Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-12-01 Views:  748
Author:  karelnel
Published in:  Stories
Oupa Gert Se Verhale - Op Die Stasie

OP DIE STASIE

 

“So oor sewe minute, ou seun,” sê die stasievoorman. “So oor sewe minute is daardie Pretoria-trein hierso. Vandag is hy vir ‘n wonder nie laat nie.”

Sewe minute! Wat is sewe minute as ‘n mens reeds sewe jaar wag? Sewe jaar is ‘n lang tyd as ‘n mens in ‘n weeshuis sit. Vir my was dit oneindig lank, maar hoe lank sou dit vir hom gewees het agter tralies vir sewe jaar?

Nog sewe minute, sewe lang minute, maar eintlik sal dit te gou om wees. Ek weet nog nie wat om te verwag nie. Hoe sal ek hom verwelkom? Wat sal ek sê? Is dit nog dieselfde pa wat my in my kleintyd op sy rug gedra het? Was hy skuldig? Hy het tot aan die einde onskuldig gepleit. Was Moeder se dood aan sy agtelosigheid te wyte? Is die sewe maer jare nou verby, syne in die gevangenis en myne in die weeshuis?

Nog vyf minute! ‘n Ou tannie loop op en af op die platform. Sy frommel haar sakdoekie inmekaar. Vir wie wag sý? Is sy ook hoopvol, of is sy ook bang vir ‘n teleurstelling? Ek voel benoud in my grys weeshuisklere.

‘n Kruier stoot sy waentjie lui-lui na die onderpunt van die platform. ‘n Sigaret hang slap in sy mond. Waarop is sy hoop gevestig? Of leef hy maar net voort sonder om te dink aan tronke en weeshuise? Hy wonder seker nie wat ná vandag met hom gaan gebeur nie.

Nog twee minute wat moet verbysleep. Ons hoor al die trein in die verte. Is dit nou die laaste twee minute van sewe maer jare? Wat lê vir hom voor – vir my – vir ons?

Sy briewe was altyd bemoedigend, vertroostend, maar sal hy weer kan inpas in die samelewing? Sal ons by mekaar kan aanpas? Sal ek hom ooit herken?

Dan stoom die swart lokomotief by my verby – twee derdeklasrytuie, vier eersteklas en dan sien ek hom. Lank en skraal staan hy op die balkon. Sy hare is wit soos doodgerypte gras, maar sy oë kyk hoopvol na my.

Ek stap skugter nader as hy afklim. Ons oë ontmoet mekaar. Elkeen soek iets in die ander se oë. Verwyte? Liefde?

Die volgende oomblik is ek in sy arms. “My seun,” is al wat hy sê. En ek, ek kan niks sê nie. Ek huil, maar ek weet – die maer jare is verby.


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer