Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2016-02-09 Views:  566
Author:  karelnel
Published in:  Stories
Oupa Gert Se Stories - Die Telegram

DIE TELEGRAM

 

Sankie Muller skrik haar boeglam vir die harde geklop aan die deur. Dit is tien oor een in die middag. Op Mooiberg kuier niemand hierdie tyd van die dag nie! Dit moet iets verskriklik ernstigs wees. Besorg kyk sy na Karel in die dubbelbed. Na sy onlangse hartaanval mag hy nnie gesteur word nie.

Sy gly saggies van die bed af, haar middagvakie skoon weg. Sy sluip die kamer uit, maar versnel haar pas toe die geklop weer begin.

Nog voor sy die deur oopmaak, hou sy al haar wysvinger voor die mond en maak ‘n sjjj-geluid.

Sonder om ingenooi te word, beur Tinkie, Mooiberg se posmeesteres, die vertrek binne. “En nou Tinkie, wat is dit nou? Hoekom lyk jy so verwaaid?”

“Tannie San, dis ‘n telegram. ‘n Telegram vir Oom Karel. Ek wou dit nie met die bode stuur nie, toe bring ek dit maar gou self.”

Tannie Sankie skrik haar vir die tweede keer boeglam. Dit is baie selde dat daar telegramme na Mooiberg toe kom. Stellig ‘n doodstyding!

“Aag tog, my kind. Wie is dit?” hyg sy.

“NeeTant San, dis nie dood nie – dis verskriklike goeie nuus. Dis van die ‘Rhodesian’ af Tante. Tante-hulle is skatryk. Oom Karel het vyftigduisend pond gewen. Vyftigduisend pond hoor?”

Tannie Sankie hou weer haar vinger voor haar mond. Sy is spierwit bleek geskrik.

“Bly stil Kind. Moenie so hard praat nie. Oom Karel sal sekerlik die dood sterf as hy dit moet hoor.”

Die res van die gesprek is op die stoep gevoer en dit op ‘n baie gedempte toon.

Toe Tinkie by die hekkie uitgaan, sê Tant Sankie vir oulaas: “Gaan nou by Ds Gerber aan en vra hy moet dadelik hiernatoe kom. Maar jy sê nie ‘n woord nie, hoor – vir g’n mens nie, hoor?”

 

Skaars twintig minute later hou Dominee se splinternuwe negentien-veertien Fordjie voor die hekkie stil.

Tant Sankie wag hom op die stoep in met haar vinger voor haar mond.

“Middag Suster,” groet Dominee, “wat is dit tog? Is dit Broer Karel? Is hy... is hy...”

“Nee Dominee, hy slaap, maar dit is ‘n ander ding. Ek skaam my om dit te vertel, maar ek weet nie wat om te doen nie.”

“Praat Suster, praat gerus.”

“Dominee, ons het gesondig. Eintlik was dit Karel, maar ek het saamgestem. Ons het ‘n ‘Rhosesian ticket’ gekoop en nou het ons vyftigduisend pond gewen.”

“Suster, ek weet nie wat om te sê nie, maar hoekom vertel jy dit vir my?”

“Ek wil hê Dominee moet dit vir Karel vertel. Ek is bang sy hart sal gaan staan as ek dit vir hom sê. Dominee is slim en sal weet hoe om dit te doen.”

Dominee het vir seker drie minute gedink. Toe sê hy: “Nou kom Suster, kom ons gaan.”

Na die gegroetery en uitvraery oor die gesondheid, begin Dominee lekker gesels. Eers gaan dit oor die delwerye. Arm mense wat diamante optel en skielik skatryk is. Hy vertel van ‘n ander geval waar ‘n man honderdduisend pond geërf het van ‘n veraf familielid in Holland.

Eers as hy sien dat die pasiënt lekker ontspanne en rustig is, kom die vraag.

“En Broer Karel, sê nou maar jy wen vyftigduisend pond by die Rhodesiese lotery, wat sal jy maak?”

“Ag Dominee, ek sal nou nie van die geld vir die kerk kan gee nie, want dit is ...

(Oupa Gert het ongelukkig nie die verhaal voltooi nie) 


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer