Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2016-02-08 Views:  762
Author:  karelnel
Published in:  Interesting/Interessant
Vonkvarkies

Vonkvarkies

Die klokkie lui.

Vandag se klokkies is mos elektronies en nou nie soos destydse elektriese of die oertydse meganiese klokke nie. Oorsee êrens is dit mos glad ‘n kunsvorm om met ‘n versameling klokke ‘n komposisie te speel. Hoeveel van ‘n komposisie dit is sal mens nie weet nie, want wie is nou ‘n komponis en wie nie? Nou wat van ‘n komptroleur – hoe is hy nou anders as die Inspekteur generaal of die ouditeur generaal of Thuli Madonsela?

Ek vertrou nie ‘n forensiese ouditeur nie, want in my ervaring kom hulle met ‘n agenda. Dis nie ‘n normale vergadering se agenda wat mens opstel nie maar een wat jou wil verstrik. Soos ‘n verpestelike wildstrik wat diere aan hulle nekke of pote vang. Vat nou byvoorbeeld die kwessie van die renosters – net omdat hulle horings het moet hulle sterf. Maggies man – beeste het ook horings en hoekom sterf hulle nie liewers nie?

Die beesbevolking het natuurlik ook gely onder die droogte, want hulle sê die boere moes hulle kuddes minder maak. Maar mense is ook tog kuddediere, veral as hulle saamstaan om te demand – dan maak die een soos die ander. Snaaks hoe die kudde-instink werk – kyk byvoorbeeld hoe ‘n swerm voëls saamvlieg en soos een man (of vrou) van koers verander. ‘n Mens noem dit glo ‘swarming’ en kan dit op ‘n rekenaar simuleer.

Rekenaars het vandag die wêreld oorgeneem en ons kan niks daaromtrent doen nie – nie dat ons sal wil nie. Die wat dit wil stopsit kry rekenaarvirusse aan die gang om rekenaars se breine te vreet en hul lewensbloed te suig. Dit laat mens dink aan die Zika virus wat dalk die Olimpiese spele kan stop. As dit gebeur – sê my – hoekom het ek dan so ‘n hoë resolusie TV skerm gekoop?

Die TV bly maar ‘n byderwetse ding want ek onthou nog toe die minister van Pos en Telekommunikasie, ene Hertzog dink ek, die hele destydse land verbied het om TV te hê. En dan sê party nog dit was die goeie ou dae! Ben het altyd gesê die goeie ou dae is nou, want soos die beurs die laaste tyd aangaan lyk dit my boer ons almal agteruit. Net soos die skole – die standaarde gaan eers af om die punte op te kry maar uiteindelik gaan die punte ook af sonder om die standaarde op te kry. En dan staak hulle nog om verniet klas te kry by die universiteit, waar die meeste nog steeds dop, net soos in ons tyd.

As mens nie klas bywoon nie, dan is die kans goed dat jy sal dop, tensy jy iemand kan omkoop om jou deur te sit. Maar dan moet die lektor korrup wees. Om korrup te wees, lyk my is mode – dis ‘n kwessie van die hoogste bome vang die meeste wind – bedoelende op die hoogste vlakke kan mens die meeste neem deur jou hande in die kasregister te kry. Oppas net vir Thuli. Hoekom nie Thuli vir president nie? Ons kort mos lankal ‘n vroue-president. Hoewel ek niks van feminisme hou nie.

Feminisme is ‘n ‘loser’. Maar dis nie snaaks nie want die Bokke, Bafana’s en Protea’s is baiekeer ook ‘losers’, en dan help my hoë resolusie TV jou net om die vernedering meer akuut te maak. Maar wat is die verskil tussen ‘akuut’ en ‘chronies’? Die mediese fondse betaal mos vir chroniese medisyne. Sal hulle betaal vir akute medikasie ook? So byvoorbeeld as jy ‘n akute nier- of blaasprobleem het.

Dan soek jy mos daai plekkie om van die bedoelde prikkeling in jou blaas ontslae te raak. Ongelukkig is ons nie soos die wat sommer langs die pad kan staan nie – oop en bloot vir al die karre wat verbyry – gelukkig so. Sommige jaag verby net soos by die Dakar – selfs daar kon ons nie eers wen nie. Wat was ons man se naam nou weer Viniel? Viniel is mos die materiaal waarmee hulle vloer tapyte maak. Viniel werk goed in ‘n badkamer, veral rondom die troon, want dit maak maklik skoon. Skoon is natuurlik ‘n relatiewe begrip, want almal weet daar is altyd duisende kieme, selfs al maak die dettol 99% daarvan dood. Het jy al gevoel hoe dettol in ‘n wond brand?

Die ongemaklike brand wil nie weggaan nie en ek kry nie die toilet in die skoolgebou of by die kantoor nie. Ek soek en soek en kom nêrens nie en draai om en om soos in ‘n labirint. ‘n Labirint is ook glo ‘n stuk filosofie want dit laat mens kwansuis dink, dis seker hoekom so min mense daarvan hou. Is die plekkie van verligting in die middel van die oneindige lang laberint? Of diep onder die oppervlakte van die see? En sê nou onder die oppervlakte is mens langs ‘n glasvenster soos in ‘n akwarium??

Ek moet na die oppervlakte toe kom want diep ingewortelde roetines laat my onderbewuste verstaan as ek nie nou die oppervlakte breek nie, dan gaan daar moeilikheid en skande wees. Ek sien die klokkie was die selfoon se alarm en nou moet ek gou maak om by die badkamer uit te kom...

---000---

KPJ Nel

2016-02-08


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer