Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2016-02-13 Views:  682
Author:  karelnel
Published in:  History/Geskiedenis
Kernkrag - Ontwikkeling Van Kernreaktore In Ander Lande

Die ontwikkeling van Kernreaktore in ander lande

 

Vanweë  die geweldige omvang van Uraanverrykingsaanlegte het die Verenigde Koninkryk besluit om kragreaktore te bou wat slegs van natuurlike uraan gebruik sou maak.  Hulle het toe die basiese konsep wat Fermi in Chicago gebruik het, verder ontwikkel.  Hierdie gasverkoelde reaktore is heelwat groter as die drukwaterreaktore en die Britte moes heelwat in-situ vervaardigingstegnieke ontwikkel om die reuse reaktorvate mee te vervaardig.  Die Calder Hall-stasie, Brittanje se eerste kommersiële stasie, is op 17 Oktober 1956 deur Koningin Elizabeth ge-open, sowat 14 maande voordat die Shippingport reaktor in die VSA in bedryf gegaan het.  Hoewel die gasverkoelde reaktorkonsep goed ontwikkel is, en betroubare reaktore lewer, het die Central Electricity Generating Board (CEGB), Brittanje se elektrisiteitsnutsmaatskappy, besluit om 'n drukwaterreaktor, Sizewell B by Sizewell op te rig.  Formele veiligheidsondersoeke vir dié  aanleg het in 1982 'n aanvang geneem.

Na die Tweede Wêreldoorlog het die Commissariat  l' Energie Atomique (CEA) in Frankryk voortgegaan met die bou van drie grafiet-gemodereerde reaktore waarvan die grootste twee elke 40 MWe kon lewer.  Dit is opgevolg deur vyf groter industriële-skaal grafietreaktore, gebou deur Electricité  de France (EdF).  Vroeg in 1960 bou hulle egter 'n DWR naby die Belgiese grens, onder 'n Westinghouse lisensie.  Die reaktor se prestasie het die Franse so beïndruk dat hulle voorts besluit het om in geheel oor te skakel na drukwaterreaktore vir die toekomstige program.  Kernkrag het 'n groot stoot vorentoe gekry toe die Franse regering besluit het om slegs Kernreaktore in die toekoms te bou vir kragproduksie.  Dit het die Kernbedryf in staat gestel om 'n volledige vervaardigingsinfrastruktuur op te bou, met inbegrip van verrykings- en brandstofvervaardigingsaanlegte.  Die basiese Westinghouse konsep is deur die Franse aangepas, en enkele generasies van reaktore het reeds in Frankryk die lig gesien, sodat vandag se Franse drukwaterreaktore 'n eiesoortige karakter het.  As gevolg van die Franse regering se doelgerigte beleid oor die saak is Frankryk een van die leiers in die wêreld in die aanwending van kernkrag, en voer hulle selfs heelwat elektriese krag na ander lande in Europa uit.

Die Kanadese het in 1959 'n demonstrasie-eenheid voltooi by Rolphton, Ontario.  Dit was 'n oorspronklike konsep waar natuurlike uraan as brandstof en swaar water as moderator en koelmiddel gebruik is.  Hierdie konsep is verder ontwikkel tot die uiters suksesvolle CANDU-reaktore (Canadian Natural Uranium Denterium Reactor) wat in bedryf herlaai kan word.  Die produksie van swaar water op 'n kommersiële skaal was aanvanklik problematies, maar Kanada word die wêreld se grootste produsent daarvan.

Wes-Duitsland het ook 'n beduidende bydrae gemaak in die veld van Kernreaktore.  Beide die drukwaterreaktor en kookwaterreaktorkonsepte is in Duitsland ge-eksploiteer deur verskillende maatskappye naamlik AEG (KWR's) en Siemens (DWR's), aanvanklik onder Amerikaanse lisensie.  Onder die tradisionele Duitse ingenieursvernuf het die DWR-konsep so ontwikkel dat Duitse aanlegte baie gou 'n baie hoëstandaard van tegniese uitmuntendheid bereik het.  Dit het die Duitse aanlegte besonder duursaam gemaak, maar konkurrente beskou dit as 'n bietjie oordoen.  Die Duitsers het 'n verdere stap geneem ten einde aanlegkoste te bestry, en dit was 'n poging tot standardisasie.  Nie net is op standaard komponente en pypwerk besluit nie, maar 'n reeks reaktore, wat so na as moontlik aan identies moes wees, die sogenaamde Konvoi-reeks, is beplan.  Feitlik dieselfde ontwerp sou dus vir die hele reeks gebruik kon word wat die ontwikkelingskoste per eenheid dramaties sou verminder.  Die Duitse denke oor kernreaktore het 'n duidelik waarneembare invloed op die reaktorpraktyke in Europa uitgeoefen.

België  het ook redelik vroeg tot die bedryf toegetree.  Westinghouse het vanaf 1956 tot 1962 by Mol die klein drukwaterreaktor BR3 gebou en dit was die eerste DWR kragstasie wat in Europa in bedryf gekom het.  België  het daarna belê  in beide drukwaterreaktore en kookwaterreaktore, maar beweeg toenemend in die dampkring van die Franse reaktorverskaffers wat op drukwaterreaktore standardiseer.  Hoewel België  so 'n klein land is, het dit 'n aansienlike eie vermoë  vir die geniëring en oprigting van kernreaktore opgebou.

In die verre Ooste het Japan ook aktief tot die veld toegetree.  Aanvanklik is aanlegte onder Amerikaanse lisensie daar gebou (veral KWR's) maar later het Mitsubushi 'n uitstekende eie vermoë  om reaktore te bou.  Taiwan het ook tot die bedryf toegetree, hoofsaaklik deurdat Amerikaanse maatskappye gevra is om reaktore (DWR's en KWR's) in Taiwan te bou.

In die Sowjet Unie is Kernkrag ook belangrik.  Op 1 Julie 1954 het Pravda aangekondig dat 'n Kernkragstasie vier dae tevore in bedryf gestel is.  Dit was die 5 MW-aanleg (grafiet gemodereer, waterverkoel) wat by Obminsk gebou is.  Daarna het die Russe voorgegaan om ook hul eie DWR's en KWR's te bou.  Rusland se 440 MWe DWR is ook reeds na Poland, Hongarye, Roemenië , Bulgarye en Finland uitgevoer.  Tradisioneel was baie min bekend oor die Kernbedryf in Rusland totdat die reuse Tjernobyl ongeluk plaasgevind het (April 1986), waar die Internasionale Kerngemeenskap toegelaat is om hulp te verleen in die hantering van die gevolge van die ongeluk.

---000---

KPJ Nel

2016-02-12

 


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer