Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-11-29 Views:  878
Author:  karelnel
Published in:  Stories
Oupa Gert Se Stories - Die Dromer Van Mooiberg

DIE DROMER VAN MOOIBERG

 

Aanvanklik het die Mooibergers hom Josef die Dromer genoem, later sommer Dromer. Ons kinders het hom aangespreek as Oom Droom.

Joseph Welthagen was ‘n gelowige mens. Sy plek in die kerk was nooit, nooit leeg nie. Soms was hy ‘n vriendelike man, en dan weer, na een van sy drome, was hy stug en het hy nie veel gepraat nie.

“Ek is met die helm gebore,” het hy somtyds gekla. “Dit is ‘n bittere beproewing, en ek wens ek kon dit van my afskud.”

Mooiberg se mense het hom gereeld bespreek – soms beskinder. “Hy’s ‘n ou kansvatter,” het sommiges gesê. Ander was gewoonlik diep beïndruk met sy “gevoelentes” en voorspellings. Selfs Ou Dominee Gerber het dikwels nadenkend aan sy ken gevat en dan met erns in sy stem gesê: “Merkwaardig Broer, baie merkwaardig. Ek weet van verskeie gevalle waar daar ‘n sterfgeval was na een van sy drome.”

Tant Stienie, Oom Josef se vrou, het nie vir een oomblik getwyfel aan sy bonatuurlike gawes nie. “Vrou,” het sy menigmaal vir Ma gesê, “as hy so ‘n geweldige rukkens in die nag kry, dan kan jy maar weet. Iemand van Mooiberg of een van ons bekendes gaan sterwe.”

Vir ‘n lang tyd het dit goed gegaan met Oom Droom en Mooiberg se mense. Mooiberg is ‘n gesonde en rustige plek om in te woon. Die inwoners is meestal vriendelike mense wat tot ‘n groot mate mekaar se laste help dra.

Toe word Dominee Gerber siek – sommer ook ernstig siek. Die dokter het van De Rust af gekom, en wou hom met alle geweld saam terugneem hospitaal toe. Ou Doom het egter geweier. “Gee my net een week,” het hy geskerm, “dan is ek weer perdfris.”

Ook in die onderdorp – of die Swartland soos die Mooibergers dit genoem het – was daar teëspoed. Die pragtige klein dogtertjie van die Groenewaldts was dodelik siek. Die dorpstannies het haar met beproefde boererate gedokter, sonder enige sukses. Die koors het geweldig hoog gebly.

Toe droom Oom Droom. Daardie nag het hy behoorlik stuiptrekkings gehad. Tannie Stienie het alles in haar vermoë gedoen om hom te kalmeer, maar vir die res van die nag was hy rusteloos.

“Ou Vrou,” het hy gekla, “ek het dit weer gesien. ‘n Spierwit doodskis, sê ek jou. Dit was nog duideliker as ooit tevore. Dit was so ‘n spierwit kis en so effens agtertoe nog ‘n kis, ‘n swarterige een. Ek kon net nie sien of dit ‘n groot kis was of ‘n kleintjie nie.”

“Ag tog ou Man, wie kan dit hierdie keer wees? Al wat siek is, is Dominee Gerber en klein Toeksie van die Groenewaldts.”

“Nee Vrou,” stotter hy, “dis nie sy nie. Dit was ‘n groot kis, ‘n groot witte.”

“Ou Man, jy moet nie vir my sê dit is ons liewe Dominee Gerber nie. Ek huil my morsdood as hy moet dood.”

Oom Droom het tot omtrent tienuur in sy erfie rondgedwaal. Toe het die onsekerheid te veel geword.

“Vrou,” sê hy terwyl hy sy nuwe hoed van die kapstok afhaal, “ek gaan nou pastorie toe. Ek moet gaan kyk hoe dit daar gaan. Ek moet seker maak of Dominee gereed is om te gaan.”

Terwyl hy teen die bult opstap, dink hy aan hy en Dominee se gesprek ongeveer ‘n maand tevore. Dit het gegaan oor aandoenlike begrafnisse. “Dominee,” het hy nog gesê, “as Dominee my eendag begrawe, onthou tog om Romeine 11 te lees, vanaf vers 33. Dominee weet dit is die deel wat sê “O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God.” En nou, as Dominee nou voor hom moet gaan? Waar gaan hulle weer so ‘n predikant kry?

Daardie nag, teen vieruur die oggend, het Tant Stienie agtergekom dat Oom Droom besonderlik stil slaap. Geen snorkies of gesteun het van sy kant af gekom nie.

Sy het haar hand uitgesteek en liggies oor sy bors gevryf. Met ‘n kreet hert sy haar hand teruggetrek. Die liggaam langs haar was yskoud.

Gedurende die volgende week is die inwoners van Mooiberg geskok soos nog nooit vantevore nie. Vrydagmiddag om drieuur was omtrent al die Mooibergers tesaam in die dorpie se kerkhof. Ook familie van ver was daar.

Die spierwit kis het op dwarsbalke oor die oop graf gestaan. Ouderling Groenewaldt het ou Dominee Gerber uit sy motor gehelp. Hulle het voetjie vir voetjie aangesukkel tot by die graf. Ouderling Groenewaldt het vir ou Doom die Bybel aangegee en reg agter hom gaan staan.

Daar was ‘n hol klank in Dominee se stem en trane in sy oë. “Broers en susters,” het hy hortend gesê, “dit was die Broer se wens dat ons sal lees uit Romeine 11 vers 33.” Vir omtrent ‘n minuut was daar ‘n doodse stilte voor hy begin lees: “O, diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God...” Toe raak hy stil. Hy het vinnig na sy hart gegryp en agteroor gesteier in Ouderling Groenewaldt se arms.                     


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer