Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-11-27 Views:  848
Author:  karelnel
Published in:  History/Geskiedenis
Oom Clarey Se Laaste Grappie

Oom Clarey se laaste grappie

Ai, die oom Clarey… !

Toe ons daar aankom was die bus reeds daar en hy het die hek oop en toe gemaak sodat die karre veilig geparkeer kon word. Toe ek deur die hek stap op pad bus toe het hy my vriendelik gegroet en , soos baiekeer tevore, vir my vertel van Sy Vader se huis met die baie woninge – om daarmee sy dankbaarheid te kenne te gee vir die bejaardes van verskillende kerke wat aan die uitstappie deelneem.

Op die bus het hy ons almal verwelkom en op ‘n stadium die grappie vertel van die seuntjie wat in die groot kerk se portaal gestaan het en kyk na die naamborde wat daar opgesit was. Dit was rye en rye name van soldate wat in die wêreldoorlog dood is, en hy kon daar niks van verstaan nie. Die predikant kom staan toe langs hom en vra wat hy so kyk. Hy vra toe waste name dit was. Die predikant se antwoord was dat dit mense se name is wat in die Diens gesterf het. Was dit die agtuur of tienuur diens wou hy toe weet!

Oom Clarey was sy vrolike self en het met almal gepraat, en veral met die rolbalvriende, en watter vreugdes het hulle nie met mekaar gedeel nie!

Middagete by die uitspanplek was dit baie vol en oom Clarey het op die een punt van die ry gesit en eet. Toe hy sien dat ons nie plek gekry het nie, het hy opgeskuif sodat pa en ek ook langs hom kon inskuif om te eet. Terwyl ons eet het ons met hom gedagtes gewissel en ek het dit snaaks gevind dat oom Clarey se tong begin sleep het en dat hy effens onduidelik gepraat het. Ek het gedag dat dit snaaks was en dat ek dit nog nooit tevore opgemerk het nie.Hy het egter normaal voortgegaan met ete en vir my en pa elkeen ‘n piesang gegee.

Ek het net omgedraai om iets te kry toe sien ek oom Clarey lê op die grond langs die bankie. Die bankie was weliswaar baie laag en het ‘n sagte punt gehad, en hy het gemompel dat dit die sagte punt was wat hom laat afval het. ‘n Klompie van ons het hom opgetel en weer by die tafeltjie laat sit, maar toe merk ek dat sy spraak heeltemal versteur was en dat die een kan van sy mond effens vertrek was. Ek het begin besef dat iets fout was, hoewel hy nog steeds oëskynlik in beheer van homself was.

Ek het iemand toe gevra om my te help om hom die 50 of meer meter na die bus te help. Ons het weerskante van hom gaan staan en hom gestut in die beweging. Sy een been was nie meer goed funksioneel nie, maar met ons hulp kon hy oor die weg kom. Naderhand het albei bene begin ingee en effens saamgesleep. Met ‘n groot gesukkel het ons hom by die bus se voordeur ingetel tot op een van die voorste sitplekke, en hom daar gemaklik gemaak.

Oom Clarey kon toe nie meer behoorlik praat nie. Ek het hom gevra om in my oë te kyk, en albei sy pupille was ewe groot, wat my effens gerusgestel het. Ek het dadelik vir hom hande opgelê en gebid en ek kon duidelik hoor hoe hy “amen” sê daarop.

Gedurende die terugrit het ons oom Clarey voortdurend probeer afspons sodat hy koel kon kry en dit het gelyk of hy nou-en-dan wou wegraak. Dan het ons telkens hom maar ‘n vragie gevra en aanvanklik het hy net gemompel, maar later kon hy net sy regterduim opsteek om aan te dui dat hy oukei was.

Ons het hom probeer opvrolik deur grappies met hom te maak, soos byvoorbeeld die klomp vrouens wat nou so oor hom besorg was. “Dit was hoog tyd” was sy antwoord. Hy het voortdurend gegaap wat daarop gedui dat hy te min suurstof ingekry het en ons het hom gevra om diep asem te haal, wat hy ook gedoen het.

Ek vertel hom toe die grappie van die predikant wat vir die eerste keer in die nuwe kerkgebou gepreek het. Toe hy klaar was, vra een van die ouderlinge vir hom hoe die nuwe preekstoel preek. Hy antwoord toe dat dit goed preek, maar hoe die nuwe banke slaap! Dadelik vra oom Clarey of dit die agtuur of tienuur diens was!

Soos wat ons hom gedurig afgespons het ,en sy arms en hande en nek met koue lappe afgevee het, het ek gedink aan die lang pad wat hy gekom het – deur die bediening, sy betrokkenheid by die Bybelgenootskap, en uiteindelik nou – die versorging van die bejaardes – “hy is ons vader” het een van die tannies in die bus gesê. Hier – vandag nog – was hy besig om uit te leef wat hy aan ander verkondig het – wees tot diens van jou naaste, as deel van jou Godgegewe opdrag.

Toe ons hom by sy kinders aflaai, het ek gewonder of hy ooit weer dieselfde sal wees, of hy ooit weer in die Diens sou staan? Ek het egter geweet – al sou hy ook nie – is die woning vir hom in dieVader se huis reeds gereedgemaak.

---000---
Opgestel deur KPJ Nel
2007/03/25


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer