Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2016-02-10 Views:  488
Author:  karelnel
Published in:  Interesting/Interessant
n Kussing

‘n Kussing!


‘n Kussing!

‘n Kussing! ‘n Regte, groot, wit, sagte kussing! Wat ‘n nag van weelde!

In die veld is die nag maar koud. Terwyl die hele sterrekoepel met helder speldpunte brand, sny ‘n koue windjie bo by die slaapsak in. Die rits langs die kant het langs die volle lengte van sy spore afgeklim en as jy die bokant van die slaapsak nie onder jou lyf inrol nie, dan skuifel die koue in en voel-voel aan jou hele lyf.

As jy so draai dat jou rug na die toe kant toe wys, dan lê die nylon sakkie aan die bopunt van die sak op jou gesig, en as jy andersom draai, kry jou rug koud. As dit te koud in die slaapsak word, dan maar kop intrek en dit warmblaas in die slaapsak tot dit te benoud is om asem te haal. Vroeg more sal die slaapsak van binne nat wees van al die damp wat daarin gekondenseer het.

En dan die klippe! As mens jou reglê dan voel jy die klippie hier by jou heup. Met ‘n gestoei kom jy uit die sak uit en krap die klippie weg. Dan maar weer instoei terwyl die nylon aanhoudend ritsel, net om uit te vind, sodra jy stil lê dat daar nou weer ‘n ander klippie is wat pla. So hou die stoeiery aan, en mens leer maar om jou lyf krom te gooi tussen al die bulte en slote deur. So bly dit tot jy omdraai. Die slaapsak skuif en skuur en jy worstel weer om die los ente bymekaar te kry om die koue van jou lyf af te hou. Jou groot stewels raak verstrengel in die onderpunt van die slaapsak, maar uiteindelik raak dit stil. Dan begin die klipvang episode weer van voor af. En so gaan dit tot laatnag. En heelnag groei die klippe groter en groter, maar later raak jy weg in ‘n niksweet slaap waaruit jy nou en dan uitkom as jy die ritsel-skuifel van die slaapsak hoor en jou probeer toehou onder die ontwykende los punt.

En die kussing! Eers maar jou rugsak probeer. Maar dit het te veel harde goed in. Dan jou seiluitrusting. Dit werk ook nie. Later maar ‘n trui nader trek. Maar dis te laag. More vroeg vind jy uit jy lê maar kop op die een arm, heeltemal toe binne die slaapsak, en yskoue druppeltjies wat drup op jou gesig as jy roer.

Daarom is ‘n kussing by die basis so luuks. Dink net! ‘n Hele nag van heerlike lieflike, wit weelde. Jy kan jou arms om die kussing plaas en sy koue wang teen jou gesig voel. En terwyl jy saggies op die sponsmatras wegsink, dan dink jy: Vader – dankie vir ‘n lekker kussing!
---ooo---

KPJ Nel
1979-07-20


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer