Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2016-02-12 Views:  534
Author:  karelnel
Published in:  Interesting/Interessant
Vensters

Vensters

Moontlik ken u die wonder  woorde van Koos Dup: “My oë is ‘n splinterruit, wat bly weerkaats ,  al kyk ek uit” . ‘n Oomblik se nadenke sal u oortuig van die diepte wat in hulle opgesluit lê. Ons oë is inderdaad vensters waardeur ons na buite kyk, en as jy mooi kyk, jy ook na binne kan sien.

Ons oë is twee  byna onbeduidende klein organe, met ‘n buitengewone groot invloed op ons lewens, want sowat 80% van al die inligting wat ons kry in ons lewe, kom deur ons oë. Die oog is ‘n bal met deursnee ongeveer 2.5 cm (Ongeveer so groot soos ‘n tafeltennisballetjie),  maar is ‘n ongelooflik-meesterlike ontwerp van kompakte bio-ingenieurswese. Feitlik elke deel van die oog is ‘n voorbeeld van onverbeterlikheid in ontwerp en funksionering.

Die ses spiere aan die buitekant van die oogbal werk in perfekte harmonie saam om die oog links en regs, op en af  te laat beweeg, asook rolbewegings te kan uitvoer. Om hierdie 6 spiere gesamentlik te beheer  verg ‘n meesterlike stukke beheerwiskunde. Dan nog beweeg die twee oë in perfekte harmonie, wat dit nog ‘n groter  wonder maak. ‘n Pasgebore baba het nie hierdie vermoë nie, en die ogies dwaal sommer ongefokus elkeen sy eie rigting en dis eers heelwat later dat hy hierdie kuns bemeester. ‘n Mens bereik eers pieksig teen die ouderdom van agt jaar.

Die outomatiese reëling van  die hoeveelheid lig wat die oog binnedring deur die pupil wat vergroot of verklein is so perfek dat selfs die duurste  Televisiekamera’s dit vandag nognie kan nadoen nie.  Almal wat nog ou kamera’s gehad het waar jy apart moes fokus, die  korrekte lensopening en die  sluiterspoed moes stel en dan oor  die diepte van veld  moes wonder , sal  miskien iets besef van die kompleksheid van die werking van die oog wat hierdie dinge moeiteloos doen.  Die lens van die oog fokus die  inkomende ligstrale skerp op die retina deur middel van  ‘n kring van spiertjies wat ontsaglik hard werk. Hierdie spiere beweeg sowat 100000 keer per dag om te  fokus, en dit sou  dieselfde effek gehad het op ons beenspiere indien  ons  elke dag  80 kilometer sou stap.

  Een van die mees onbegryplike wonders lê in die retina opgesluit. Dit is ‘n uiters dun lagie  weefsel  binne aan die agterwand van die oogbal, met ligsensitiewe selle aan die agterkant. Hoewel dit slegs ‘n oppervlakte van  ongeveer 6 vierkante sentimeter het, bevat dit ongeveer 137 miljoen ligsensitiewe  reseptore - 130 miljoen  stafies en 7 miljoen keëltjies. Die stafies  is oor die hele retina versprei en kan net lig en duisternis onderskei. Die keëltjies is gekonsentreer in  die sogenaamde geelvlek of fovea, wat die area op die  retina is waarmee ons die beste kan sien. Daar is drie soorte keëltjies, een soort om elkeen van die primêre kleure te kan onderskei.  Die brein meng hierdie afsonderlike kleure tot die bepaalde kleur wat ons waarneem.  Vêr weg van die geelvlek kan tot soveel as 100  stafies verbind wees aan ‘n senuweedraadjie, maar in die geelvlek  het elke keëltjie sy eie verbinding - derhalwe  is dit die area  van beste sig.

Die beginsel  waarop sig werk is ‘n manjefieke een. Die reseptore bevat een of ander ligsensitiewe kleurstof (In die stafies is dit rooi/pers rhodopsien). Sodra  lig daarop val dan ontbind dit en bleik terwyl dit ‘n  baie klein elektriese puls afgee -  in die orde van  ‘n mikrovolt, wat nie eers ‘n muskiet sal kan kielie nie. Hierdie puls of kode  word dan met die oogsenuwee na die visuele korteks van die brein  vervoer teen ‘n snelheid van ongeveer 500 kilometer per uur waarna die brein die seine verwerk in 2 millisekondes! Die bundel oogsenuwees wat van  elke oog na die brein beweeg bestaan uit ongeveer 1.5 miljoen senuweedraadjies, en dus ontvang die brein  gedurig van elke oog 1.5 miljoen seine tegelyk! Om die informasie  wat een oog in een sekonde ontvang te verwerk sal ons top-rekenaars vandag  tientalle van jare neem.! As die oogsenuwee uit telefoondraadjies moes bestaan sou dit maklik 60 tot 70 cm dik gewees het! Die visuele pers kleurstof word snags herverwerk en daarvoor het ons vitamien A nodig.

Wat merkwaardig is, is dat ons eintlik met ons brein “sien” en nie met ons oë nie! Daarom sien ons beelde as ons droom, sien ligvlekke as ons ons oë vrywe, of sien “sterre” as iemand ons op die kop slaan. ‘n Baie harde hou op die agtekop kan selfs ons sig permanent beskadig.

Die brein stoor nie rou data nie. Die brein probeer altyd om die inligting wat dit kry te verwerk tot iets  sinvols. Die oë kan nie ‘n toneel of ‘n voorwerp in een slag waarneem nie,  maar neem dit waar as ‘n opeenvolging van ‘n reeks beelde. Die brein vermeng hierdie beelde om deurlopende sig te gee.  Die oë sien net wat voor ons aangaan, maar ons is tog bewus wat agter ons aangaan - dis die brein wat daardie feite bybring. Die oë en die brein werk gedurig saam om onbelangrike inligting te verwerp en te fokus op belangrike detail. Daar vind ook voortdurende analise plaas en inligting word vergelyk met vorige inligting wat reeds in die brein gestoor is uit vorige ervarings.

Een interessante voorbeeld van hierdie verwerkings  van die brein kan gesien word uit die volgende: Wanneer ‘n vuurvliegie of ‘n motor se ligte by ons verbygaan trek die ligbeeld ‘n strepie op die retina en die oog interpreteer dit as beweging in ‘n sekere rigting. Wanneer ons egter ‘n bewegende voorwerp met ons oë volg, trek die lig van al die staande voorwerpe ook strepies op die bewegende retina. Die brein interpreteer dit nie as beweging nie, want ons sien dat die omgewing stilstaan!

Die  brein is ‘n meester met die interpretasie van wat ons oë rapporteer. Dit vul baiekeer ontbrekende dele in. Daarby word ons waarneming  sterk beinvloed deur ons  vorige  ondervinding. Daar is byvoorbeeld bewys dat klein katjies wat in ‘n omgewing groot word met net vertikale strepe rondom hulle, gladnie  horisontale strepe kan raaksien nie en andersom. ‘n Mens sien baiekeer ook net dinge wat jy wil sien.

Nêrens  begryp wetenskaplikes die wonder van sig meer as in die veld van  Kunsmatige intelligensie (Artificial Intelligence) se  subveld rekenaarsig (computer vision) nie. Een faset daarvan is die wye veld van patroon herkenning (pattern recognition) wat nodig is om beelde te interpreteer. Ons brein kan  byvoorbeeld verspot maklik ‘n kleuter tekening van ‘n huis en ‘n foto van ‘n huis albei korrek interpreteer as ‘n huis. So iets is nog buite die bereik van die rekenaar. Ek demonstreer dit graag aan die hand van die volgende eksperiment (Skyfie op truprojektor). U kon binne ‘n fraksie van ‘n sekonde die beeld  herken terwyl dit vir die rekenaar net ‘n  onherkenbare klomp donker en ligte  vlekke sou wees.

Vriende, ons gaan so onnadenkend om met hierdie wonderlike gawe wat ons ontvang het. Ons het geen begrip vir die donker wêreld van die blinde nie. Ons besef nie  hoe groot deel van ons lewens sal ineenstort as ons dalk ons sig moet verloor nie. Daarom wil ek u aanmoedig om met verwondering te dink aan u oë en wat dit vir u beteken en hulle  dienooreenkomstig goed te versorg. Wil u  nie vandag  hier uitgaan en ‘n klein verskil in die wêreld daar buite gaan maak, juis omdat u bevoorreg is om te kan sien  nie?

---000---

KPJ Nel

2016-02-12

 

 

 

 

 


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer