Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2016-02-10 Views:  757
Author:  karelnel
Published in:  Stories
Oupa Gert Se Stories -Ou Liefde Roes Nooit Deel 1

OU LIEFDE ROES NOOIT - Deel 1

 

Dr Giel Geertse kyk op vanaf die oop wond. Sy oë soek na dié van die nuwe hoofsuster wat assisteer. Dit is die eerste keer dat sy hom bystaan in die kardio-teater, en hy bewonder haar vaardigheid. Vandag sien hy skaars die res van die teaterpersoneel raak, en voel effens skuldig daaroor.

Wanneer hy en hierdie nuweling in mekaar se oë kyk, betig hy homself: “Dêmmit, ek moet my aandag by my werk bepaal!”

Behendig gaan hy voort met die hartomlyning. Nog voordat hy kan vra vir ‘n instrument, het Suster Karien dit reeds in haar hand. Twee keer het sy nou al die sweetdruppels van sy voorkop afgevee.

Sy hande werk vinnig sonder enige huiwering. Vandag is hy haastig om klaar te maak. Vandag is dit moeilik om onverdeelde aandag aan hierdie operasie te gee. Telkens soek sy oë na dié van die hoofsuster. Daar is iets in daardie oë wat hom weer en weer wil laat kyk.

Dit is sy tweede jaar as kardioloog in die Groenebloem Hospitaal. Verskeie kere het hy hom al verbeel dat hy besig is om verlief te raak op een of ander van die skones wat saam met hom werk, maar dit is sover as wat dit ooit gekom het.

Maar vandag, hierdie dag, wil dinge skeef loop...

Terwyl hy besig was om te skrop, het die lenige suster met die groot oë ingestap gekom.

“Middag Dokter,” het sy met ‘n klokkiestem gesê. “Ek is Karien Huisema, ek moet vandag bystaan.”

Vir ‘n oomblik was hy uit die veld geslaan. Gewoonlik word dit nie so gedoen nie. ‘n Wildvreemde suster? Maar toe hy in daardie oë kyk, kon hy maar net sê:”Welkom Kollega...”

Die operasie staan einde se kant toe. Hy weet dat dit suksesvol was. Hy sien die bewondering in haar oë, en hulle glimlag vir mekaar.

“Sal jy saam met my gaan koffie drink as ons klaar is?” vra Giel. Sy is besig om die rubberhandskoene van sy hande af te trek.

“Jy is dapper Giel Geertse,” dink hy by homself. “Jy arme doktertjie wat nog so diep in die skuld is!  Vanwaar hierdie skielike begeerte om te trakteer?”

Sonder huiwering aanvaar sy die uitnodiging. “Dankie Dokter. Graag! Ek is nog effens vreemd hier. Dit sal my goed doen.”

Giel weet dat hy besig is om smoorverlief te raak. Sy laat hom dink aan sy eerste liefde.

Jare terug, in Mooiberg se skool – nee, in die hele Mooiberg – was sy die pragtigste. Haar hare was ook so ‘n effense roesbruin. Haar oë was amper netso mooi soos hierdie Karien s’n.

Daardie was nie kalwerliefde nie! Hy het haar aanbid. In die klas het hy altyd gesorg dat hy naby haar sit, en gedurig het hy aangebied om haar tas te dra.

Tot daardie dag! Daardie dag, na aan die einde van die jaar, sal hy nooit vergeet nie. Daardie dag het sy lewe verander! Eers het hy gedink aan selfmoord. Toe wou hy vlug uit Mooiberg uit. Hy wou iets doen aan sy armsalige, armoedige bestaan.

Hy het agter die skool se sopkombuis gestaan. Hy het gekyk hoe die armstes wat nie omgegee het hoe skoon of higiënies die voorbereiding van die sop was nie, gretig ‘n tweede koppie geneem het.

Langs die gebou, onbewus van Giel se nabyheid, het Rina en haar vriendin in die flou oggendsonnetjie gesit. Net toe hy om die hoek gestap kom, hoor hy hulle praat, van hóm praat.

“Stokkies, die arme kerkmuis,” hoor hy Rina se stem. “Dink hy regtig dat ek iets met hom te doen wil hê? Hy sal seker ook maar ‘n dagloner soos sy pa word.”

Vir ‘n oomblik het hy botstil gaan staan. Dit was asof ‘n groot duisternis oor hom toegesak het. Rina het opgekyk en vir ‘n wyle was hulle oë smekend vasgesluit. Sy wou opspring, maar hy het vinnig omgedraai en weggestap.

Hy onthou dat hy na pouse sy tas geneem en na die heel agterste bank toe verskuif het.

‘n Paar keer het sy probeer om met hom te praat, maar die seer in hom was te groot. Hy het haar nie eers gegroet toe haar pa aan die einde van die jaar beroep is na die een of ander voorstad van Johannesburg nie.

Hy onthou hoe hy daardie nag op sy mielieblaarmatras gelê en rondrol het. Daardie nag het hy besluit dat hy geen dagloner soos sy pa sou word nie. Hy sou iets word – selfs miskien ‘n predikant soos Rina se pa. Hy sou uitstyg, bo hierdie armsalige bestaan, en sy mense saam met hom neem...

Terwyl Karien in die hospitaal se kafeteria sit en wag vir Giel, vlieg haar gedagtes heen en weer. Hulle dwaal veral om hierdie knap chirurg.

“Giel Geertse,” prewel sy sy naam. Snaaks, al Geertse wat sy ooit geken het, was die arm Geertses op Mooiberg. As predikantsdogter het sy destyds geweet van al die “depressiemense” en hulle probleme. Sy was soms by wanneer haar pa of ma aalmoese uitgedeel het aan hierdie sukkelendes. Sy weet van die Geertses wat, ten spyte van hulle armoede, geweier het om iets van die Vrouevereniging te aanvaar.

Sy dink aan die Geertse-seun – Stokkies het hulle hom genoem. Sy het ‘n afsku aan hom gehad. Hy het gedurig paddas en voëltjies oopgesny en bestudeer. Sy onthou dat hy soms ‘n oorlas van homself gemaak het. Maar sy onthou ook dat as gevolg van ‘n insident tussen hulle, sy haar voorgeneem het om nooit, nooit weer beledigende aanmerkings oor ‘n minderbevoorregte te maak nie!

Sy skrik toe die dokter liggies aan haar skouer raak. (Vervolg)

 

 


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer