Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2016-02-12 Views:  466
Author:  karelnel
Published in:  Stories
Oupa Gert Se Stories - Selukwenyani - Deel 2

Oupa Gert se stories - Selukwenyani - Deel 2

 

“Kwennie kind,” vra sy en haar stem bewe. “Sê vir my, wat is dit.”

“Moeksie...” Haar stem is skor. “Moeksie dit is wat jy dink. Dit is vreeslik Ma. Ek gaan gek word. Wat kan ek tog doen?”

“Ag Heretjie tog, my kind, wat het jy gedoen? Waar – wanneer – wie?” borrel dit by haar uit. “Wie”, herhaal sy, “wie het dit aan jou gedoen?”

“Ek wil nie sê nie. Mamma gaan vreeslik kwaad wees. Ma sal nie verstaan nie. Dit is nie eintlik sy skuld nie – dit was sommer in ‘n oomblik van onbesonnendheid.” Sy frommel haar sakdoekie, en byt die een punt vas.

“Ek wou so graag kalm wees as ek vir Mams vertel, maar nou kan ek nie.”

“Wie, sê my wie het dit aan jou gedoen?”

Kwennie voel haar ma se wrewel en ontsteltenis aan.

“Sê my wie?” herhaal Miempie, “ek moet weet wie dit was.”

“Dis Kristoffel, Ma, maar, maar...”

“Kristoffel, die prinsipaal, maar kind, maar...?”

Miempie is uit die veld geslaan. Dis onmoontlik. Kristoffel, hulle huisvriend! Die prinsipaal by die tweemanskool! Die man wat nou al vir twaalf lange jare sy bedlêende vrou met liefde versorg! Die goeie Kristoff – hoofouderling – burgemeester? Nee, nee daar moet ‘n fout wees.

“Nou hoe kind,” soebat Miempie, “hoe het dit gebeur? Waar? Wat van sy vrou?”

“Vrou, Moeksie, vrou is sy nie! Sy’s ‘n sterwende mens. Vir lankal is sy nie meer ‘n vrou vir Kristoff nie – eerder ‘n sware las!”

Sy vee denkbeeldige krulle uit haar gesig.

“Sy is klaar dood Ma, en hy is ‘n man, net soos ek ‘n vrou is!”

“Sy is nog sy vrou, Kind, en jy kan hom nie van haar wegneem nie!”

“Ek weet, ek weet dit tog Moeks! Hy sal haar ook nie weggooi nie, want hy is lief vir haar.”

“Nou hoekom het hy dan – het julle dan...?”

Miempie sit soos ‘n ou vrou. Sy het haar arm teruggetrek en haar hande lê nou slap in haar skoot.

“Ek verstaan nie kindjie,” sê sy, “ek verstaan nie. Jy het dan altyd...!”

“Ek weet, Mamma, ek weet!” Sy sit koponderstebo, en vroetel met haar sakdoekie. “Ek kan nou nog skaars glo dat dit gebeur het. Kristoff self kan dit ook nog nie verwerk nie.”

“Nou sê jy my dan hoe en waar! Ek verstaan nie.” Haar stem het ‘n kilheid wat Kwennie nie ken nie.

“Dit was die aand na die skoolkonsert, Moeks.”

Vir die eerste keer kyk sy pleitend in Miempie se oë.

“Ons het alleen in die saal agtergebly om op te ruim. Ons was opgewonde, want die aand was so ‘n sukses. Ons het mekaar gelukgewens, en toe... Ag Moeks , ek weet nie wat gebeur het nie.”

“Nou wanneer was die konsert?” vra Miempie onnodig. Sy weet, want sy en Hentie was self daar.

“Twee maande terug. Dit was net gister twee maaande...!”

“Dan is jy seker...?” Die vraag hang in die lug.

“Ja Moekie, ja. Ek weet dit al van die begin af, want ek is lief vir hom, Ma.”

“Jy mag dit nie sê nie Kwen – jy mag nie eers daaraan dink nie!”

“Hoe kan ek tog anders, sê my tog?” Sy wring haar hande inmekaar. “Hy is alles wat ek in ‘n man begeer, en ek weet dat hy ook so oor my voel.”

“Het hy al so gesê, en weet hy dat jy – dat jy...?” Sy kan die woorde nie uitspreek nie. Sy kan dit nog nie aanvaar nie.

“Nee Moeks, hy vermy my sover moontlik. Elke keer wanneer ons alleen is, vra hy my weer en weer om verskoning vir sy gedrag daardie aand. Hy spandeer nou soveel tyd moontlik langs Anita se bed – net asof hy wil vergoed...!”

“En jy en Anita, hoe voel jy oor haar?” Kwennie huiwer voor sy antwoord.

“O, dit is die bitterste. Ek kom so min as moontlik in die kamer. Ag tog, Mams, ek kan haar nie in die oë kyk nie. Ek sal dit nie kan verwerk as sy dit moes weet nie.”

Miempie sien opregte berou in haar kind se oë, maar sy kan dit net nog nie aanvaar nie.

“Jy moes eerder daaraan gedink het,” verwyt Miempie, “daaraan en aan ek en jou pa, ons liefde vir jou.”

“Ag Moeks, ek weet Kristoff is ook lief vir my, maar julle ken hom ook. Hy is ‘n wonderlike, edel mens, en...”

“Hoe edel, Kind? Hoe edel as hy dan...?”

“Ag Moeks, verstaan tog. Dit was in een enkele oomblik van swakheid. Dit was asof die tamheid na al die spanning en harde werk vir die konsert in ‘n oogwink weg was. Ek dink ons was dronk van blydskap.”

“Wat nou, kind? Wat moet ons doen? Wat gaan ons vir Pappa sê?”

“Mams, hy moenie weet nie – nie nou al nie.” Sy hou Miempie se hande in hare.

“Asseblieftog, moenie vir hom sê nie. Miskien moet ek eers met Kristoff praat. Miskien is daar tog nog ‘n oplossing. Ek weet nie hoe nie, maar moet nog nie vertel nie?”

“Kom kind,” sê Miempie as sy opstaan, “kom ons gaan maak aandete. Miskien kry ek klaarheid as ek besig is in die kombuis, want my kop staan stil. Buitendien sal jou pa nou-nou hier wees.”

“Mams, ek gaan nie bly vir ete nie. Ek gaan ook nie vir die naweek bly nie. As ek Pappa sien sal ek aan’t huile gaan. Ek gaan terug De Rust toe. Dink maar ‘n verskoning vir my uit.”

Miempie sien die vasberadenheid. Sy weet dit sal nie help om teë te stribbel nie.

“Nou wag, dan sit ek gou vir jou ‘n paar stukkies biltong en beskuit in. Ek wil nie hê jy moet in die donker ry nie.”

Die afskeid is koel. Groot trane staan in Kwennie se oë, maar Miempie se gesig bly strak.

“Pas jouself op,” is al wat sy kan sê.

Oudergewoonte bly sy teen die stoeppilaar staan. Sy hou die rooi karretjie dop totdat dit stilhou in die nekkie tussen die twee koppe. Sy wag om te sien of Kwennie uitklim om die hek oop te maak, maar die kar bly net teen die skuinste staan.

“Seker probleme met die handrem,” sê sy hardop.

Dan, tot haar ontsteltenis, sien sy die kar begin agteruit loop. Dit gaan al vinniger en vinniger. Stofwolke slaan op as die kar die pad verlaat, en oor die afgrond verdwyn.

Miempie gryp haar kop vas en skreeu histeries terwyl sy vervaard deur die voorhekkie storm. Sy hoor ‘n dowwe knal en sien ‘n rookwolk uit die spoelsloot opstyg.

“Ag nee Here, nie dit nie. Asseblief, asseblief nie dit nie,“ bid sy hardop.

Haar oë is so verblind deur die trane dat sy nie eers Hentie se bakkie sien aankom van die landekamp af nie.

Sy strompel nog voort as Hentie langs haar stilhou en uitspring. Hy gryp haar vas en probeer haar kalmeer.

“Wat is dit vrou, wat doen jy? Waar hol jy heen?”

Die trane in haar oë laat hom besef dat iets ernstigs skeefgeloop het.

“Wat is dit tog? Sê my!” Effens hardhandig skud hy haar om haar tot haar sinne te bring.

“Dis Kwennie – dis my kind!” gil sy dit uit. “Sy’s dood. Kom ons moet ry!”

Hentie aarsel nog verdwaasd, maar dan stoot sy hom aan bakkie toe.

“Ry Hendrik, ry. Die spoelsloot by die grenshek. Asseblief tog, jaag. Kwennie...”

Hentie sien die rooksuil en besef dat iets ernstigs gebeur het. Die bakkiewiele skop stof op soos hy wegtrek. Miempie klou krampagtig vas aan die instrumentpaneel, en hou aan kerm: “Asseblief Here, asseblief Here.”

Voordat die voertuig stilstaan, spring sy uit, en hardloop na die kant van die afgrond. Sy kyk af na die inferno tien meter anderkant haar, en dan sak sy genadiglik in ‘n beswyming neer.

Hentie gly-val die spoelslootwalle af. Hy voel hoe die velle van sy elmboë en rugstring afgeskuur word. As hy in die bedding land, moet hy vinnig retireer. Die hitte is versengend. Magteloos sien hy hoe die bande brand – hoe ‘n stroompie vlammende brandstof in die sand insypel.

Dan sien hy die verfrommelde liggaam aan die anderkant van die wrak lê. Met sy hoed skuins voor sy gesig, hardloop hy soos ‘n besetene tussen die vlamme en die wal deur. Die vlamme lek aan sy klere. Maar met bomenslike uithouvermoë bars hy deur. Hy gryp die verwronge liggaam, en sleep haar tien-vyftien tree van die vlamme af.

Nog voordat hy haar neerlê, besef hy dat in hierdie slap liggaam nie ‘n greintjie lewe oor is nie. Hy laat haar op haar rug lê, haar gesig mooi soos altyd. Net ‘n straaltjie bloed loop by die mondhoek uit. Hy vee dit met sy sakdoek af en druk haar oë toe.

Dan dink hy aan Miempie. Laer af, waar die walle nie so hoog en regop is nie, klouter hy uit, en hardloop terug na die bakkie toe.

Miempie sit half-orent, elmboë op die knieë, met haar kop tussen haar hande. Hentie help haar op.  Sy lyk moeg en oud.

“Het sy ver...? Is sy...?” Sy kan die woorde nie uitspreek nie. Haar oë boor in Hentie s’n.

“Vrou, jy moet probeer sterk wees.” Hy druk haar teen hom aan. “Sy het uit haar kar geval toe dit rol, maar sy is..., sy het..., Ek dink sy het haar rug gebreek. Sy moes onmiddellik dood gewees het.”

Hy help haar inklim, en ry stadig huis toe. Daar klim sy willoos uit en laat haar kombuis toe lei.

Van die agterdeur af roep hy ou Lieta om by Miempie te kom bly, en bel dan die dokter op De Rust.

Hentie roep een van die plaasvolk. Hy laai ‘n kombers en ‘n ou plankdeur op en ry hartseer terug grenshek toe. In die spoelsloot hang die reuk van gebrande rubber swaar in die lug.

Sy skouers ruk van die rou snikke as hy die liggaam in die kombers toerol. Die swart werker hou net aan met kerm: “Au tog! Au tog, ons nonnie...”

Nadat die dokter weg is, sit Hentie en Miempie verslae by die kombuistafel. Ou Lieta sit nog voor die agterdeur en kerm snikkend oor hierdie ding wat gebeur het.

“Ek kan dit nie verstaan nie, vrou, ek kan dit nie verstaan nie!” sê Hentie.

Miempie sê niks en hy vra ook nie vir ‘n verduideliking nie.

“Ek het weer daar gaan kyk. Daar is geen remmerke nie. Die wiele is ook na die verkeerde kant toe gekrink. Dit lyk so of sy flou geword het toe sy wou uitklim.”

Hy vryf oor sy gesig en sê dan weer: ”Ek verstaan dit nie.”

Miempie laat haar kop sak. Tussen haar snikke deur, fluister sy saggies: “Ek verstaan, Kwennie, ek verstaan!...”

Nou, nadat die ergste pyn stil is, nou is dit net die Augustuswinde wat oor Bosplaas dwarrel. By die kamphek tel ou Vosbles telkens sy kop op en runnik verlangend huis se kant toe. Dan draai hy soos ‘n ou mens om om verder in die veld te gaan verlang.

Oor die rooi land spring ‘n dwarrelwind op. Dit jaag die tolbosse tot teen die fonteinkamp se heining. Dan suig dit die rooigrond in ‘n spiraal op totdat dit byna aan die wolke raak. Dit voer die stofsuil weswaarts tot by die hoë sipresse wat om die kerkhof groei.

Daar lyk dit asof die bome die dryfkrag agter die dwarrelwind breek, en die rooigrond val terug aarde toe.


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer