Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2016-02-09 Views:  675
Author:  karelnel
Published in:  Stories
Oupa Gert Se Stories - Selukwenyani - Deel 1

SELUKWENYANI

 

Die plaasvolk het haar Selukwenyani genoem – Selukwenyani die dwarrelwind – die wind wat kan teister en terg; wat die tolbosse spelerig deur die veld jaag. Die wind wat ‘n hoed afwaai en die pluimvee onder die sipresse laat invlug. ‘n Wind is dit ook wat woonhuise kan platdruk, verwoes, gelyk maak met die aarde.

Ousie Lieta het haar hierdie naam gegee. Moontlik was dit in ‘n oomblik van heldersiendheid, of miskien was dit maar net omdat die lewe op Bosplaas eensklaps so totaal verander het. Dat die naam gepas was, ly geen twyfel nie! Die lewe op Bosplaas, net nadat Miempie bewus geword het van die lewetjie in haar, was soos ‘n dwarrelwind wat skielik opgespring het uit die niks. Soos ‘n dwarrelwind was dit wat ondeund die tolbosse kon gryp in ‘n rondomtaliedans om hulle dan teen die ooskamp se heining vas te druk.

Noudat alles verby is – die dwarrelwind vasgevang is onder ‘n hopie rooigrond tussen die lang sipresse – nou het die dwarrelwind op Bosplaas gaan lê. Nou is dit asof die geluk wat uit haar gestraal het, vasslaan teen die berge, en die aarde van sy regmatige deel daaraan ontneem.

Sy druk die sitkamergordyne teen haar gloeiende wange vas en die mooi fyn gesig vertoon nog mooier teen die swaar groen fluweel.

“Dit is waar”, prewel sy vir die ondergaande son, “dit is waar!” Haar hande streel liefderyk oor haar eie liggaam asof dit iets heiligs is. “Vanaand sal ek hom vertel, kan ek hom vertel. Vertel ek hom dit wat hy gedink het nie meer moontlik is nie – dit waarvoor hy so lank al wag – twaalf lange jare! Twaalf jare van hoop, teleurstelling, wag – maand na maand – jaar na jaar...”

Alles in die lewens van die Vermeulens het stigtelik en egalig verloop tot presies veertig sekondes nadat Miempie die nuus aan Hentie vertel het. Daarna was dinge nooit, nooit weer dieselfde nie! Toe reeds het die dwarrelwind opgespring en twee mense hoog laat sweef oor die dinge van hier benede.

Die vrees vir ‘n kinderlose oudag was eensklaps weg. Die moedeloosheid wat stadig deur die jare gegroei het, het in ‘n enkele oomblik verander in ‘n intense vreugde wat geen grense ken nie.

Hulle was opeens soos die twee windswaels wat links aan die stoepmuur besig was om hul moddernes te bou. Soos die swaels het hulle gesweef, geniet en gebou.

Hulle was bly, en hulle wêreldjie was saam met hulle bly. Suster Lettie het sommer aan’t huile gegaan, en Miempie het saam gehuil.

Tant Dorie het vinnig agteruit op haar vingers begin tel, en toe verskonend gesê “Ag vrou, ek is simpel. Julle is mos al jarre en jarre getroud.” Sy’t opgespring en Miempie styf teen haar aangedruk.

Toe Ai-Lieta dit hoor, het sy hande geklap en dansend gesing “Jo-na-na-whê Jo-na-na-whê!” Sy het dit aan ‘n ieder en elk wat naby die werf kom vertel. Tot die los volk het onder die invloed van die vaste volk se blydskap gekom. Bosplaas het skielik ‘n plesierige plaas geword.

Nou was daar werk op Bosplaas soos nooit tevore nie. Die dak wat drie jaar vantevore geverf    is, moes weer geverf word. Die binnemure moes twee lae van die beste verf kry. Die gastekamer word verander in ‘n pragtige kinderkamer. Die krake in die voorstoep word uitgekap en opgevul. Net die boerdery word effens afgeskeep, want Hentie is bykans elke uur in die huis om te hoor of alles nog reg is. Miempie mag niks vermoeiends doen nie. Al oefening wat sy kry, is die lang wandelinge in die laatmiddag – en dit stewig ingehak by Hentie.

Die maande het verbygesleur. Dikwels het Hentie met sy hand op Miempie se maag gelê. Dan, as hy die geringste beweginkie voel, het hy uitbundig gelag. “Gou maak, kindjie, gou maak. Pappa wag,” sê hy dan laggend.

“Sê nou maar dis ‘n dogter,” het Miempie soveel kere gevra, en elke keer was die antwoord dieselfde.

“Ek sal vir haar netso lief wees soos vir jou,” sê hy dan ernstig. “’n Dogter kan mos ook perdry en skape aankeer, of hoe?”

Op die drie-en-twintigste Augustus is sy gebore in Mooiberg se verpleeginrigting. Dit het ‘n klein opskuddinkie in die dorpie veroorsaak. Die Vermeulens is oorval met blyke van blydskap. Familie en vriende moes beurte neem tydens besoektye om die moeder en kind te sien. Hentie was gedurig soos ‘n pronkpou al om die bed.

Na agt lange dae is Miempie terug plaas toe.

Aia Lieta was die eerste by om Miempie te kom groet. Soos ‘n broeis moederhen het sy al om Miempie gedraai. Groot blink trane het oor die swart wange gerol.

“A! A! A! Mies, gelok Mies. Ai Liet se hart is so bly vir die nonnatjie! Ons, die swart volk van die plaas, sê baie dankie vir Modimo. Ons sal hom grootmaak, al het hy gekom soos die Selukwenyani, die draaiwind...”

Op Kwennie se vyfde verjaardag koop Hentie vir haar ‘n Shetland-ponie. ‘n Pragtige diertjie was dit – net agt hande groot, en so mak soos ‘n lam. Eintlik was die ponietjie te mak vir Kwennie en het sy eerder saam met Hentie op Vosbles, die vinnige jong hings, gery.

Tot Miempie se ontsteltenis het die kind al meer en meer op Vosbles gery en al minder op die Shetland. Wanneer sy effens ongeduldig met Hentie daaroor gepraat het, het hy verskonend gesê: ”Vrou, die kind is ‘n gebore ruiter. Ek sê jou, voor sy ses jaar oud is, gaan sy net so goed of beter as ek ry.” En so was dit ook. Hentie moes maar weer vir Bessie, Vosbles se ma, vir homself opsaal as hulle skape of beeste gaan aankeer. Soms het hy haar toegelaat om ‘n bietjie te laat ooplê.

Dan het sy uitbundig gelag, haar hare loswapperend in die wind. Sy wou altyd vlieg oor die aarde, een word met Vosbles as hy oor ‘n sloot of ‘n wilgerstomp spring. Op haar sesde verjaarsdag word Vosbles dan ook hare, en hare alleen. Tot aan die einde van daardie jaar groei die liefde tussen perd en dogter tot iets moois op die plaas.

Toe moes Kwennie koshuis toe op Mooiberg. Aanvanklik was dit ‘n ellende! Die weeksdae was lank en saai. Hier was sy nie Kwennie nie, maar Elsaline, dogter van die rykste boer in die distrik. Dit was asof sy deur die week ‘n heel ander mens was.

Naweke was kort en sonder rus. Elke naweek was dit asof ‘n dwarrelwind Bosplaas uitgesonder het as sy speelplek. Vosbles moes geweet het wanneer dit Vrydag is. Dan het hy by die kamphek kom rondtrippel en aanhoudend gerunnik.

Kwennie het gereeld suikerklontjies gebring as beloning vir ‘n uur of wat se uitbundigheid oor Bosplaas se vlaktes en rante.

Met die jare het dinge op Bosplaas nie veel verander nie. Hentie het begin grys word en Miempie dra ‘n bril. Kwennie het grootgeword. ‘n Pragtige mens het sy geword. Haar hare was goud en haar lag soos die kabbeling van die fonteinstroom hoog uit die berg.

“Jy lag te uitbundig,” berispe Miempie soms. ”’n Mooi jong dame lag nie so nie.”

“Wil Mams dan hê ek moet soos die dorpsdametjies wees? Moet ek net soos hulle bedeesd sit en mooilyk? Aikona.” Met ‘n ondeunde laggie sal sy dan Miempie se voorskootstrik lostrek, of haar hare deurmekaar vroetel.

“Nee ou Moekie, as ek lag, dan lag ek, en as ek moet huil, sal ek seker maar ordentlik tjank ook.”

Van Universiteit toe gaan, wou sy niks weet nie. “Nee Moeksie,” het sy altyd geskerm, “onderwyskollege vir my, en dan kom soek ek ‘n pos op Mooiberg. Ek wil altyd naby julle wees...” So het dit dan gebeur en is sy later doodgelukkig in die twee-manskooltjie op Mooiberg. Elke naweek gaan sy huis toe, na Miempie en Hentie toe, en na Vosbles wat al oukant toe staan.

Waar Miempie op die voorstoep sit, is daar onrus in haar hele houding. Dit is Vrydag en reeds vieruur en Kwennie is nog nie tuis nie. Vir die afgelope uur al hou sy die grenshek in die nekkie tussen die twee koppe dop. Sy sien die twee klonkies wat elke Vrydag vol afwagting daar sit. Hulle kry gewoonlik ‘n handvol lekkers vir die oopmaak van die hek en dan mag hulle buitendien in die rooi motortjie saamry tot by die plaashuis.

Vir die soveelste keer kyk Miempie op haar horlosie. ‘n Onverklaarbare onrustigheid laat haar haar hande teen mekaar vryf. Die afgelope maand of twee was Kwennie so anders. Sy is nie meer so spontaan soos altyd nie, en sy bring baie meer tyd in haar slaapkamer deur as tevore. Sou die kind verlief wees, of wat is dit tog?

Uiteindelik sien sy roering by die hek. Die rooi kar ry deur en hou dan stil. Miempie kyk angstig totdat Kwennie verby die gevaarlike deel van die pad is, dan staan sy op om die koppies te gaan regsit.

Sommer met die groetslag sien Miempie dat iets skort.

“Hello Moeksie,” groet Kwennie gemaak-vriendelik, “is die melktert al koud?” Sy wag egter nie vir ‘n antwoord nie, maar draai sommer vinnig om na die klonkies toe.

“Julle moenie die perd gaan haal nie. Ek sal nie vandag ry nie,” sê sy in hulle taal.

Nou weet Miempie! Daar is groot fout! Dit is nie haar lewenslustige kind van vroeër nie.

“Kom sit hier kindjie, ek skink vir ons.”

Anders as gewoonlik loop Kwennie nie na die koekblik in die spens nie, maar plons redelik onfatsoenlik in die leunstoel neer.

“Hoe gaan dit met Pappa?”

Miempie kan sien dat dit bloot uit gewoonte gevra word.

“Goed,” antwoord Miempie, “en hoe gaan dit op die dorp? Het jy nie vir ons pos gebring nie?”

“Hoe sê Mams...? Nee, daar was nie pos hierdie week nie.”

Sy vee oor haar voorkop asof daar hare is wat haar pla. Dan peusel sy weer aan die melktert wat Miempie voorgesit het.

“Wat is verkeerd Kwen, wat pla?” Miempie probeer opgewek klink. “Toe jong, uit daarmee. Ons twee het mos nie geheime vir mekaar nie!” En dan as sy die pyn in Kwennie se oë sien, voeg sy by, “of het ons?”

Kwennie stoot haar bordjie terug. Haar koppie is net half gedrink.

“Ag Moeks, ek... ek, ag kom ons praat later daaroor.”

Miempie sien dat die trane naby is. Nou sien sy eers die blou kringe onder Kwennie se oë.

Kwennie staan stadig op. “Ek kom nou weer – ek gaan net eers ander klere aantrek.”

Die onrus pak Miempie soos ‘n groot donker wolk. Hierdie kind, hulle troetelkind, sy moet tog nie seerkry nie. Tot nou toe het sy alles van die beste gekry. Hulle kon dit bekostig, maar sy ken nie hierdie hartseer meisie nie.

Miskien het hulle haar te beskermd grootgemaak. Sy het nooit werklik maats gehad nie. Haar lewe was so vol van alles wat sy gekry het, en graag wou doen, dat sy selde ‘n behoefte gehad het aan hegte vriendskappe.

Seuns- en mansvriende het gedurig haar guns probeer wen. Sy het egter die bekwaamheid van enige mens gemeet aan sy vermoë om ‘n perd te hanteer. Niemand in die omgewing kon haar wen met kunsry en hindernisresies op Mooiberg se skou nie – nie eers Hentie, haar leermeester nie.

Wanneer Kwennie by die sitkamerdeur inkom, glimlag Miempie goedkeurend.

“Jy lyk pragtig kind,” sê sy. “Hierdie broekpak pas jou besonder goed. Elke man wat jou sien, moet jou begeer.”

“Miskien moet ek nie sulke mooi klere dra nie Moeks”. Sy loer vir haarself in die muurspieël. “Miskien as ek slordig en onaantreklik was, was die lewe dalk heel anders.” Sy laat haar kop sak om Miempie se vraende oë te vermy.

“Kind, wat is dit tog met jou? Ek ken jou mos nie so nie.” Miempie skuif eenkant toe op die rusbank.

“Kom sit hier teenaan my,” sê sy, haar oë halfsmekend, net soos altyd. “Kom sit hier langs jou ou ma, en maak oop jou hart.”

Sy gaan sit teenaan Miempie, wat haar arm beskermend om haar enigste slaan. Kwennie laat haar kop teen haar ma se bors sak, en dan huil sy soos in die jare van haar kleintyd.

“Wat is dit kindjie, wat is dit tog?” Miempie se hand streel oor Kwennie se hare, en in haar hart groei ‘n vae vrees. Nie dit nie – Here – asseblief nie dit nie! Enige ander meisie, maar nie Kwennie nie!  Sy het dan altyd so weggeskram van mansvriende af.

“Kwennie kind,” vra sy en haar stem bewe. “Sê vir my, wat is dit.”


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer