Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2016-02-09 Views:  486
Author:  karelnel
Published in:  Religion/Geloof
Taximan

Taximan.

25. Toe Jesus op 'n dag Pretoria besoek het, het die Teologiedepartement van die Universiteit Hom uitgenooi om een van hulle konferensies toe te spreek. Een van die befaamde professore, wat 'n blink Porche ry vra Hom toe 'n vraag : "Meneer - wat moet 'n mens soos ek nog doen om vir ewig gelukkig te wees?"

26. En Jesus antwoord hom : "Lees jy ooit nog die Bybel? Wat dink jy sê die Bybel oor die saak?"

27. En hy sê : " U sal my nie so maklik uitvang nie! Almal weet mos die Bybel sê jy moet God liefhê en goed doen aan jou naaste. Almal weet ook dis nie so eenvoudig nie. Het u al ooit ons Departementshoof se proefskrif oor die  onderwerp gelees, veral gesien in die lig van die nuutste teologiese navorsing oor die intergeloofbeweging?"

28. Jesus sê toe: " Nee, ek moet erken ek het nognie die bepaalde werk gelees nie. Maar wat jy gesê is min of meer reg. Gaan doen dit eenvoudig en jy sal die ewige geluk vind"

29. Maar die briljante jong teoloog  wou nie kopgee nie. "As u die proefskrif gelees het sou u geweet het dat almal tog nie mens se naaste kan wees nie. Dink aan die kindermolesteerders, dink aan die uitvaagsels en die leegleêrs op ons strate, dink aan die taxidrywers wat almal so irriteer. Wanneer mens hulle help dan sterk jy hulle tog net in hulle kwaad!"

30. Jesus vertel toe hierdie storie: " 'n Baie ryk sakeman, met sy splinternuwe BMW was een nag laat op pad huistoe op die Ben Schoeman tussen Johannesburg en Pretoria. Toe hy afdraai by die groot wisselaar daar naby Megawatt Park ry hy hom skielik vas in 'n ry groot klippe  wat oor die pad gepak was. Die spoed van sy motor was so groot dat dit die klippe uit die pad gestamp het, maar sy BMW se voorste suspensie was in so 'n mate beskadig dat hy nie verder kon ry nie. Daar sit hy toe in die middel van die nag langs die donker afrit. Hy neem toe sy selfoon en bel Vodacom se noodnommer, maar terwyl hy praat toe ruk hulle hom uit die motor uit, en voor hy kon keer slaan hulle hom met 'n pyp in die gesig, gryp sy selfoon, en terwyl hy val skiet hulle hom in die bors. Uit die niet verskyn 'n wegsleepvoertuig en haak sy BMW en sleep hom weg."

31. " Gelukkig kom daar na 'n kwartier 'n predikant met sy Pajero verby. Hy was laatnag van 'n meerdere kerkvergadering af op pad huistoe. Die arme mens was doodmoeg want hulle het die hele dag geworstel met 'n studiestuk oor barmhartigeid in die kommissie. Hy ry versigtig tussen die klippe deur. Toe sy ligte op die stil figuur val wat langs die pad lê dink hy : Kyk hoe stil lê hy! Die arme man is seker reeds lankal dood. Ek kan niks vir hom doen nie. En buitendien - as ek nou stop , dan beroof hulle my ook. Ek sal liewer die saak gou by Sandton se polisiestasie gaan aangee."

32. "Nog 'n rukkie later kom daar 'n ywerige christen verby in sy Quattro. Hy kom pas van 'n konferensie af waar daar 'n opwindende oorsese spreker was en waar hulle die ongelooflikste wonderwerke gesien het. Omdat die Quattro bietjie laag op die pad is, tref dit een van die rotse en hy hoor dadelik dat die linkervoorwiel beskadig is. Hy besluit toe om sommer dadelik na die naaste garage te ry waar daar lig is  sodat hy die skade kan bepaal. Hy sien skaars die stil figuur raak wat langs die pad lê"

33. " Gelukkig kom daar na 'n paar minute 'n minibus-taxi verbygery. Die arme bestuurder was moeg gewerk van vyfuur die oggend af, en was op pad huistoe in Alexandra. Toe sy ligte op die arme man val het hy hom innig jammer gekry en stilgehou."

34. "Hy het toe uitgeklim en hom opgetel en op die taxi se middelbank gelaai en hom na die naaste 24-uur Trauma Eenheid hospitaal geneem. Toe hy daar aankom vra hulle hom : Het die ou 'n mediese fonds?? Ek weet nie, sê die taximan. Ons kan hom nie opneem as jy nie eers R5000 neersit nie - so was hulle antwoord. Die taximan het net sy kop geknik en met 'n moeë stap al die geld gaan haal wat hy die hele dag vir sy eienaar verdien het, en dit inbetaal"

35. Dit was al vroeg die more toe hulle die ongelukkige man eers klaar opgeneem en gestabiliseer het. Dit was al amper tyd vir die taximan om weer van voor af te begin werk vir die nuwe dag. Toe hy loop sê hy vir die klerk - Hou hom hier tot hy reg is, en as julle hom ontslaan en daar kort nog geld , bel my by hierdie nommer."

36. Jesus vra toe vir die teoloog: " Wie dink jy was die naaste van die ongelukkige man langs die pad? Wie het hom die liefste gehad?"

37. En hy sê: " Die laaste een - die een wat hom opgelaai het" Toe sê Jesus : " As jy dan sê dat mens God moet liefhê, en jou naaste soos jouself - gaan en doen soos daardie taximan!"

 

Die vraag is nie "Wie is my naaste ?" nie. Die vraag is : "Is ek 'n naaste?"  Die kewessie is nie of ek kan verstaan of redeneer oor wie my naaste is nie, maar wel wat die toestand van my hart is.

KPJ Nel

99/12/05


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer