Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2016-02-10 Views:  581
Author:  karelnel
Published in:  The Dam/Die Dam
Betroubaarheid - Ontwerpkompetisie

Betroubaarheid - ontwerpkompetisie

 

Kan iemand nie ‘n kompetisie uitskrywe nie – ‘n ontwerp kompetisie?

Ons liewe damwal het ‘n verbindingspad bo-op, met ‘n geboë tonnel aan die Oostekant, maar die pad oor die wal en deur die tonnel is ‘n enkelpad. Nou het die voorvaders, weet-nie-wanneer-nie dit goed gedink om robotte weerskante van die damwal op te sit, sodat die verkeer oor die damwal ordelik gereël kan word. Ons wat by die liewe dam bly, en veral die wat inluister na die gemeenskapsradio netwerk (Bravo November) sal weet dat daar gereëld chaos op-en-weerskante van die damwal is wanneer die robotte nie werk nie. Dis nou nie regtig ‘gridlocked’ soos in die stede nie, maar dis net so ‘n ‘schlepp’ want as jy eers in die tou is kan jy omtrent ‘sweet-blou-flippin-all’ daaraan doen.

Ons weet almal tog elektronika is  baie goed en onmisbaar, maar tog onbetroubaar – hoe meer elektronika, hoe meer onbetroubaar. En daarby moet ons ook sê Eskom self bevat sommer baaaaiiiee elektronika. Dit kan nou óf Eskom se elektronika, óf die robotte se  elektronika wees wat die probleem veroorsaak – maar dis nie lekker nie. En as die robotte wanfunksioneer of gladnie funksioneer nie – wie bel mens? Is dit ‘n Provinsiale pad en – verantwoordelikheid, of is dit  die Departement van Waterwese (wat die dam beheer), of is dit Madibeng? (O jimmel – hulle het net so baie elektronika!)

Nou weet ons uit ervaring dat daar baie maniere is om ‘n taak uit te voer – kom ons kyk na ‘n paar:

  • Doen niks, behalwe om miskien ‘n beleid te skrywe (‘n Baie byderwetse oplossing wat dikwels sedert 1994 gevolg word) Dis ‘n baie goedkoop oplossing.
  • Sit ‘n bord op en sê mense gebruik die damwal op eie risiko (Daarvoor moet ‘n samelewing minstens die skryf- en lees-tegnologie bemeester het) Dis ‘n betroubare oplossing, want die borde staan net daar, tensy die wind hulle omwaai of vandale daarop spuitverf.
  • Die hande-arbeid manier. Sit ‘n man weerskante vanwaar hy sy eweknie aan die ander kant kan sien, en dan beheer hulle dit met handseine. Daar moet natuurlik nog bestuurstoesig wees, en voorsiening moet gemaak word vir drie skofte ens. Dis natuurlik gunstig vir werkskepping, maar is ongelukkig effens onbetroubaar gesien in die lig van die baie stakings. Miskien ‘n bietjie duur oplossing, maar ek glo daar sal gou ‘byvoordele’ ter sprake kom soos byv die heffing van ‘tolgelde’ deur die wagters-op-die-mure.
  • Die meganiese oplossing. Hieronder meer daaroor – my eie voorstel.
  • Die elektriese oplossing. Dis ‘n stelsel van eintlik net elektriese komponente (nie elektronika nie) soos  kabels, relé’s, tydskakelaars en ligte (robotte) soos ons vroeer jare in die land gehad het. Goeie oplossing, maar onthou dan is Eskom steeds in die prentjie. Mens kan miskien sonpanele en batterye gebruik, maar dan is mens terug by elektronika en bowendien word sonpanele gesteel.
  • Die elektroniese oplossing. Elegant. Klein, kompak – doelgemaakte elektroniese stroombaan wat laekrag robotligte aan- en afskakel. (Dit kan selfs met ‘fiber-optic’ kabel bedraad word). Ek vermoed dit is waar ons tans is – en ons weet mos dit werk nie lekker nie.
  • Die ‘wireless’ oplossing. Ek glo ons het baie guru’s wat soiets kan voorstel. Mens kan  iets soos ‘Bluetooth’, selfoontegnologie of selfs satteliete gebruik. Selfs kan mens video-kamera’s inspan om te kan sien hoe lyk dit daar – tydig en ontydig. Ongelukkig nog meer elektronika!

Ek wil voorstel dat ons kyk na ‘n betroubare, redelik goedkoop, outomatiese MEGANIESE oplossing.

Weerskante van die damwal plant jy twee stewige houtpale (ysterpale kan gesteel word).  Daaraan bevestig mens twee borde, een wat sê “STOP” en die ander wat sê “GO”. Hulle moet so ontwerp word dat net een van hulle op ‘n slag sigbaar is. Dan sit  mens ‘n stel katrolle op waaroor mens ‘n staalkabel span, wat die  twee borde van posisie kan verander. Die staalkabel vat mens oor die damwal met ‘n stelsel van katrolle sodat die twee stelle borde aan mekaar verbind word, sodat as die een kant sê “STOP”, dan sê die ander kant “GO”. (Hê-hê – die van julle wat vlug is van verstand sal dadelik sê dit sal nie werk nie a.g.v. die tydvertragingseffek. Mens kan dit oplos deur net ‘n derde bord in te bring wat sê “WAIT”)

Sommige van julle sal dalk dink – maar dis mos nie outomaties nie? My ontwerpvoorstel gaan verder. Daar is gedurig water wat uit die dam uit loop.  Nou vervaardig mens net ‘n soort van ‘n emmer wat op ‘n balans-arm bevestig is. Hy loop dan vol water, en as hy vol is, kantel hy. Dit aktiveer dan ‘n hefboom wat die katrolstelsel hierbo beskrywe sal skakel. Daarna kom hy weer in posisie en begin weer vol loop vir die volgende siklus. Deur die watervloei te beheer met ‘n eenvoudige klep kan mens die volloop periode  maklik verstel. Dit behoort redelik betroubaar te wees – want staalkabels is sterk en dis onafhanklik van Eskom. Daar moet net so dan-en-wan iemand gaan en die katrolle (pulleys) bietjie ghries gee. Siedaar!

Hoewel ek weet dat dit ‘n goeie oplossing vir ons huidige omstandighede is, is ek nie so verwaand om te dink dis die BESTE oplossing nie. Die hoekom ek gewonder het of iemand nie ‘n ontwerpkompetisie wil uitskryf nie! ;-)

---000---

KPJ Nel

2016-02-10

 


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer