Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2016-02-10 Views:  479
Author:  karelnel
Published in:  Stories
Towerpantoffels

Die Towerpantoffels



Hy het maar pas skooltoe gegaan – nog nie eers behoorlik ‘n japsnoet nie. As jy smorens vroeg by sy bed verbystap merk jy dat hy sy kussing met oorgawe omhels, terwyl die klein kaal bolyfie die onderlaken skoon van die bed af gewoel het.

Ek hoor hom die ander Sondag die gang af kom. By elke kamer skreeu hy ‘n bevel in. Staan op! Maak julle bedde op! Maak julle kamers aan die kant – so in elke kinderkamer in. Vrou – opstaan en maak die kos – so klink dit in ma se kamer.

Toe eers merk ek my groot grys pantoffels, met die binne-skaapvel aan sy voete, en ek besef hy is nou pa. Sy voetjies verdwaal in die reuse skoene en hulle slof-slof agter hom aan. Tog verander hulle hom van ‘n klein seuntjie na die pa van die huis.

Dis of die pantoffels hom gesag gee. Hulle laat hom uitstyg. Eers is hy langer as kleinsus. Dan styg hy verder en word groter as ousus. Uiteindelik groei by ma ook verby. Die pantoffels lig hom op tot daar waar hy dink pa staan. En dis hier van bo af wat hy so kan hiet en gebied.

Wonderlik die jare wat jou pa se pantoffels jou nog kan optower om ‘n groot en onaatasbare heerser te wees! Want wie is dan sterker en beter as ‘n mens se pa? Wonderlik die veerligte kindergemoed wat deur die skaapvelpantoffels na die winkende grootmenswêreld weggevoer kan word!

Sy voetjies mag dalk klein wees, maar die pantoffels maak sy hart so groot! Die huis en die gang is klein, maar die towerpantoffels verbreed dit tot ‘n reuse nuwe lewensruim!

Jammer tog dat op ‘n dag die towerpantoffels hul krag sal verloor!
---000---

KPJ Nel
1989-09-10


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer