Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2016-02-08 Views:  1045
Author:  karelnel
Published in:  Stories
Oupa Gert Se Stories - Die Boodskap

DIE BOODSKAP

Niko Groenewald en Rudolf Beyers was albei versot op rolbal. Twee maal per week was nie genoeg om hulle tevrede te stel nie, Menige middag, net na vyf, het hulle mekaar op die baan gekry en daar geoefen totdat die skemerte hulle huistoe gejaag het.

In al die provinsiale en Suid-Afrikaanse kampioenskappe was hulle van die eerstes om in te skryf. Met die klubwedstryde was daar nie ‘n manspaar wat hulle kon klop nie.

Met die mansenkels het hulle nie graag teen mekaar te staan gekom nie. As dit egter onafwendbaar was, het dit ‘n titaniese stryd afgegee. Terwyl hulle mekaar dan probeer uitoorlê, het hulle nie nagelaat om mekaar te komplimenteer met goedgespeelde houe nie.

So het dit gebeur dat Niko die vorige jaar net-net die enkelkampioenskap voor Rudolf se neus weggeraap het. Rudolf se gelukwensing was hartlik en eg. “Vanaand, ou Maat, kom julle by ons ‘n vleisie braai. Ek het ‘n bottel tienjaar wat lankal soebat om gedrink te word.”

Daar is effens gesloer met die braaiery, en die tienjaar-oue voggies het vinnig gesak in die bottel.

Die wedstryd is oor en oor bespreek. Rudolf beskryf Niko se goeie houe tot in die fynste besonderhede, terwyl Niko vir Rudolf probeer verseker dat hy maar net meer geluk aan sy kant gehad het.

Later het die tonge begin sleep. “Ou Roelfie,” Niko se stem klink rond en sleperig, “ek wil nou nie staat en ydel wesie, maar ek wonner of daar in die hemel ôk rolbal is. Hoe sou jy sê?”

“Maar netierlik moet daar rolbal wees, anners kan dit mossie lekker daar wesie.”

“Nou lat ek nou vir jou sê. Die een van ons twie wat eerste afsterwe, moet op ‘n manier virrie anner een lat wiet of daar rolbal is of nie, hoor jy? Sal jy? Ek sal ôk.”

Die aand is verby en die twee manne het hulle roes afgeslaap. Die tyd het aangestap, en baie wedstryde is gespeel. Die twee manne se vrouens het hulle baie geterg oor die wedersydse belofte, dat die langslewende in kennis gestel sal word van die rolbal “daar bo”.

Toe is Niko skielik oorlede. Sommer daar op die baan het hy inmekaar gesak. Hartversaking, het die dokter gesê. 

Vir drie weke kon Rudolf dit nie oor sy hart kry om te gaan speel nie – maar toe word die lus te groot.

Met die eerste ope was hy daar. Die drie wedstryde het hy terdeë geniet. Die aand het hy moeg en met ‘n stywe liggaam in die bed geklim. Dit was ook nie lank nie, toe slaap hy soos ‘n dooie.

Toe gebeur daar ‘n snaakse ding. Hy kon nie vir ons sê of dit ‘n hallusinasie of ‘n droom – baie na aan die werklikheid - was nie. Hy het volgehou dat Niko by hom was. Uit ‘n groot wit ligkol het Niko met hom gepraat, so duidelik soos nog iets.

“Hello Roelfie,” het die stem gesê. “Ek wil met jou praat. Jy moet net nie skrik nie, hoor? Onthou jy nog ons ooreenkoms? Nou hier is ek en ek het vir jou goeie en slegte nuus.”

Rudolf het so geskrik dat hy nie ‘n woord kon uitkry nie.

“Eers die goeie nuus. Hier’s rolbalbane, ou maat, soos wat jy nog nie gesien het nie. Jy moet dit sien om dit te kan glo, en jy kan speel wanneer jy wil.”

Dit was vir ‘n rukkie stil, toe kom die stem weer: “Nou vir die slegte nuus. Jy moenie skrik nie, want dit is eintlik nie so baie sleg nie. Jou naam is op die bord. Volgende Saterdag speel ek en jy enkels teen mekaar.”

Ons het Rudolf gister begrawe.


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer