Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2016-02-09 Views:  510
Author:  karelnel
Published in:  Religion/Geloof
Die Gastehuis Eienaar

Die Gastehuiseienaar

 

1.    Toe Jesus eenmaal Pretoria besoek het, het Hy baiekeer oor middagete op die Plein aan mense stories vertel. En die staatsamptenare het vir middagete uit hul kantore  gekom om na  Hom te kom luister. Ook die leegleêrs waarvan die strate destyds so vol was.

2.    Maar die predikante en teologiese professore het  Hom ernstig gekritiseer en selfs in die Beeld briewe teen Hom geskrywe.  Hulle het gesê  die mense moet Hom nie ernstig opneem nie want Hy het niks beter om te doen as om heeldag net praatjies te maak met die gepeupel op straat nie. Wat het Hy per slot van sake al bereik? Hy het nooit eers ‘n boek geskrywe nie.

11. Op  een so ‘n dag, toe vertel Hy hulle weer ‘n storie.   Die eienaar van ‘n gastehuis op ‘n klein dorpie hier buite Pretoria het twee seuns gehad. Omdat hy begin oud  word het, het hy sy plasie verkoop en ‘n gastehuis gekoop, want sy hoop was dat hy eendag vir sy seuns elkeen ‘n besigheid wou nalaat. Sy oudste seun was tweedejaar hotelbestuur op die Technikon en die jongste het pas matriek geskrywe. Hoewel hulle heelwat werkers gehad het, het die pa van die seuns verwag om self ook in die gastehuis te werk- want so was die enigste manier dat hulle die besigheid sou leer verstaan. Soms moes hulle help skottelgoed was. Soms moes hulle help vloere skoonmaak. Soms moes hulle die gaste help bedien.

12.  Kort nadat hy gehoor het dat hy matriek geslaag het, het die jongste seun gesê : Pa, gee my asseblief sommer nou al my aandeel van die gastehuis, ek wil graag my lewe elders gaan maak. Hier in ons omgewing is nie ‘n toekoms vir my nie. Julle geslag se mense is so bekrompe in julle sienings. Hier  by die gastehuis moet  ek net werk -   ‘n bediende se werk doen- en ek is moeg daarvoor. Ek wil Londen toe gaan om daar ‘n lewe te gaan begin.  Sy pa was baie hartseer, en maak nie saak hoe hy probeer het om sy seun te oortuig om eers verder te gaan studeer nie, die seun het hardnekkig bly vasklou aan sy idee. Sy pa het toe na die bouvereniging gegaan en ‘n verband van R250000 op die gastehuis gaan uitneem om vir hom die geld te gee. Die man het toe vir hom ‘n retoerkaartjie gekoop wat vir  ‘n jaar lank geldig was en al die geld in 25000  Britse ponde omgesit en dit vir sy seun gegee.

13.  Dit was so net na Maart toe die jongste seun sy tasse gepak het, sy beste klere aangetrek het, en sy pa hom op die lughawe laat aflaai het. Fier en regop het hy sy baggasie laat inweeg en nadat hy sy pa gegroet het het hy ingestap agter die inweegtoonbank in sonder om terug te kyk. Die opwindende lewe lê voor hom! In Londen aangekom het hy die eerste week in ‘n hotel in die middestad gaan bly - en Londen was vir hom amper net soos die hemel. In die hotel hoef hy nie eers sy bed op te maak nie! En hy kon laat slaap en dan net gaan die  grootste ontbyt denkbaar gaan eet. En die strate van Londen was so wonderlik! Hy het al die winkels deurgeloop en kyk. Hy het die plekke besoek wat hy nog net in boeke gesien het. In Soho kom hy op Carnaby straat af - daar waar die rock-kultuur sy oorsprong het - en hy kon ure in die winkels met hul aandenkings deurbring. Hy het met die ondergrondse trein Londen platgery. Op die trein het hy eendag ‘n oulike meisie ontmoet wat in Londen in ‘n kommune gebly het, en hy het haar dadelik vir koffie genooi by sy hotel. So het hulle goeie vriende geword. Toe hy aan die einde van twee weke sy rekening moes betaal toe kos dit hom 2500 pond! Daarna het hy besluit om ook maar by die kommune in te trek, want daar was dit baie goedkoper. Om deel van die gemeenskappie te word moes hy eers ‘n partytjie gee, en gelukkig kon hy dit bekostig, en hulle het almal  tot laat die nag lekker gekuier en gekuier geraak. Watter lekker plek is die Londen tog nie!

14.  Vir drie maande het dit so lekker gegaan!  Elke  week ‘n lekker partytjie. En saam met die meisie het hy die hele Engeland deurgereis. Hy het die modernste klere gekoop! Die interresantste flieks gesien.  Dis toe dat die Britse aandelemark in duie stort. Ewe skielik was daar baie werkloses op straat. En ergste van alles - hy het begin siek word. Eers het hy net sleg gevoel, maar later het daar sere op sy liggaam begin uitslaan. Die mediese kostes en die medisyne was so duur, en dit het eintlik nie veel gehelp nie. Na nog ‘n maand het sy geldjies begin min word en hy was bietjie bekommerd. Hy sou moes begin gaan werk soek.

15. Hy het toe  begin om oral te probeer werk kry. Eers as ‘n klerk in ‘n winkel - dit kon hy nie regkry nie.  Toe probeer hy as sekuriteitsbeampte - maar dit geluk ook nie. Uiteindelik het hy toe maar na gastehuise toe geggaan om te kyk of hy dalk daar  ‘n werk kon kry. Maar hy kon  nie regkom nie. Veral as hulle agterkom hy is siek, dan wil hy niks weet nie. Op ‘n dag was hy weer by ‘n gastehuis en het die eienaar gesmeek - gee my tog net werk - skottelgoed was, beddens opmaak, vloere skoonmaak - enigiets. Die man het homtoe uiteindelik aangestel - hy moes alleen buite die gebou werk , as ‘n  nagwag. Hy het ‘n baie klein salarissie gekry en buite die gebou in ‘n klein kamertjie onder ‘n brandtrap gebly, dig\by die plek waar die vullisdromme met afvalkos gestaan het. Al sy vorige vriende het hom verlaat en buitendien was dit besig om winter te word - dit was so grys en trietsig en koud en eensaam.

16.  Soms aan die einde van die week, voordat hy sy karige salarissie verdien het, het hy so gekyk na die afvalkos wat die gastehuis uitgegooi het en wat vir die varke bedoel was. En hy het gewens dat hy net bietjie van die oorvloed van die gastehuis kon geniet - voordat dit in die afval beland. Sy lewe in Londen het vir hom al hoe meer na die hel begin voel.

17.  Na verloop van baie swaarkrydae  toe sê hy vir homself - hier sit ek in die diepste ellende, maar in my pa se gastehuis lewe die werkers veel beter as ek! Hulle het elkeen ‘n behoorlike kamer, eet van die gastehuis se kos, het toegang tot ‘n mediese dokter en leef in  die  sonskynland.

18.  Hy besluit toe - ek sal  liewer maar weer teruggaan huistoe - gelukkig  is my kaartjie nog geldig. Ek sal na my pa tore gaan en sê : Pa - watter dwaas was ek nie gewees nie! Hoe kon ek so blind wees? Ek het so vêr afgedwaal van die paaie wat pa-hulle my geleer het! Hoe het ek nie my eie lewe verkwis en verwoes deur my losbandigheid nie! Ek het dit wat pa deur soveel jare met sorg en moeite opgebou het soos ‘n verstandelose mens  vermors.

19.  En ek sal vir my pa sê: Pa ek weet ek kan nie verwag dat pa my nog pa se seun sal noem nie, vanweë my dwaasheid en my sonde. Laat my asseblief net toe om hier vir pa in die gastehuis te werk. Ek sal enigiets doen - net wat pa  wil hê, solank ek net weer  hier by julle kan bly.

20.  Met byna sy laaste geldjies het hy met die trein na die Heathrow lughawe gegaan - ‘n geboë en siek  man. Toe hy sy verslete kaatjie en sy paspoort oor die toonbank stoot, het die  grondwaardin maar half afkeurend gekyk na die man wat omtrent niks het nie. Toe hy uit die lughawe in Johannesburg uitstap was die sonlig amper verblindend. Met sy bondeltjie goed het hy maar begin aanstryk Pretoria toe. Gelukkig het ‘n vragmotor hom gou opgelaai en naby sy dorpie afgelaai. Toe hy nog aan die onderpunt van die straat was, toe sien hy sy pa sien hom! Sy pa het geweet dis die laaste dag wat sy kaartjie nog geldig was en het so gehoop dat hy sou terugkeer! Soos ‘n mens sonder waardigheid, soos hy nog nooit sy pa gesien het nie, so sien hy sy pa na hom toe hardloop. Sy pa het hom gegryp en vir ‘n lang tyd, sonder woorde, styf teen hom vasgedruk.

21.  En hy sê vir sy pa : Pa - watter dwaas was ek nie gewees nie! Hoe kon ek so blind wees? Ek het so vêr afgedwaal van die paaie wat pa-hulle my geleer het! Hoe het ek nie my eie lewe verkwis en verwoes deur my losbandigheid nie! Ek het dit wat pa deur soveel jare met sorg en moeite opgebou het soos ‘n verstandelose mens  vermors.  Pa ek weet ek kan nie verwag dat pa my nog pa se seun sal noem nie, vanweë my dwaasheid en my sonde.

22.  By die huis aangekom roep die pa sy werkers en gee hulle opdragte. Hulle moes  vir hom die badwater gereed kry. Hulle moes van sy eie klere en skoene die beste gaan haal en dit bring vir sy seun.

23. En hulle moes die voorrade wat reeds vir die Kerspartytjie aangekoop was gaan haal en ‘n groot partytjie vir die aand aanlê.

24. Die pa het toe vir almal in die huis, al die gaste en al die werkers elkeen ‘n glasie sjampanje  laat skink want, het hy gesê - dit was asof hierdie kind van my regtig dood was - en nou lewe hy weer!

25. Toe die oudste broer teen skemeraand terugkeer nadat hy gaan voorrade aankoop het vir sy pa, toe hoor hy hoe die hi-fi in die sitkamer vrolike musiek uitblêr.

26. Hy roep toe een van die werkers uit om die voorrade af te laai en vra hom wat aan die gang was.

27. Die werker vertel hom toe hoe sy broer teruggekeer het, en sy pa die  kerspartytjie  voorrade gebruik het om ‘n verwelkomingsparty te hou, omdat hy lewend teruggekom het.

28. Hy was op die plek woedend en diep terleurgesteld en hy wou sommer in die bakkie spring en wegjaag. Sy  pa kom toe juis daar aan en begin by hom pleit.

29. Maar hy sê vir sy pa : Kyk hier - ek was nog altyd getrou aan pa. Ek het nog nooit pa se reëls oortree nie. Pa het nog nooit eers vir my en my vriende ‘n partytjie gehou nie!

30.  Maar nou dat hierdie seun van pa teruggekom het, reël pa vir hom spesiaal ‘n groot fees. En om te dink hy het sy hele erfenis met prostitute deurgebring daar in Londen!

31. Sy pa sê toe vir hom : My seun  - jy is altyd by my, en alles wat ek besit is tog joune.

32. Maar ons moet tog dankbaar en bly wees, want hierdie broer van jou was dood en het weer lewendig geword, en hy was verlore en is weer gevind.

KPJ Nel

99/12/17


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer