Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2016-02-09 Views:  566
Author:  karelnel
Published in:  Stories
Oupa Gert Se Stories - Die Wilddief Van Mooiberg Deel 1

DIE WILDDIEF VAN MOOIBERG

 

            Hoog aan die noordrand, amper op die dorpsgrens, lê die huisie van Pete Simmonds. ‘n Stewige wit sandsteenhuisie is dit, met ‘n abba-kaggel en ‘n stoep amper regom die huis. Die blomtuintjie bestaan hoofsaaklik uit inheemse plante – varings en aalwyne – goeters wat ‘n mens nie onnodige sonde gee nie.

Vir die soveelste keer rek Pete Simmonds hom behaaglik uit. Sy lang, rankerige liggaam vorm ‘n boog in die gelapte seilstoel. Met die hak van sy linkerskoen stewig ingewig in die mik van die klimop teen die stoeppilaar, strek hy sy arms luilekker voor hom uit. ‘n Gromgeluid van genoegdoening laat sy groot adansappel op en af speel onder die verrimpelde keelvel.

Met ‘n lui beweging tel hy ‘n lendelam verkyker op en bring dit voor sy oë. Een oog word styf toegeknyp terwyl hy die nodige verstelling doen. Eers bestudeer hy die omgewing van die polisiestasie – alles rustig, geen opgesaalde perde nie – mooi! Stadig draai hy sy kop om die munisipale kantoor te bespied. Alles rustig. Net die tuinwerker wat op sy graaf leun.

Nog meer na links swaai die verkyker totdat die veldwagter se huisie hier vlak voor hom lê. “Simpel ding,” brom hy as hy sien dat die opgesaalde perd nog roerloos voor die agterdeur staan, “steel weer misipale tyd!”

Dan gaan sy oë vlugtig oor die res van sy uitgestrekte dorpie. Hy ken hierdie mense se gewoontes so goed, want elke dag bekyk hy hulle sonder dat hulle van hom bewus is. Hy weet van alles wat aangaan, elke rusie, elke skelmstreek. As hy die verkyker neersit en weer sy sit-lê posisie in die stoel inneem, verlustig hy hom weereens in sy eie gedagtes. Hy sien sy lewe as ‘n tou, eenvoudig en tog kunstig saamgevleg uit drie stringe.

Die vernaamste string natuurlik, is hyself. Hy wat die kuns verstaan om die lewe te geniet, elke oomblik daarvan. Sy pa, wat nog amper ‘n rou Engelsman was, het so dikwels vir hom gesê: “My son, happiness is a journey, not a destination.” Vroeg-vroeg het hy al besluit dat werk en ‘happiness’ twee dinge is wat nie gelyktydig in ‘n man se lewe kan bestaan nie. Hy het dus opgehou om te werk net hier kort voor sy dertigste verjaardag.

Die tweede string in die tou is ‘n belangrike een vir sy gelukkige voortbestaan. Die string ken hy maar net as Oppenheimer. Vir jare al sorg Oppenheimer vir hom. Vir hom is Oppenheimer net ‘n idee, ‘n vae begrip of soos hy dikwels sê: “a body without a lot of boodle”.

Omdat hy dit in die skool nie verder as standerd ses kon bring nie, moes hy tevrede wees om as arbeider in die myn te werk. Vir jare was hy ‘n ‘learner blaster’, maar al die wette en regulasies wat ‘n mens moet ken, was nie vir hom bedoel nie. Jy mag nie dit doen nie, en jy mag nie dat doen nie. Jy moet só werk en jy moet sus werk. Alewig het hulle gelol met boeke en eksamens en al die dinge waarvoor hy uit die skool gevlug het.

Nadat hy dieselfde eksamen drie keer gedruip het, het hy besef dat hy ‘n plan sou moes maak – hy sou slimmer moes wees as Oppenheimer, anders gaan hy sy werk verloor. Sy planne was mooi agtermekaar en toe hulle die volgende keer ‘n rotswand moes wegskiet, het hy gesorg dat hy net-net buite die gevaargebied van ‘n klein rotslysie afval en bly lê. Daar het die skofvoorman en ‘n paar werkers hom op ‘n draagbaar getel en na die hyser gedra. Dit was die laaste dag wat hy gewerk het.

Pete wil net die ondervindinge in die hospitaal en daarna vir die duisendste maal begin herleef toe sy vrou sy koppie langs hom neersit. “Wanner loop jy dan?” vra sy met haar skril stemmetjie. “Te vroeg”, sê hy, “Stefaans het nog nie gery nie. Sit weer en misipale tyd steel”.

Hy blaas oor sy koffie, knyp sy oë toe en vat ‘n groot sluk. Die soet, warm koffie brand behaaglik in sy keel af. Teug vir teug drink hy dit en geniet elke druppel daarvan. Goeie dinge in die lewe wat geniet kan word – koffie, rooktabak, lekker soetwyn en dan... wildsvleis. Die adamsappel beweeg vinnig op en af as hy watertand raak vir al die lekker dinge.

As hy sy koppie neersit, neem hy weer sy verslete verkyker op en hou dit voor sy oë. Handig verstel hy die lense en klap dan ongeduldig met die tong. “Nou wanneer ry die man dan?” mompel hy teenoor homself.

Die man waarvan hy praat, is Stefaans Kriel, die dorp se veldwagter, en die derde string in sy lewenstou. Met ‘n bos rooi hare en ‘n humeur wat daarby pas, staan hy by almal bekend as Rooi Stefaans.

Pete glimlag as hy aan Stefaans dink. Die vete tussen hulle twee bestaan al twaalf jaar lank en nog altyd het hy wat Pete is, die beste daarvan afgekom. Soos kat en muis leef hulle, maar die muis was nog altyd net te slim. Gereeld het hy sy ribbok in die noordkamp teen die berg gaan haal en gereeld het Stefaans kom dreig dat hy hom nog sou vang.

Tog bestaan daar wedersydse respek tussen hom en Stefaans. Stefaans ken die trop ribbokke feitlik netso goed soos hy. Hulle ken elke ram en elke ooi. Albei weet presies hoeveel jong bokkies daar is – watter bokke oukant toe staan. Altwee die manne is lief vir die bokke, en saam het hulle in ’33 se droogte turksvyblare en water opgekarwei teen die steiltes uit om die trop aan die lewe te hou. Maar dit is sover as wat die twee ooit saamgewerk het. Deurentyd hou hulle mekaar dop. Hulle takseer mekaar – wag vir die volgende skuif.

Die vorige dag het Pete terloops gehoor dat Stefaans die volgende dag die ooskamp gaan deurry. Dit hou hom gewoonlik ‘n dag lank weg uit die dorp uit. Vandag is dus die aangewese dag om weer vir hom ‘n bok te gaan haal. “Maar nou sloer die man so!” sê Pete weer vir homself. Gewoonlik ry hy vroeg as hy die ooskamp gaan doen...!

Uit ondervinding weet Stefaans dat Pete nooit meer as ses of agt bokke per jaar skiet nie, want dit is na sy mening net genoeg om die tropgetal die regte grootte te hou. Al wanneer Stefaans dus gerus is, is vir ‘n maand of uiters ses weke nadat Pete ‘n bok geskiet het. Daarna slaap hy egter min. Hy is dan gedurig op Pete se spoor. Hy en die munisipaliteit se werkers en die polisie hou oë en ore oop, maar dan, een oggend as hy opstaan, hang daar ‘n wildsboud of ‘n ribbetjie, netjies toegedraai,  aan sy deurknop en dan weet hy, Pete het hom weereens uitoorlê...

Rooi Stefaans se oë dwaal vinnig oor die kliphuis teen die rant as hy sy been oor die perd gooi. “Engelsman,” sê hy, “vandag is vandag...!” Nog voordat hy behoorlik sy sit op die perd gekry het, draai hy haar kop ooskamp se kant toe. Hierdie dag het hy fyn beplan. Saterdag was dit presies vyf weke gelede dat die laaste ribbokboud aan sy agterdeur se knop gehang het. Hy weet verseker dat Simmonds nou enige tyd sal toeslaan. Verlede week het hy glad drie keer gaan visvang, ‘n duidelike teken dat sy vleis gedaan is.

Die vorige dag het hy dit so bewerk dat hy net voor Pete in die poskantoortjie was om die munisipaliteit se pos te kry. Hy het net gewag dat Pete binne hoorafstand was, toe sê hy asof dit hom sopas bygeval het: “Hester, ek sal nie môre die pos kom haal nie, want ek moet die ooskamp gaan deurry. Die plaasboere se werkers het weer van die drade platgetrap.” Hy kon sien dat Pete sommer amper gaan stilstaan, en hy het geweet dat die hoek gesluk is.

Nou is alles gereël. Sy vrou, Santjie, sal Pete se huis dophou om te sien of hy koers kry noordkamp toe. By die ouhoutboompie sal hy dan stilhou totdat Santjie vir hom met die spieël blits. Wanneer sy hom vir die tweede keer blits, sal hy weet dat Pete agter die eerste kop verdwyn het. Dit sal hom ‘n goeie twintig minute tyd gee om terug te ry tot by die spoelsloot wat vanaf die noordkamp kronkel. As hy eers in die sloot, en Pete op die rug van die berg is, is daar geen kans dat Pete hom sal sien nie.

Hy kry eintlik lekker as hy homself gelukwens met sy plan. Hy te perd en die Engelsman te voet. Vandag gaan Pete hom nie weer ontglip nie! Alles verloop vlot. Nog skaars het hy stilgehou of die spieël flits van sy voorstoep af. Hy het vanoggend met opset gesloer totdat die son vol op die voorstoep skyn. Hierdie keer wil hy seker maak van sy saak.

Vir die tweede ligflits moet hy lank wag, want twee maal het Pete gaan staan om die wêreld om hom te bespied. Na die tweede flits wag Rooi Stefaans nog omtrent vyf minute voordat hy half uitgelate koerskry terug onderdorp toe waar hy in die spoelsloot verdwyn. Nou moet sy tydsberekening net reg wees. Dit sal Pete ten minste twee en ‘n half ure neem om tot by die noordrand te kom waar die bokke gewoonlik dié tyd van die dag wei. Dan wil hy lankal reeds in die lopie duskant die rand sit. Daarvandaan sal hy die trop mooi in die oog kan hou...

Pete stap gemaklik. Die nekbreker-punt-tweetwee buig lekker saam met sy knie, die loop se punt in sy skoen en die kolf in die stukkende broeksak. So kan hy vir myle stap, met of sonder ‘n bok op sy skouers. Die verkyker hang voor sy bors en wip saam met sy stap as hy “It’s a long way...” loop en fluit.

As hy agter die eerste kop uitkom, voordat hy die paadjie vat na die rug van die berg toe, gaan sit hy op ‘n klip en bestudeer die bult waaragter die ooskamp lê. Hy sien geen teken van Stefaans nie – snaaks! Die man moes besonder vinnig gery het. Natuurlik omdat hy so tyd gemors het by sy huis. Hy trek sy skouers op en nie sonder ‘n effense onrus nie, stap hy voort.

Die ribboktrop het vroegoggend klaar water gesuip in die boloop van die bergstroom, wat verder af verander in die spoelsloot wat deur die onderdorp kronkel. Die hele trop, behalwe een uitgegroeide ram, is uitbundig. Die jong ram, wat sopas die leierskap oorgeneem het, pronk springend al om die trop. Telkens blaf-snork hy vir die uitgestote ram wat nukkerig in die nabyheid wei. Die ooie is vet en baldadig en die jong bokkies rinkink al oor die waterlopie.

Op die hoogste punt van Mooiberg, gerieflik met sy rug teen ‘n ouhoutboom, sit Pete. ‘n Trek van salige tevredenheid lê op sy gesig. Hy het sopas die trop opgespoor waar hulle wei-wei al laer afsak in die waterloop. Die gras daar is sag en groen en hy weet dat dit nog lank sal wees voordat hulle teen die noordrand sal uitkom. Weer en weer rig hy sy verkyker op die polisiestasie, maar hy weet dat daar van daardie kant geen gevaar dreig nie.

Dan dwaal sy oë ooskamp toe, maar ook daar sien hy niks. Dan kyk hy sommer die dorp deur – die pastorie, die driemanskool waar die kinders nou net hulle eerste speeltyd het. Hy kyk na sy eie huisie teen die rand en sien hoe sy vrou lustig die voorwerf vee en die stoffies wat voor haar besem opwarrel.

Na nog ‘n halfuur van luilekker niksdoen, staan Pete op, rek hom lank uit en maak sy swaar leerbelt los. Versigtig haal hy die geweertjie uit en streel die kolf liefderyk. Hy loer deur die loop om seker te maak dat dit skoon is. Uit sy hempsak haal hy een van drie patrone, soen dit liggies en druk dit dan in die loop. Versigtig laat hy die loop reguit kom totdat dit vassluit aan die kolf met ‘n klikgeluid. As hy die veiligheidsknip opskuif, verander sy hele houding. Nou is hy Pete, die jagter. Elke spier is gespanne, elke sintuig wakker.

Tussen hom en die trop lê twee klein bultjies. Die trop is nog nie besig om in sy rigting te wei nie. Die sappige groenigheid van die waterlopie hou hulle langer as gewoonlik weg van die noordhang af. Versigtig loop hy koes-koes van die een besembos na die ander. Die wind waai reg en hy weet dat hy tot baie naby aan die trop sal kan kom.

Dan skielik hoor hy die ribbokram se blaffluit ‘n ent voor hom. Hy hoor hoe die klippe spat soos die trop vlug. Instinktief bring hy die geweer skouer toe. Hy weet dat iets die bokke moes skrikgemaak het en dat hy vinnig sal moet optree. Hy sak af op sy linkerknie net wanneer die groot ram oor die bultjie storm. Met ‘n swierige sprong probeer die ram wegkom van die figuur voor hom, maar die loodkoeëltjie laat die swaar liggaam in die lug bollemakiesie, om stuiptrekkend onder ‘n besembos in te skuif...

Vir Rooi Stefaans het dinge heeltemal skeef geloop. Die trop was nie waar hy hulle verwag het nie. Hy was nog niksvermoedend besig om sy perd al met die spoelsloot op te beweeg, al tussen die ouhoutbome deur, toe hy skielik die fluit van die ribbokram hoor. Daarna het ‘n mens net klippe hoor spat en die waarskuwende fluit van die voorste ram. Skaars het hy herstel van die skrik toe hy die twee-twee se knal hoor.

(Word Vervolg)


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer