Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2016-02-08 Views:  847
Author:  karelnel
Published in:  Stories
Varkvonkies

Varkvonkies

Die lemme van die dakwaaier tjierie-tjierie maar maak geen verskil in die drukkende hitte van die ewenaarsnag nie. Louis sê die Israeli meisies hou vir hom  so ‘n besondere bekoring in – hy kan homself net nie help nie. Die klandestiene aansluiting na ‘n ander vlug sal op Frankfurt plaasvind – soos dit al baie kere vantevore reeds gedoen is.

Hier is dit maar afrika – hierdie godsverlate eiland in die see met die aanloopbaan waar ons vliegtuie moet kom sit. Hulle swart hare en effense blas velle en sterk gelaatstrekke bekoor hom tot in die afgrond – hoekom weet hy nie. Op Frankfurt se lughawe moet jy jou dekstorie goed ken en oppas dat jy nie dalk agtervolg word nie.

Die geel stert staan op die swakbeligte aanloopbaan om te herbunker terwyl hier nie eers iets te ete is nie. En hulle kleredrag is anders as waaraan ons gewoond is – miskien kan mens sê gewaagd of uitlokkend, maar beslis anders. Niemand mag agterkom van die ander paspoort of die El-Al vlug wat ons moet haal nie, want daar is vyande.

Uiteindelik tou ons terug na die vliegtuig toe, maar dit het intussen tropies begin reën, amper sulke taai sweet druppels. Hy was al vantevore daar en ek wonder by myself of hy heimlik ‘n meisie in Tel Aviv het. Ek was nog nooit op Frankfurt nie, want dis my eerste keer oorsee – maar hulle het my darem goed voorgelig.

Die vliegtuig is lekker koel toe die lugverfrisser aangaan en ‘n gesondheidsbeampte loop deur met ‘n aerosol spuitkannetjie wat blaas. By die kantoor is daar stories van hoe rof ouens oorsee aangaan maar hoe waar dit is weet mens nie. Gelukkig het die buitelandse kantoor mos al talle kere sulke klandestiene besoeke gereël en behoort dinge waarskynlik glad te verloop.

Die loods dreun ons in die donker nag in oor die donker seë na die bekende, vir my onbekende bestemming. Hy is altyd  bietjie rof met sy praatjies, maar mens weet nie of dit net bek of binnegoed is nie. Hopenlik sal ons die aansluitingsvlug kry sonder om te veel aandag te trek, want ons en hulle is mos muishonde.

Mens raak gou half  aan die slaap met die klassieke musiek in die gehoorstukke en die wieg van die skip. Sekuriteit waarsku altyd baie skerp teen onge-oorloofde verhoudings, maar ek dink hy is ‘n loshotnot – hoe los weet ek nie. Hulle sê die sekuriteit by die vertrek van die vlugte na Israel is baie erg en ek stres ‘n bietjie.

Dis nog skemer toe ons vinnig grond vat op die Duitse bodem – my heel eerste keer in ‘n ander land. Ek wonder wat sê hy vir sy mense by die huis – toe onthou ek dat hy reeds lankal geskei is. Die deursoeking by die sekuriteit toonbank is baie deeglik, maar ons kom almal darem ongeskonde deur – almal afsonderlik van mekaar.

Die El-Al is gepak en die loods vlieg anders – seker die moeilike veiligheids omstandighede waaronder hulle moet funksioneer dink ek. Ek wonder of hy nou net een meisie het of dalk meer, en indien wel, hoe hy die sake benader? Ek het al ons planne gereed vir elke besoek, met deeglik uitgewerkte vraelyste vir die personeel by elke militêre basis.

Ons stap af op die betonblad van Ben Gurion in die helder sonlig met ons dokumentasie als  in die handbaggasie. Ja, wrintie – die Israeli meisies is nou regtig mooi, die lugwaardinne en die grondpersoneel – so netjies in hulle uniforms. Ek wonder of die kollega uit ons land wat hier onder dekking werk ons self sal kom ontmoet, of wat?

Hy’s toe daar en neem ons met ‘n ongemerkte voertuig na die Madison op die strandfront nogal ‘n vyf ster! Hoog uit my venster sien ek die lywe op die strand en wonder of van hulle Louis se meisies is. Die kollega sal ons vanaand ’n  bietjie die stad en van sy dinge gaan wys voor ons besoeke more begin.

Ons stap in Dissengoff straat af tot by die besige plaza naby die hotel waar ons sit en koffie bestel. Louis wys ons die kaalvoet vlinder met die goue band om haar kop en sy steek vir ons tong uit. Die straatsmouse vra hoe gaan dit in Suid Afrika want hulle herken die Grasshoppers wat ons ewe onskuldig aan het.

Ons wag almal vroeg more in die portaal vir die voertuig om ons na ons eerste werk afspraak te neem. ‘n Lyf met ‘n kort broekie en bruin bene en swart hare fladder deur die portaal na die besige straat. Ek wonder hoe ek as Vrystaatse plaasseun sal regkom met die Engels as ek die afvaardiging in die stryd lei.

Hierdie manne speel nie – hulle maak oorlog en hulle wapens werk hard en my opgestelde vrae oor wapen-onderhoud klink triviaal. Louis is bietjie tammerig en sit met sy mond vol tanne en ek wonder waar was hy gisteraand na elf. My eerste keer oorsee as jong ingenieur en ek moet left right en center engelse toesprake maak namens Suid Afrika.

Ons ry van basis na depot tot so by die fabriek by Haifa om te sien hoe hulle dinge doen. By ‘n padblokkade sien ons haar die eerste keer – die vroue soldaat met ‘n kamoefleerpak aan en ‘n karabyn geskouer. Hulle wys alles en net ek neem nota’s  en foto’s en werk solank aan die verslag dat die biesies bewe.

Ons gaan vanaand by die ingenieur en sy byderwetse vrou eet by hulle apartment en hulle is gladnie ortodoks nie. Die kamoefleerpak versteek kwalik die soepel  jong olyfkleur lyf en die swart hare beur skuins onder die kamoefleer boshoed uit. Die verslag, die verslag – ek moet dit klaarskryf want die tegnikus en die sersant majoor sal dit nie doen nie.

Hulle vertel ons van veel meer as mortiere waarvoor ons gekom  het, tot selfs van die onderhoud van sensitiewe optika. Ek wonder onderlangs hoe sulke poppies sou oorleef as hulle in van die patrollies in die bosoorlog moes gaan deelneem. Die naweek neem ‘n drywer my na die besienswaardighede in die land maar Louis het dit reeds van tevore gesien.

Ek swem in die Galilea meer, vat kiekies en swem in die Dooie see en vat kiekies en so aan. Oral is hulle met die eienaardige energieveld om hulle maar hulle sê jy moet sien op die strand by Eilat! Teen die tyd geniet Louis en die sersant majoor seker die luukse uitpak ontbyt, sonder varkspek, op die tweede vloer.

Ons bring ‘n laaste besoek of twee sonder dat die Russe of Amerikaanse spioene ons agtervolg het – sover ons agterkom. Louis wonder wanneer ons dalk weer sal kan kom en die sersant majoor wonder saam want die land bekoor mens. Toe volg ons weer dieselfde pad terug tot op Jan Smuts en op die vlug maak ek die verslag klaar.

Die Jode eet nie vark nie en geen varkprodukte nie - ek wonder hoe gelukkig is ‘n vark in Palistina? Wie  weet, en wie sal sê wie almal betrokke was by watter en hoeveel van daai tyd se klandestiene operasies? Hoe skiet mens spek in ‘n land sonder spek en waar sekuriteit op jou nek lê sonder dat jy weet?

---000---

KPJ Nel

2016-02-08


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer