar nie.

 

Die taxidrywers is ‘n groep op hul eie. Letterlik duisende groen,goud en wit taxi’s wemel deur die stad en verskaf  spotgoedkoop vervoer na elke denkbare plek. In die stad self sit hulle die meter aan en jy betaal daarvolgens. Waneer daar egter ‘n geleentheid hom voordoen om jou uit te buit, dan word dit met beide hande aangegryp. So ‘n geleentheid het hom voorgedoen met die IDEX wapenskou wat plaasgevind het. Die skouterrein was sowat 10-15 km van die middestad af,en die enigste maklike vervoer was die taxi’s. Die eerste dag was daar hier en daar’n eerlike (oningeligte?) taxi wat sy meter aangesit het en ‘n skamele 10 Durhams (R20) gevra het. Die volgende dag was hulle veel slimmer en sonder die meter was die koste 20 Durhams. Groot was ons verbasing toe ons met die terugreis 50 Durhams moes opdok – omdat die Taxi’s op die terugreis kwansuis skaars sou wees. So het dit van dag tot dag gewissel tussen 20 en 40 Durhams. As dit pap reën moet jy skep!

 

Ek moet nou tot ‘n punt kom. In een van die ouer sentrums het ons ‘n handelaar ontdek met wie ons besigheid kon doen. Hy verkoop horlosies en sonbrille en penne – alles van die duurste soorte en beroemde handelsmerke. Maar jy kan onderhandel en as jy twee koop kry jy een gratis. Wat ek die meeste van hom waardeer het is sy eerlikheid: Hy verkoop sy ‘fakes’ goedkoop!

---000---


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer