Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2016-02-11 Views:  656
Author:  karelnel
Published in:  Stories
Oupa Gert Se Stories: Die Wilddief Van Mooiberg - Deel 2

                                          Oupa Gert se stories: Die Wilddief van Mooiberg - Deel 2

 

Vir Rooi Stefaans het dinge heeltemal skeef geloop. Die trop was nie waar hy hulle verwag het nie. Hy was nog niksvermoedend besig om sy perd al met die spoelsloot op te beweeg, al tussen die ouhoutbome deur, toe hy skielik die fluit van die ribbokram hoor. Daarna het ‘n mens net klippe hoor spat en die waarskuwende fluit van die voorste ram. Skaars het hy herstel van die skrik toe hy die twee-twee se knal hoor.

“Magtig!” sê hy, “die donrrr...!” Hy kap die spore so diep in die merrie se flanke dat sy amper op haar agterpote staan. Dit is toe die merrie die bultjie uitkom, dat Pete haar kop sien uitsteek. Met ‘n skeldwoord sak hy langs die besembos neer. Hy sien Rooi Stefaans met ‘n geweldige spoed naderjaag. Sy helm hang agter sy rug en sy rooi hare wapper wild in die wind.

“Vandag is jy in jou maai, Simmonds,” prewel Pete. Toe Stefaans wegsak in die laaste leegtetjie, trek Pete homself so diep as moontlik onder die yl besembostakke in.  Hy trek die bok half onder hom in en haal die koeëltjie uit sy sak. Eers wil hy dit ‘n ligte soentjie gee, maar besluit dan anders. Hy stoot dit in die loop in sonder om die veiligheidsknip op te druk. Pete knyp sy oë styf toe as die merrieperd rakelings langs sy skuiling verbyjaag.

Bo teen die grensdraad swenk die ribboktrop links weg en kom met ‘n draai terug na die waterlopie toe. Stefaans bring die merrieperd tot stilstand en sy oë soek. Die trop kom ook tot stilstand, windop, geen tien treë vanaf Pete se skuilplek nie. Hulle kyk wantrouig na die man op die perd en begin dan berg-af wegdraf.

Rooi Stefaans begin in ‘n sirkel ry. Elke besembos kyk hy deur en by elke ouhoutboom hou hy stil. Hy skud sy kop ongelowig. “Engelsman!” sê hy woedend. “Jou pes!” Dan soek hy al verder en verder totdat Pete hom nie meer kan sien nie. “Somebody up there likes me,” sê Pete en sug verlig, “dit was nou amper!” Dan draai hy om om die bok keelaf te sny sodat hy kan uitbloei.

Rooi Stefaans het in ‘n moordende bui by sy huis aangekom. Santjie kon sommer sien dat dinge erg skeefgeloop het. “Het jy hom gekry, ou Man?” vra sy. “Nee!” antwoord hy boos met ‘n string skeldwoorde agterna. “Maar het hy geskiet?” “Ja, maar ek weet nie of hy ‘n bok gekry het nie. Dit het vir my gelyk of die groot ram makeer, maar die bokke het so vinnig op die vlug geslaan dat ek nie mooi kon sien nie.  En buitendien het die Engelsman net verdwyn asof die aarde hom ingesluk het. Maar vannag sal ek hom kry! Ek sal hom voorsit hier by die agterdeur en sy agterkant so vol haelkorrels blaas dat hy nooit weer bokke sal steel nie!”

Deur die nag het Santjie hom kort-kort geroep om te kom slaap, maar hy het vasberade die nag op die opvoustoeltjie langs die agterdeur deurgesit. “Hy’t seker mis geskiet – sy verdiende loon,” sê hy toe hy met rooi oë aan die ontbyttafel sit.

‘n Halfuur later, toe hy die voordeur oopmaak om werk toe te stap, hoor hy ‘n dowwe plofgeluid op die stoep. Toe hy die deur ooptrek, het hy dadelik geweet wat dit is wat so netjies in bruinpapier toegedraai voor sy voete gelê het. Hy het geweet, so seker as wat hy leef, dat dit ‘n mooi groot ribbokrib is...

Dit was reeds na tien toe Pete Simmonds aangestap kom poskantoor toe. Die ribboklewer lê lekker in sy maag en hy voel lief vir die hele wêreld. Hy stap reguit na die stoepie toe waar Rooi Stefaans armswaaiend met Sersant Barends staan en gesels. Telkens beduie hy berg se kant toe. Hy word wit in die gesig toe Pete agter hom praat: “Good morning, good morning, how are you all?”

“Bliksem!” sê Stefaans. “Ek is lus om jou...”

“Please Sergeant,” val Pete Stefaans in die rede, “tell the warden that I want to be addressed in English – surely as a public servant...”

“Luister vir my, Piet Simmens, as ek nie...”

“I beg your paedon, old man, my name is Pete, not Piet, or Simmonds if you like,” en Pete lag uit sy maag uit.

“Ja, lag maar. Onthou net, wie laaste lag...” sê Stefaans bitter.

“Ag nee wat, kom kêrels,” sê die sersant, terwy hy self moeite het om sy lag te bedwing, “los nou maar die lollery. Vergeet die hele affêre.”

“Nee,” dreig Stefaans, “ek gaan hom nog kry, gouer as wat hy dink!”

“Dan, my ou vriend,” lag Pete, “moet jy onder die klein besembossies ook kyk, by jou perd se voete, miskien lê die Engelsman daar! Jou perd het amper my dêm vingers afgetrap!”

Skielik verstar Stefaans se blik. Hy hyg na sy asem en sy vingers gaan krampagtig oop en toe. Dan begin sy liggaam ruk en hy sak inmekaar terwyl hy sy bors vasgryp. Sersant Barends en Pete buk vinnig oor die groot man. Sersant maak sy knope los en Pete staar na die hygende man, nou self bleek geskrik.

“Ons moet hom dadelik by die dokter kry,” sê Barends. “Bly jy hier, dan kry ek gou ‘n voertuig.”

Handewringend staan Pete na Stefaans en kyk, dan meteens buk hy af en asof Stefaans niks swaarder as ‘n uitgegroeide ribbokram is nie, tel hy hom in sy arms op en begin aanstap na suster Vermooten se kraamsaal. Die trane loop onbeheersd oor sy wange terwyl hy net een sinnetjie oor en oor prewel: “Please God, don’t let my friend die...”

Hy snuif ‘n slag, probeer die trane wat hom verblind aan sy skouer afvee en praat met die slap liggaam in sy arms. “’Seblief ou Stefaans, moenie nou doodgaan nie. Moet tog net nie doodgaan nie. Ek belowe ek sal jou nooit weer kwaad maak nie.”

Rooi Stefaans het deur halfgeslote ooglede die gesig bokant hom dopgehou. Hy het gesien hoe Pete na sy asem hyg, hoe die trane aldeur oor sy wange loop en hoe hy heeltyd soebat. En ‘n groot tevredenheid het in sy hart kom lê. “Toemaar Engelsman,” sê hy skielik, ”jy kan my nou maar neersit, ek dink ek voel beter.”

Vol ongeloof sit Pete vir Stefaans op sy voete neer. Dan staan die twee mans teenoor mekaar, Pete steeds hygend na sy asem, Stefaans met ‘n spottende blik op sy gesig. “You mean... you... you were just bluffing?” Pete vee woedend en vernederd die trane van sy gesig af. “You bastard!”

Skielik begin Pete Simmonds bewe. Sy oë rek groot, en die wange wat gewoonlik bruin gebrand is, word spierwit.

“You bastard, you...” stotter hy voordat hy inmekaarsak.

“Nee jong, nee ou Piet man, wat makeer nou?” Vinnig buk Stefaans om die vallende liggaam te stuit. Pete hang slap in sy arms.

“Nee, ou vriend,” soebat Stefaans as hy die slap liggaam oor sy skouer tel. “Moenie doodgaan nie. Ons is nou daar.”

Net voor hy by Suster Vermooten se voordeur kom, voel hy hoe die slap liggaam skielik lewe kry.

“Put me down, you clumsy bastard. You’re hurting me!”

Vir ‘n tweede keer staan die twee teenoor mekaar. Dan steek Rooi Stefaans sy groot hand uit. Onwillig vat Pete die hand.

“Onthou, jy’t gepromise né? Skiet nou weer ‘n bok, dan sal jy sien.”

“Yes, I promised, ou vriend – ek het gesê ek sal jou nooit weer kwaad maak nie, maar onthou ek het niks van ‘n bok gesê nie. Ongelukkig sal ek nou nooit meer vir jou ‘n boud of ‘n lekker ribbetjie kan bring nie.”  

 


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer