Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2016-02-08 Views:  889
Author:  karelnel
Published in:  From the heart/Uit die hart
Wette

Wette

 

Ek glo nogal dat ‘wette’ dinge soms beskrywe soos dit is.

Dis mos  Descartes wat die ‘wet’ geformuleer het : ‘Ek dink – daarom is ek’, nie  waar nie? Dit beskrywe nogal iets van die denkende, individualistiese , moderne mens. Ander mense, vir wie kultuurverband of stamverband baie belangrik is, sal dalk eerder  verkies om te sê : ‘Ek behoort – daarom is ek’.

Daar is nog baie ander soort ‘wette’ ook ter sprake soos byvoorbeeld dié van evolusie (ontwikkeling deur ewekansige veranderinge) wat voorgee om te beskrywe hoe dinge geleidelik verander. Dan natuurlik ook die ‘wet’ van Murphee: ‘As enigiets kan verkeerd gaan dan sal dit’. Mens kan, as jy nou maak soos Descartes sê, nogal gewigtig worstel oor die effek van ‘n kombinasie van Murphee en evolusie se wette...

In my kort lewe het ek telkens gesien hoe lewensgebeurtenisse eintlik  maar net uitbreidings of refleksies is van natuurlike- of fisiese- of chemiese prosesse. So kan byvoorbeeld ‘n migrasieproses (soos die vlugtelinge-krisis in Europa of die Groot Trek) as ‘n golf of ‘n waterstroom beskou word. As dit stadiger plaasvind (mense wat insypel) kan mens dit dalk met die ‘wette’ van diffusie beskrywe. So, byvoorbeeld, sou mens die regering van die dag se sosiale  model miskien kon noem : ‘die mengpot-model’.

Nouja – ‘n model wat ek baie van hou is die ‘kookpot-model’. As mens ‘n mengsel in ‘n pot gooi, dit warm maak tot dit kook en dit roer gebeur daar baie dinge. Onder andere verdamp die vlugtige stowwe eerste en die minder-vlugtige stowwe bly agter in die pot – ‘n eenvoudige skeidingsproses. Mens kan die model nou op ‘n paar maniere sien. Mens kan byvoorbeeld reken jy veredel die materiaal wat afdamp (soos by ‘n stookketel waar die  alkohol herwin word) en die oorblyfsel is die afval. Of mens kan beskou dat die waardelose deel afgedamp word en dat die residu as ‘n kosbare konsentraat oorbly. As mens nou die afgelope dekade of drie se volksmigrasie, vanuit ons land in ‘n nuwe diaspora in, met hierdie model vergelyk, en mens dink aan die blyers en die glyers, dan kan mens nogal argumenteer oor wie is deel van die veredeling of konsentrering en wie is deel van die residu of  afval. Glyers kan byvoorbeeld gesien word óf as pioniers of as weghardlopers, en die blyers kan dalk gesien word as óf bittereinders en vasbyters of swakkelinge wat nie anders kon nie.

Vat nou Harties. Ook ‘n lekker kookpot oor die afgelope dertig-veertig jaar: ‘n Interessante voorgeskiedenis met al die manewales tydens die boere-oorlog, die dambouery, die tussen-in-tyd-daarna, die tyd van die rooi busse  (party sal weet waarvan ek praat), die ontstaan van die myne, die inkrimpings en  groeifases en die invloei van ander, nuwe mense, alles warm gestook deur die  vlam van politiese veranderinge sedert die  laat tagtigs. Natuurlik het party die pad gevat – afgedamp. Ander het in die pot agtergebly. Nuwes het in die kookpot bygekom. Intussen het nuwe vlammetjies bygekom soos kragonderbrekings, slaggate, riool wat in die dam loop, opstande deur mense, inbrake by ons huise en sulke kleinigheidjies wat ons potjie goed laat prut.

Lang storie, maar nou wonder ek maar net – gebaseer op Descartes se model, watter ‘wet’ sou ons hier in Harties beskrywe? Waar het die evolusieproses in die kookpot, saam met Murphee ons gebring?

  • Ek kla – daarom is ek ?
  • Ek doen niks – daarom is ek ?
  • Ek kritiseer die wat iets doen – daarom is ek ?
  • Ek sit net op my alie – daarom is ek ?
  • Ek maak geld – daarom is ek ?
  • Ek gryp – daarom is ek ?
  • Ek besit – daarom is ek ?
  • Ek skinder – daarom is ek ?
  • Ek haat – daarom is ek ?

Daar is altyd ‘n klein klompie wat probeer help en bou, maar in my ervaring is daar ‘n groot apatiese meerderheid wat verwag, en wag, om bedien te word. Daarby nog  ‘n groep wat ‘demand’ sonder om te help ‘produce’. Daar is baie maniere om deel te word van die groepe wat probeer bou: Dink aan die kerke, Rian en Pauli se 5plus2 – bediening, Kinderligbediening, HAWS, die buurtwagte, HIF en MIF, Afriforum, HOEFF en sovele ander.

Wat ons sal wees is ‘n keuse:

  • Ek dien – daarom is ek ?
  • Ek het lief – daarom is ek ?
  • Ek glo – daarom is ek ?

 

Persoonlik voel ek bietjie anders:

  • HY IS – daarom is ek

Hoe dink jy oor die saak?

 

---000---

KPJ Nel

2016-02-05


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer